NES SNEEUWITJIE

Maryke kyk vir die eerste keer die fliek Sneeuwitjie en die Sewe Dwergies saam met haar ma. Die nare ou koningin verskyn in ’n toneel as ’n ou vrou wat appels verkoop en Maryke raak skoon meegevoer.

Toe neem Sneeuwitjie ’n hap uit die gifappel en slaan net daar flou neer. Toe die appel wegrol, kyk Maryke vir haar ma en sê: “Sien, ma, sy hou ook nie van die skil nie.”

  • L. Saayman, Sabie

TOORDOKTER

Doors gaan dokter toe vir ’n onder­soek. 

“Hoeveel weeg jy?” vra die dokter.

“Omtrent 80 kg,” antwoord Doors.

“Klim ’n bietjie op die skaal sodat ons kan seker maak,” sê die dokter.

“Hm, 95 kg. Hoe lank is jy?”

“Twee meter,” antwoord Doors. 

Die dokter meet hom: “1,5 m. En nou jou bloeddruk. Rol jou mou op.”

Doors maak so en die dokter neem sy bloeddruk.

“Wel,” sê die dokter, “dis baie hoog.”

“Natuurlik sal dit hoog wees,” sê Doors verontwaardig. “Ek het lank en skraal hier in­gekom en nou’s ek kort en dik.”

  • Lita Schoon

ANDER WOORDKEUSE

As jy ’n nuwe werk kry voor jy die oue prysgee, sê hulle jy is verantwoordelik, maar doen jy dieselfde met jou vrou, verneuk jy haar. 

  • Denise, Pretoria

SJUUT!

Definisie van ’n geheim: Iets wat jy vir almal sê om vir niemand te sê nie.

  • Lettie

NUWE RAAISEL

V: Dit kos soveel soos ’n duur parfuum, maar ruik anders. Wat is dit?

A: 95 ongelood.

  • Simoné Bridges, Kroonstad

SWAARGEWIG 

Ek weeg myself op die badkamerskaal en trek my maag diep in.

Toe hoor ek my vrou lag en sê: “Ha-ha, dit sal niks help nie.”

Ek is heeltemal oorbluf, want dis tog al manier hoe ek my gewig op die skaal kan lees.

  • Wollie, Pretoria

PLATSAK 

Ek het vir my baas gesê my salaristjek is te klein. Nou druk hulle dit op ’n groter vel papier.

  • Jeanne du Toit, Swellendam

STERK VERBEELDING

Koos gee nie om wanneer sy vrou vir hom so kwaad is dat sy hom op die bank in die sit­kamer laat slaap nie; dit laat hom soos ’n avonturier voel wat in die veld kampeer, met ’n woedende leeuwyfie in die omtrek.

  • F.H. Horne, Hartenbos

OP EIE RISIKO

Koos: “Watter paddastoele is eetbaar?”

Piet: “Almal.”

Koos: “Almal? Regtig?”

Piet: “Ja, maar party kan jy net een keer eet.”

  • Denise, Pretoria

DROOMVAKANSIE

’n Prokureur en ’n ingenieur vang vis op ’n sonnige strand in Mauritius. Hulle is nog besig om vir mekaar te vertel hoe hulle die vakansie geniet toe die prokureur sê: “Ek is hier omdat my huis afgebrand het en alles in die brand vernietig is. Die versekering het vir alles betaal.”

“Dis nou toevallig,” sê die ingenieur. “Ek is hier omdat my huis en al my besittings in ’n oorstroming weggespoel het. My versekeringsmaatskappy het ook vir alles betaal.”

Die prokureur frons. Toe vra hy: “Hoe veroorsaak ’n mens ’n oorstroming?”

  • Louise Noeth

BLONDE OOMBLIK

Die meisie kla in die kroeg by ’n ou wat by haar aanlê: “Die mense dink altyd ek is dom omdat ek blond is.”

“Ag, ek steur my nie aan daardie storie nie,” troos die ou haar. “Kyk net na Marilyn Monroe.”

“Hoekom?” vra die blondine. “Is sy hier?”

  • Jeanne du Toit, Swellendam

DIE ANTWOORD

As jy vrae het, kan jy gerus na my huis toe kom. Ek het ’n tiener wat dink hy weet alles. 

  • Lettie

GOED NAGELAAT

Ou Koos lê op sy sterfbed en laat sy vrou en drie kinders roep.

“Ek het nou nie juis kontant om vir julle na te laat nie,” begin hy, “maar my liewe vrou, jy moet by die BMW-onderneming oorneem en daarmee aangaan.

“Sussa, jy moet die straler by die lughawe oorneem en daarmee aangaan,” sê hy vir sy dogter.

“My klein bulletjie, jy moet by die winkelsentrum oorneem en daar aangaan,” sê hy vir sy jongste seun.

“En, ouboet, jy moet by die selfoononder­neming oorneem en aangaan.”

