WEGKRUIPERTJIE

V: Wat het die Proteakrieketspan en die son met mekaar gemeen?

A: Geeneen van hulle wil in Engeland gesig wys nie.

Johanna Rademeyer, Brakpan

TEKENS VAN DIE TYD

Die ouderdom begin jou inhaal wanneer: 

  • Jy en jou tande nie meer saam slaap nie. 
  • Jy word wakker en lyk soos die foto op jou rybewys. 
  • Om ’n “gelukkie op te tel”, beteken jy kry jou kar op die parkeerterrein. 
  • Jou idee van ’n aandjie uit is om op die patio te sit. 
  • “Happy hour” beteken ’n middagslapie. 
  • Wanneer jy met vakansie is en jou energie opraak voor jou geld. 
  • Dit neem langer om te rus as om moeg te word. 
  • Jou geheue is korter en jou klagtes langer.
  • Die name in jou adresboek begin meestal met “dr.” 
  • Die apteker word jou nuwe beste vriend. 
  • Dit neem dubbel so lank om die helfte so goed te lyk. 
  • Alles is seer; dit wat nie seer is nie, werk nie.
  • Jy het wel meer geduld, maar eintlik gee jy net nie meer om nie. 
  • Jy kry eindelik jou kop reg, maar nou begin jou lyf uitmekaarval. 

L. Saayman, Sabie

SUPERMA

’n Tiener verloor een van sy kontaklense terwyl hy in die agterplaas sokker speel. Nadat hy ’n uur lank vergeefs gesoek het, roep hy sy ma, wat dit gou-gou opspoor.

“Hoe het jy dit reggekry, ma?” vra die seun verbaas.

“Ons het nie vir dieselfde ding gesoek nie,” verduidelik sy.

“Jy het vir ’n klein stukkie plastiek gesoek; ek het vir die R500 gesoek wat ek daarvoor betaal het!”

Arend Kirkman, Alberton

RAAI, RAAI

V: Wat kan jy gee en terselfdertyd behou?

A: ’n Verkoue.

L. Saayman, Sabie

KNOEIWERK

Kennisgewing op ’n loodgieter se bakkie: “Ons maak alles reg wat jou man herstel het.” 

Wollie, Pretoria

NUWE WÊRELD

Ná ’n aandjie uit saam met haar nuwe kêrel sug Sanet met blink oë:

“Ek is so verlief . . . Willem is my hele wêreld.”

Maar haar ma het dié storie al te veel gehoor.

“Dis nou al jou derde wêreld in net ses maande,” snork sy.

“Wil jy ’n nuwe sonnestelsel bou, of wat?”

L. Saayman, Sabie

“Jy weet ek het ’n sagte plekkie vir jou ma. Daar buite in die tuin agter die motorhuis.”

UIT DIE BOEK

V: Wat neem bibliotekarisse saam met hulle wanneer hulle gaan visvang?

A: Boekwurms

Johanna Rademeyer, Brakpan

AKSIETONEEL

Ek ken ’n ou wat baie verveeld is met die lewe. As hy snags skape tel wanneer hy wakker lê, wens hy ’n jakkals wil onder hulle inspring om dinge interessant te maak.

Anton van Rensburg

WOEDEBUI

Elkeen blaas op sy eie manier stoom af:

  • Die rooibosteeboer praat teë.
  • Die loods is opvlieënd.
  • Die pluimveeboer raak die hoenders in.
  • Die visserman vaar uit.
  • Die skrywer raak by ’n woordewisseling betrokke.
  • Die skrynwerker is haaks met iemand.

F.H. Horne, Hartenbos

BLINK GEDAGTE

My baas: “Ek weet dit was jou idee, maar dit was my idee om jou idee te gebruik.”

Leon Kruger

FORTUINKOEKIE

’n Man neem sy vrou vir ete uit na ’n Chinese restaurant. Toe hulle klaar geëet het, maak hulle hul fortuinkoekies oop.

Op die vrou s’n staan daar: “Wees vir ’n ruk stil.“

En die boodskap op die man s’n lui: “Praat terwyl jy die kans het!”

Arend Kirkman, Alberton

STOUTE BOET

Klein Elsie huil asof haar hart wil breek.

“Wat is fout? Hoekom huil jy so?” vra haar ma.

“My pop! Bennie het my pop gebreek!”

“Hoe het dit gebeur, Elsie?”

“Ek het hom daarmee oor die kop geslaan.”

Louise Noeth

ONGELETTERD

Gert stop by ’n wegneemkafee vir ’n koeldrank en lees die spyskaart wat teen die agterste muur opgeplak is.

Langs die spyskaart sien hy ’n kennisgewing wat lui: “Fotospyskaart is ook op aanvraag beskikbaar.”

“Wat is die doel van ’n fotospyskaart?” vra hy die kelnerin.

“Dis vir mense wat nie kan lees nie,” antwoord sy.

“Maar hoe sal hulle weet dat daar so n’n spyskaart beskikbaar is?” vra Gert.

Toe beduie sy na die muur en sê: “Dis mos waarvoor die kennisgewing daar is!”

Louise Noeth

GEWONE STYL

Kallie gaan haarkapper toe. “Hoe moet ek dit sny?” vra die vriendelike barbier toe hy gaan sit.

“Af,” antwoord Kallie.

Anton van Rensburg

EWIGE JEUG

Die geheim om jonk te bly is om eerlik te leef, stadig te eet . . . en oor jou ouderdom te jok. 

Wollie, Pretoria

Stuur gerus oorspronklike grappies
  • Jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik.
  • Skryf aan Huisgenotjies, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bankbesonderhede (bank, taknaam, takkode en rekeningnommer)