OU BOK

’n Bejaarde man vra sy vrou: “Laat dit jou nie sleg voel as jy soms sien ek hardloop agter jong meisies aan nie?”

“Nie in die minste nie,” antwoord sy, “ons hond jaag gedurig karre, maar daar is geen kans dat hy in staat sal wees om een te bestuur nie.”

WOLLIE, PRETORIA

RAAR MAAR WAAR

Ek het onlangs aan ’n interessante kompetisie deelgeneem om te sien wie die meeste gewig aangesit en wie die meeste hare verloor het. Ons het dit “skoolreünie” genoem.

DENISE, PRETORIA

SLIM ROMEINE

Dosent: “Wat was die heel grootste prestasie van die antieke Romeine?”

Student: “Seker om Latyn te kan praat.”

LIZA

SWAAR STRAF

’n Pa kla teenoor ’n kollega: “Toe ek ’n kind was en my ouers my wou straf, het hulle my na my kamer toe gestuur.

“Maar ek kan dit nie met my seun doen wanneer hy stout is nie, want in sy kamer het hy sy eie TV-stel, ’n rekenaar met ’n klomp speletjies, ’n selfoon en ’n CD-speler.”

“Hoe straf jy hom dan?” vra die kollega. “Ek stuur hom na my kamer toe.”

AREND KIRKMAN, ALBERTON

PYNLIK EERLIK

’n Man gaan vir ’n werkonderhoud.

Die baas vra: “Wat dink jy is jou slegste eienskap?”

“Ek is waarskynlik te eerlik,” antwoord hy. “Dit is nie ’n slegte ding nie,” sê die baas.

“Ek dink eerlikheid is ’n goeie eienskap.”

Toe sê die man: “Ek gee nie om wat jy dink nie.”

JOHANNA, BRAKPAN

WERFHOENDER

Jan kyk na die spyskaart en vra die kelner: “Sê my, hoe berei julle die hoender voor?”

“Ons berei hom op niks voor nie,” antwoord hy.

“Ons bekruip hom sommer van agter, en voor hy weet, is sy nekkie omgedraai.”

F.H. HORNE

VERGEEFSE POGING

As jy ’n meisie uitvra en die gesprek verloop so, moet jy weet sy hou nie van jou nie:

Jy: “Kan ek jou vir ’n drankie uitneem?”

Sy: “Ek drink nie.” 

Jy: “Laat ons iets te ete gaan kry.”

Sy: “Ek is op ’n dieet.”

Jy: “Goed, kom ons gaan stap ’n entjie vir vars lug.”

Sy: “Ek haal nie asem nie.”

DENISE, PRETORIA

DOL DEFINISIE

V: Wat is ’n staatsubsidie?

A: Dis wanneer jy ’n bietjie van jou eie geld terugkry.

LIZA

VURIGE VRYER

Sy: “Ek sal tot by die einde van die aarde gaan vir jou!”

Hy: “Gaaf! Bly dan asseblief sommer daar.”

LITA SCHOON

VREEMDE VERSKYNSEL

Oupa en ouma neem hul 10-jarige kleindogter na ’n restaurant waar die mure met plakkate versier is van rolprente uit die vorige eeu.

Die kind bly na ’n plakkaat staar van Superman in ’n telefoonhokkie.

Oupa vra vir ouma: “Weet sy dan nie wie Superman is nie?”

“Dit is nie dit nie,” antwoord ouma. “Sy weet nie wat ’n telefoonhokkie is nie!”

LOUISE NOETH

VIR DIE KLEINSPAN

V: Hoekom het die rekenaar by die skool gehuil?

A: Hy verlang na sy moederbord.

L. SAAYMAN, SABIE

NUWE GENERASIE

Toe ek klein was, het kinders nog gevra waar hulle vandaan kom.

Deesdae sê hulle sommer vir jou waar om heen te gaan.

F.H. HORNE

FATALE FOUT

Stefaans het die grootste fout van sy lewe gemaak.

Op sy sterfbed het hy gebieg oor al die misdade wat hy in sy lewe gepleeg het – en toe raak hy gesond.

LITA SCHOON

O VET!

’n Vet man aan ’n maer man: “As ek na jou kyk, lyk dit asof daar hongersnood in die land is.”

“En as ek na jou kyk,” sê die maer man, “weet ek waarom daar hongersnood is.”

HELENA, KEMPTON PARK

GELDBOOM

Seun: “Ma, kan ek R100 kry?”

Ma: “Seun, geld groei nie aan bome nie.”

Seun: “Waar kom geld vandaan?”

Ma: “Papier.” Seun: “En papier?”

Ma: . . .

JOHANNA, BRAKPAN

VEILIGE AFSTAND

Vriend: “So, hoe gaan dit met daardie langafstandverhouding van jou?”

Ek: “So ver, so goed.”

LEON KRUGER

NUWE WEERGAWE

Kinders speel nie meer wegkruipertjie op dieselfde manier as wat hul ouers dit gespeel het nie.

Deesdae doen hulle nie meer moeite om mekaar lank te soek nie. As hulle iemand nie kan kry nie, skakel hulle net sy selfoonnommer.

LOUISE NOETH

STRENG DIEET

Die ou hardloop na sy dieetkundige en sê: “Asseblief! Jy moet my help! Hierdie dieet waarop jy my gesit het, maak my vet en kort van draad. Gister het ek ’n ou se oor afgebyt.”

“O aarde,” sê die dieetkundige, “dis heeltemal te veel kilojoules vir jou!”

LITA SCHOON 

SMOORVERLIEF

Dolla: “Vertel my van jou nuwe kêrel. Ek hoor hy’s ’n werktuigkundige.”

Bella: “Ja, hy stuur vir my die mooiste teksboodskappe. Hy skryf byvoorbeeld: ‘My lewe sonder jou is soos ’n motor met ’n pap band, ’n renmotor sonder ’n enjin en ’n kruiwa sonder ’n wiel.’ ”

KASOEPIE

Stuur gerus oorspronklike grappies
  • Jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik.
  • Skryf aan Huisgenotjies, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bank­besonderhede (bank, taknaam, takkode en rekeningnommer).