GROOT WEDSTRYD

Kan iemand help? My vriend het ’n kaartjie vir die rugbywedstryd, maar dit val op sy troudatum.

Die kaartjie is al maande gelede gekoop. Hy wil weet of iemand in sy plek wil trou?

  • Hester, Namibië

WYSE RAAD

As jy die wêreld wil verander, doen dit terwyl jy nog enkellopend is.

Nadat jy getroud is, kry jy nie eens kans om ’n TV-kanaal te verander nie.

  • Wollie, Pretoria

SY WIL MOS!

Piet Pretorius en sy sekretaresse moet op ’n sakereis gaan. By die hotel aangekom, hoor hulle daar is net een kamer beskikbaar en hulle moet dit deel.

Die hotelbestuurder reël darem dat ’n tydelike afskorting tussen die twee beddens opgerig word.

Laat die aand nadat albei al ingekruip het, vra die sekretaresse: “Meneer, sal jy asseblief die venster toemaak? Dis baie koud.”

“Hoe lyk dit, juffrou Smit,” vra Piet, “sal jy daarvan hou om vanaand mev. Pretorius te wees?”

“Haai, meneer,” giggel sy, “dit sal nogal interessant wees.”

“Nou goed. Maak dan self die venster toe.”

  • A. Barnard

ETE VIR TWEE

’n Ou omie en sy vrou sit in ’n eetplek. Hy bestel ’n hamburger, pakkie skyfies en koeldrank.

Toe die kelner dit bring, haal die oom die hamburger uit die pakkie, sny dit versigtig middeldeur en sit die een helfte voor sy vrou neer.

Toe tel hy die skyfies sorgvuldig en verdeel dit presies in twee hopies. Hy sit die een hopie voor hom en die ander een netjies voor sy vrou neer.

Eers neem hy ’n slukkie van die koeldrank, toe neem sy ’n slukkie en sit die glas tussen hulle twee op die tafel neer.

Toe hy aan sy hamburger begin eet, begin die mense na hul kant loer en fluister.

Hulle wonder of die arme paartjie net een ete vir hulle albei kan bekostig. Toe die oom sy skyfies begin eet, stap ’n jong man na hul tafel en bied aan om vir hulle nog ’n ete te koop.

“Baie dankie, ons is oukei,” sê die oom. “Ek en my vrou is daaraan gewoond om alles te deel.”

Die mense kom agter die vrou het nog niks geëet nie. Sy sit net vir haar man en kyk terwyl hy eet, en af en toe neem sy ’n slukkie van die koeldrank.

Weer stap die jong man nader en vra die paartjie of hy nie tog maar vir hulle nog ’n ete kan koop nie. Hierdie keer skud die vrou haar kop en sê: “Nee dankie, ons is daaraan gewoond om alles te deel.”

Toe die ou man klaar geëet is en sy mond met die servet afvee, kom die jong man weer nader. Hy vra vir die vrou wat nog niks geëet het nie: “Nou waarvoor wag tannie dan?”

Sy antwoord: “Vir die tande.”

  • L. Saayman, Sabie

NARE WAARHEID

’n Pa koop ’n leuenverklikkersrobot wat jou klap wanneer jy jok. Die aand aan tafel vra hy vir sy seun: “Waar was jy vandag?”

“By die skool, pa.” Whap! klap die robot hom.

“Jy jok,” sê sy pa streng.

“Oukei, oukei. Ek het stokkiesgedraai en ’n DVD by die huis gekyk,” erken die seun.

“Watter DVD?’’ vra die pa.

“Toy Story 3,” sê die seun. Whap! Die robot klap hom weer.

“Oukei, ek het porno gekyk,” sê die seun en bloos bloedrooi.

“Toe ek jou ouderdom was, het ek nie eens van porno geweet nie,” raas die pa. Whap! klap die robot die pa.

Die ma lag en sê: “ ’n Mens kan sien hy’s jou seun.” Whap! klap die robot die ma.

  • Eloma Louw, Calvinia
Kontak ons

Stuur gerus oorspronklike grappies; jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik.

Skryf aan Huisgenotjies, ­Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bank­besonderhede (bank, taknaam, -kode en rekeningnommer).