LEWENSLESSE

Wat die ouderdom my geleer het:

  • Tyd is miskien ’n wonderlike geneser, maar dis ’n patetiese skoonheidsterapeut.
  • Vergeet van al die gesondheidskosse – jy het al die preserveermiddels nodig wat jy kan inkry
  • Wysheid kom nie altyd met die grysheid nie
  • Al mens wat jou regtig gereeld wil sien, is jou dokter.
  • Lita Schoon

TOEKOMSPLANNE

’n Juffrou vra die kinders in haar klas wat hulle eendag wil word. “Ek wil ’n miljoenêr word met ’n strandhuis in Saldanhabaai en ’n straler waarmee ek om die wêreld kan vlieg,” sê Kosie. 

“En ek wil na die duurste restaurante gaan en ’n sexy meisie saamneem. Ek wil haar ’n kredietkaart met ’n perk van R20 miljoen gee en die hele dag met haar kafoefel.”

Die juffrou is so geskok dat sy nie weet wat om te sê nie. Sy vra toe maar vir die volgende kind: “En jy, Sanet, wat wil jy word?” “Ek wil Kosie se meisie wees, juffrou.” 

  • Arend Kirkman, Alberton

VERSKRIKLIKE KWAAL

Die juffrou vertel haar klas Eva is uit een van Adam se ribbebene gemaak. Later die dag ­begin Jannie siek voel. "Nou wat makeer?” vra sy ma. 

“Ek het ’n pyn in my sy,” sê Jannie. “Ek dink ek gaan ’n vrou kry.”

  • Wollie, Pretoria

MELK EN WYN

Mans (wel, party) is soos rooiwyn: Hoe ouer, hoe beter. Party vroue is soos melk: Eers word hulle suur, en dan word hulle dik.

  • Helena, Kempton Park

GROOTBAAS

Piet: “Moenie my by die werk pla nie. Dis ’n belangrike pos; ek het 3 500 mense onder my.”

Koos: “Ag, Piet, moenie grootpraat nie. Jy sny gras in die begraafplaas.”

  • L. Saayman, Sabie

EIE BROUSEL

Ou Koos maak nou sy eie vonkelwyn: Hy gebruik net ’n bottel vaaljapie en ’n fietspomp.

  • Leon Kruger

LIEFDESRAAD

Eerste jong man: “Ek het al alles onder die son probeer om ’n meisie te kry.” Tweede jong man: “Probeer dit liewer onder die maan.”

  • L. Saayman, Sabie

VALS BESKULDIG

’n Verkeerskonstabel keer ’n man voor wat hy selfoon teen die oor sy motor sien bestuur.  “Weet jy dan nie dit is teen die padreëls om oor jou selfoon te praat terwyl jy bestuur nie?” raas hy. “Dit was my vrou,” verduidelik die bestuurder. “Ek het nie gepraat nie; net geluister.”

  • Stephanie Burger, Malmesbury

DOP EN DOEPA

Vrou: “Wil jy nie maar ophou drink nie?”
Man: “Goed, as jy sal ophou grimering dra.”
Vrou: “Maar ek gebruik dit sodat ek kan mooi lyk vir jou.”
Man: “En ek drink sodat jy kan mooi lyk vir my.” 

  • Wollie, Pretoria

OU BOK

Die 85-jarige oom Jan gaan dokter toe vir ’n ondersoek. “Alles lyk goed,” sê die dokter. “Ek is bly om dit te hoor,” sê oom Jan. “Sien, ek is verlede week met ’n meisie van 22 ge­troud.” “Sjoe, 22!” roep die dokter uit. “Maar oor 15 jaar sal oom 100 wees en sy 37.” “Ag,” sê oom Jan, “as ’n man lief is vir sy vrou, dan gee hy nie om dat sy oud word nie.”

  • F. H. Horne, Hartenbos