ONTYDIG

Ouderdom kom op ’n baie slegte tyd. Net wanneer jy alles weet, begin jy vergeet wat jy weet. 

- Wollie, Pretoria

VOLLE WAARHEID

“As ek die dag dood is, sal mense wel die waarheid oor my uitvind,” spog die politikus. “Troos jouself daaraan,” sê ’n kollega, “dat jy dan buite gevaar sal wees.”

- Denise, Pretoria

NUWE MODEL

Koos vertel sy vriend Piet: “My pa het ’n nuwe motor probeer bou.”

“Hoe het hy dit gedoen?” wil Piet weet.

“Maklik,” sê Koos. “Hy het die wiele van ’n Toyota gevat, die enjin van ’n Lexus, die verkoeler van ’n Mercedes en die uitlaatpyp van ’n Mustang.”

“En toe, wat het hy gekry?” vra Piet baie belangstellend.

“Vier jaar.”

- F.H. Horne, Hartenbos

WERKSKU

Eerste ou: “Dink jy ooit aan werk by die huis?”

Tweede ou: “Ek dink nie eens aan werk by die werk nie.”

- Leon Kruger

DRUIPNAT

As jou vrou in die reën voor die deur staan en skree en jou hond staan in die reën en blaf, wie laat jy eerste inkom? 

Die hond, natuurlik, want hy gaan ten minste ophou blaf. 

- Denise, Pretoria

STAKING

“Het jy gehoor die personeel gaan al weer staak?” vra Piet.

“Hoekom hierdie keer?” vra Koos.

“Vir korter ure,” sê Piet.

“Ek sal saam staak,” sê Koos. “Ek het nog altyd gedink 60 minute is te lank vir ’n uur.”

- Lesna Saayman, Sabie

GEVAARTEKEN 

’n Motor se toeter word gebruik om ander teen gevaar te waarsku; dis seker dié dat ’n mens dit so dikwels by troues hoor . . .

- Wollie, Pretoria

BLONDE BOER

Die blondine wil boer en volg ’n kursus. 

In die eksamen word sy gevra: “Wat is die verskil tussen ’n bul, ’n koei en ’n os?”

Haar antwoord: “ ’n Bul is ’n bul en ’n koei is ’n bul se vrou. ’n Os is uitgeknip om ’n oujongkêrel te word.”

- San Marchand

WREDE OUPA

Gehoor van die Karooboer wat van kindermishandeling aangekla is?

Hy het sy plaas aan sy kleinseun bemaak.

- Leon Kruger

BLITSROMANSE

Jaap sien ’n pragtige nooi op ’n Kaapse strand in haar bikini lê en sonbaai. Hy stap nader en stel homself voor. 

Nadat hy ’n geselsie aangeknoop het, vra hy: “Wil jy nie saam met my gaan koffie drink nie?”

“Nee, ek het ’n kêrel,” antwoord sy.

“Dis nou jammer,” sê Jaap.

“Dis vreemd om te dink ek het al daardie miljoene rande, groot vakansiehuise oral in die wêreld en die nuutste Lamborghini, maar die liefde bly my ontwyk . . . ”

Toe sien hy haar oë skiet vol trane. “Nou hoekom huil jy?” vra hy.“Want ek en my outjie het pas uitgemaak,’’ snik sy.

- F.H. Horne, Hartenbos

MA SE LIEFIE 

“Wat het jy vandag alles by die skool geleer, liefie?” vra die ma toe sy die graadeentjie gaan oplaai.

“Dat my naam nie Liefie is nie.”

- Lesna Saayman, Sabie

  • Jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik.
  • Skryf aan Lag 'n Slag, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bankbesonderhede (bank, taknaam, takkode en rekeningnommer). 
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!