STILLE LYDING

Al wanneer ’n vrou in stilte ly, is wanneer haar selfoon stukkend is.

-Jimmie Botha, Waterval-Boven 

RONDE HUIS

Die man wil ’n nuwe huis laat bou, en die argitek kom bespreek die projek met hom.

Argitek: “Hoe moet die huis lyk?”

Man: “Rond.”

Argitek: “Ja, maar hoe moet die sitkamer ­byvoorbeeld lyk?”

Man: “Rond.”

Argitek: “En die kombuis?”

Man: “Rond.”

Argitek: “En die slaapkamers en die bad­kamer?”

Man: “Rond, alles rond.”

Argitek: “Maar wat van die gang, die dak, die stoepe?”

Man: “Ook alles rond.”

Argitek: “Maar, meneer, dit is tog onmoontlik om alles rond te maak. Hoekom wil jy alles so graag rond hê?”

Man: “Want ek het gehoor my skoonma sê vir my vrou: ‘Terwyl julle dan nou ’n huis bou, kan julle nie iewers vir my ’n hoekie vind waar ek kan intrek nie?’ ”

-Louise Noeth

WARE REDE

Het jy al ooit die gevoel gekry die eintlike rede vir verkiesings is om uit te vind of die menings­peilings toe reg was?

-Denise, Pretoria

SPANNENDE WEDSTRYD

’n Dokter het die Saterdagmiddag lekker voor die TV ’n rugbytoetswedstryd sit en kyk toe die telefoon lui. 

Oom Piet sê hy moet dadelik plaas toe kom, want hy dink sy ou broer Koos het iets oorgekom.

Vies klim die dokter in sy motor en ry plaas toe.

Daar aangekom, hoor hy dofweg die wedstryd word nog uitgesaai.

Oom Koos lê voor die TV, waar hy ’n hartaanval gehad het. 

Terwyl die dokter hom nog ondersoek, sien hy oom Piet hier langs hulle staan. Hy dra toe die tyding oor dat sy broer oorlede is.

“Ag, ja,” sug oom Piet, “nou is ou Koos ook dood, maar die Springbokke het darem gewen.”

-Leon Kruger

BLOMMETAAL

Winkelklerk aan baas: “Sal ons nie vir mev. Greeff ’n bossie blomme saam met haar bestelling stuur nie? Dis haar verjaardag.”

Baas: ”Ja, en stuur dan sommer ook ’n bossie vergeet-my-nietjies vir haar saam met haar rekening.”

-Helena, Kempton park

SPOOKSTEM

Verliefde kêrel: ”Liefie, soms wil ek jou laat in die nag bel om vir jou te sê hoe lief ek jou het.”

“Hoekom bel jy nie?” vra sy nooi.

“Daar is altyd ’n stem wat my keer,” verduidelik hy.

“Watter stem, my skat?” vra sy verbaas.

“Die stem wat sê: ‘You have insufficient airtime to make this call.’ ”

- Lesna Saayman, Sabie

NOODGEVAL

Kerneels bel die dokter: “Dokter, kom gou! Ek dink my vrou se blindederm gaan bars!”

Dokter: “Dit kan nie wees nie. Ek het voorverlede jaar jou vrou se blindederm uitgehaal. ’n Mens kan nie ’n tweede blindederm hê nie.”

“Dis seker so,’’ sê Kerneels, “maar ’n mens kán ’n tweede vrou hê.”

-San Marchand 

SUKSESRESEP

Ek vra eendag vir oupa: “Sjoe, ná 65 jaar van getroude lewe noem oupa ouma steeds ‘skatlief’, ‘engel’ en ‘liefling’. Wat is die geheim om so lank so gelukkig getroud te wees?”

Oupa antwoord: “Om die waarheid te sê: Ek het al vyf jaar gelede haar naam vergeet, en nou is ek te bang om haar te vra wat dit is.”

-Wollie, Pretoria

Stuur gerus oorspronklike grappies
  • Jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik.
  • Skryf aan Huisgenotjies, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bank­besonderhede (bank, taknaam, takkode en rekeningnommer).