NES ’N SKAAL

Ek het my skootrekenaar op die vloer in my slaapkamer gelos. Toe dink my ouma dis ’n skaal.

Die uiteinde van die saak? My ouma weeg R13 000.

– Johanna Rademeyer, Brakpan

NUWE NAAM

Die rapper 50 Cent het onlangs in Zimbabwe gaan toer. Maar daar moes hy sy naam verander na 400 Million Dollar.

– F.H. Horne, Hartenbos

DIS KRIEKET!

Die belangrikste deel van die Wêreldbekertoernooi vir die Proteas is die loot. Hoekom? Want dit bepaal of hulle met lopies of paaltjies gaan verloor.

– Denise, Pretoria

GEWIGTIGE PROBLEEM

Vrou: “Ek het 3 kg afgeskud. Het jy dit agtergekom?” Man: “As ek drie bladsye uit die telefoonboek skeur, sal jy dit agterkom?”

– F.H. Horne, Hartenbos

ONVERSTAANBAAR

’n Wyse man gee vir sy seun raad: “Die dag dat jy verstaan hoekom ’n pizza rond gemaak is, maar in ’n vierkantige boks verpak en in driehoeke geëet word . . . daardie dag sal jy ook vroue verstaan.”

– Dianne le Roux

KITSKUUR

As jy bang is dat jy gewig sal aansit, drink ’n sopie brandewyn voor ete, want daarna is jy vir niks bang nie.

– Maritsa Swart  

AFWESIGE PA

Die besige pa moet op ’n dag sy kind by die kleuterskool gaan haal.

Toe hy by die huis kom, sê hy vir sy vrou: “Jannie het die hele pad huis toe gehuil.

Is hy dalk siek of iets?”  “Nee,” antwoord sy vrou, “hy probeer jou net vertel hy’s nie óns Jannie nie!”

– Wollie, Pretoria

FLINK DINK

“Dit is nou al die derde keer vandeesweek dat jy laat is vir werk,” raas die baas met sy spitsvondige sekretaresse.

“Weet jy wat dit beteken?” “Seker dat dit vandag Woensdag is,” antwoord sy.

– L. Saayman, Sabie

NUWE DIAGNOSE

Ou Koos ly aan ipekonders, en vir hom is elke hoofpyn ’n dreigende beroerte.

Toe hy ’n pyn in sy linkersy ontwikkel, is hy seker dis sy blindederm.

Hy gaan klop dadelik by die dokter aan, maar dié verduidelik toe aan hom ’n mens se blindederm is aan jou regterkant.

“Dis hoekom dit so seer is,” hou Koos vol.

“My blindederm sit aan die verkeerde kant!”

– Louise Noeth

LIEFLIKE DROOM

Laas nag het ek gedroom van ’n lekker wandeling op ’n sanderige strand.

Helaas, dit verklaar die voetspore wat ek vanoggend in die kat se sandbak gekry het.

– Wollie, Pretoria

WONDERMUUR

V: Al ooit gewonder hoekom die Groot Muur van China as een van die wêreld se sewe mensgemaakte wonders beskou word?

A: Want dis die enigste produk wat in China gemaak is wat al so lank hou.

– Leigh, Johannesburg


SWAAR WERKLAS

Ek wou vir my baas sê om in die see te gaan spring, maar ek is bang hy sal dit ook aan my delegeer.

– Leon Kruger

VIR DIE KLEINSPAN

V: Wie was eerste in die bed: die hasie of die krokodil?

A: Die hasie, want hy hoef net twee tande te borsel.

– L. Saayman, Sabie

VREEMDE TOEVAL

As jy die dag nie op jou beste lyk nie, verhoog dit jou kans met 90% om iemand wat jy ken by die winkel raak te loop.

– Leon Kruger

SLAPELOOS

Stefaans gaan dokter toe omdat hy sukkel om saans aan die slaap te raak. “Hoor hier,” sê die dokter, “as jy van jou slapeloosheid wil ontslae raak, moet jy ophou om jou probleme saam met jou bed toe te neem.”

“Ek weet, dokter,” sug Stefaans, “maar my vrou weier om in die ander kamer te gaan slaap.”

– Lita Schoon

WETSGEHOORSAAM

Regter: “Hoekom het jy die kar gesteel?” Dief: “Ek moes by die werk kom.” Regter: “Hoekom het jy nie die bus gevat nie?” Dief: “Ek wou graag, U Edele, maar ek het nie ’n rybewys vir ’n bus nie.”

– Wollie, Pretoria

TAWWE TIENIE

Elke man wat ek ontmoet, wil my beskerm – ek kan net nie agterkom waarteen nie.

– Denise, Pretoria

Stuur gerus oorspronklike grappies
  • Jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik.
  • Skryf aan Huisgenotjies, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bankbesonderhede (bank, taknaam, takkode en rekeningnommer)