VREEMDE SKETE

Glo ware mediese aantekenings op verslagkaarte by ’n hospitaal in Mpumalanga:

  • Sy het nie sametrekkings of koors nie, maar haar man sê sy was gisteraand warm in die bed.
  • Pasiënt het borspyn wanneer sy langer as ’n jaar op haar linkersy lê.
  • Op die tweede dag was die knie beter; op die derde dag het dit verdwyn.
  • Die pasiënt is hartseer en huil aanhoudend. Dit wil voorkom asof sy ook depressief is.
  • Die pasiënt is depressief sedert sy my in 1993 begin sien het.
  • Ontslagstatus: Lewend, maar sonder my toestemming.
  • Die pasiënt het ’n outopsie geweier.
  • Die pasiënt het sy witbloedselle by ’n ander hospitaal gelos.
  • Hy het in die laaste drie dae net 40 kg aangesit.
  • Sy is verlam van haar tone af ondertoe.
  • Die vel was droog en klam.
  • Die pasiënt het wafels vir ontbyt en ’n anoreksie vir middagete gehad.
  • Hy lyk gesond vir 69. Verstandelik skerp, maar vergeetagtig.
  • Het met tye konstante, ongereelde hoofpyn.
  • Rektale ondersoek het skildklier van normale grootte getoon.
  • Sy was vir die grootste deel van haar lewe hardlywig tot sy geskei is.
  • Albei borste is eenders en reageer op lig en akkommodasie.
  • Die vel is ietwat bleek, maar ook teenwoordig.
  • Die pasiënt het twee tienerkinders, maar geen ander abnormaliteite nie.
  • Deserise Viljoen

KITSKUUR

Twee jong mans gesels in ’n kroeg. “Jy lyk uitgeput,” sê die een.

“Ja,” sê sy vriend, “ek is gedaan. Dis my nuwe meisie. Sy wil elke aand net kafoefel. Ek kan dit nie meer hou nie.”

’n Ou omie sit ’n entjie weg en hoor die gesprek. Met die jare se wysheid kyk hy na die twee en sê: “Trou met haar. Dit sal ’n einde aan jou probleem maak.”

  • Arend Kirkman

DIEREPLESIER

Gerrie staan in die dieretuin en lag by die hok van die laggende hiëna. “Wat gaan hier aan?” vra ’n verbyganger verbaas.

“O,” sê Gerrie, “ek vertel hom Mike Schutte-grappe.”

  • Kasoepie

KLINKENDE MUNT

Terwyl die man een oggend vir werk regmaak, vra sy vrou ernstig: “Skat, glo jy geld kan praat?”

“Ek het al so iets gehoor,” sê hy.

“Wel, wil jy nie vir my ’n bietjie daarvan hier los nie? Ek raak bedags baie eensaam.”

  • L. Saayman, Sabie

KYKSTOF

Die laaste keer toe ek en my vrou stry gekry het, was dit my skuld. Sy het vir my gevra: “Wat’s op die TV?”

Toe sê ek: “Stof!”

  • Lita Schoon

GROOT GIF

’n Mooi vrou gaan dokter toe. Nadat hy haar ondersoek het, verklaar hy: “Jy ly aan nikotienvergiftiging.”

“Maar ek rook nie,” sê sy.

“Ek weet, maar jy’s met ’n twak getroud,” antwoord die dokter.

  • Leon Kruger

GOEIE SKOONMA

Vrou: “Jy haat my familie.”

Man: “‘Nee, dit is nie waar nie. Om die waarheid te sê, ek hou meer van jou skoonma as van myne.”

  • Wollie, Pretoria
Kontak ons

Stuur gerus oorspronklike grappies; jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik.

Skryf aan Huisgenotjies, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bank­besonderhede (bank, taknaam, takkode en rekeningnommer).