Hulle almal sak op die vloer neer en begin bitterlik huil.

Die verpleegster staan nader om hulle te troos. Later sê-vra sy: “Sjoe, nou waarom al die trane? Julle gaan nie sukkel nie, julle is goed nagelaat.”

Toe antwoord almal: “Hy was die veiligheidswag by al daardie plekke.”

  • Adri, Pretoria

DURE LES

In die eerste twee jaar van ’n kind se lewe probeer ’n ouer hulle leer loop en praat.

En in die volgende 16 jaar wens jy hulle wil net stilsit en stilbly. 

  • Lettie 

GROOT VERSKIL

Gawie probeer twee motors verkoop, albei van dieselfde soort en jaar se model. Tog ver­skil hul pryse hemelsbreed.

’n Klant staan nader en vra waarom die een soveel duurder is.

“Daardie een het ’n vol tenk petrol,” sê Gawie.

  • Hendri Schutte

GEVAARTEKENS

Jy weet jy is in die moeilikheid as . . . jou rekenmeester se bedankingsbrief uit Zürich kom en jy jou makelaar sien duimry om uit die dorp weg te kom.

  • Wollie, Pretoria 

HOKAAI!

Ma: “Jannie, dis genoeg. Jy het nou al vyf snye koek geëet.”

Jannie: “Ma, as ek nie kan oefen nie, hoe verwag ma dat ek enige tafelmaniere kan leer?”

  • L. Saayman, Sabie

WIE LAASTE LAG . . .

’n Man kom laggend die polisie se aanklag­kantoor binne.

“My kar is gesteel,” sê hy.

“Hoekom lag jy dan?” vra die sersant.

“Want my skoonma sit agter in die kar.”

  • Jeanne du Toit, Swellendam

ANDERSOM GESÊ

Die mooiste woorde is: “. . . maar ek het jou lief.”

En die pynlikste woorde is: “Ek het jou lief, maar . . .”

  • Denise, Pretoria

MET PENSIOEN

Ek gaan aftree en van my spaargeld leef. Ek weet net nie wat ek die tweede week gaan doen nie.

  • Hester, Richardson

KLEIN WELDOENER

’n Klein meisietjie vra haar ma R5 om vir ’n ou vrou in die park te gee.

Haar ma is bly die kind wil minderbevoorregtes help en gee die geld vir haar.

Sy wil graag meer oor die arme ou vrou uitvind en vra vir haar dogter: “Het die vrou dan nie ’n werk nie?

“O, ja,” antwoord sy. “Sy verkoop lekkers.”

  • Arend Kirkman

RAAISEL

V: Waarom noem hulle die taal wat ’n mens as kind in jou ouerhuis aanleer jou moedertaal?

A: Want vaders kry selde kans om iets te sê.

  • Wollie, Pretoria

SPOEDIGE BETERSKAP

Die afgetrede oom Stefaans bied sy dienste as vermaakkunstenaar by die plaaslike hos­pitaal aan. Hy sing ’n paar snaakse liedjies terwyl hy hom op sy kitaar begelei en vertel ’n paar grappe langs die pasiënte se bed om hulle op te beur.

Een pasiënt bly knorrig. Toe Stefaans klaar is, groet hy die knorpot met: “Ek hoop jy word gou beter.”

Toe sê die pasiënt: “Ja, en ek hoop jy ook.”

  • Lita Schoon

JUISTE WOORD

Magda probeer ’n blokraaisel invul, maar sy haak vas.

“Koos, ek soek ’n woord met ses letters wat ‘ongerieflik’ beteken,” sê sy vir haar man.

“O, dis lastig,” sê hy.

“Ek weet,” roep Magda uit. “Dis waarom ek jou hulp nodig het.”

  • F. H. Horne, Hartenbos

DILEMMA

Ek is gekant teen betogings, maar ek weet nie hoe om dit te wys nie. 

  • Denise, Pretoria

ONDER VERDENKING

“En waar was jy heelnag?” vra die inbreker se vrou ontstoke toe hy by die huis kom.

“Die koerant sê niks van huisbraak nie.”

  • Leon Kruger

VIR DIE KLEINSPAN

V: Wanneer verskyn spoke gewoonlik?

A: Net voor iemand skree.

  • L. Saayman, Sabie

BOSGEVEG

Leeu is vreeslik kwaad vir Hiëna en slaan hom bloedneus terwyl Bobbejaan in die boom sit en alles bekyk. 

Ná die slae kla ’n seer en verontwaardige Hiëna: “Bobbejaan, ek is nou amper vrek geslaan en jy kom help my nie eens nie!”

“Jammer, ou broer,’’ sê Bobbejaan, “maar jy lag en giggel so, ek dog jy wen!”

  • L. Saayman, Sabie
Kontak ons

Stuur gerus oorspronklike grappies; jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik.

Skryf aan Huisgenotjies, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteits­nommer en bank­besonderhede (bank, taknaam, takkode en rekeningnommer).