FLUKSE WEDERHELF

V: Wat is ’n man se idee van help met die huiswerk?

A: Terwyl hy in sy leunstoel voor die TV sit, lig hy sy voete op sodat jy daar kan stofsuig.

– Johanna, Brakpan  

DIEP GEDINK

’n Eksentrieke filosofieproffie stap die eksamenlokaal binne, tel sy stoel op sy lessenaar en lig die klas in dat die eksamenvraestel uit net een vraag bestaan: “Gebruik alles wat julle die afgelope semester geleer het om te bewys dat die stoel nie bestaan nie.”

Twee uur lank krap almal kop en skryf bladsye vol, behalwe een student wat ná ’n minuut opstaan en uitstap.

Toe die punte bekendgemaak word, is hy die enigste een met ’n A-simbool.

Sy antwoord het uit net twee woorde bestaan: “Watter stoel?”

– Helena, Kempton park

OP LEWE EN DOOD

“Jou lewe of jou geld,” gryns die rower.

“In hemelsnaam, neem my lewe,” kom die antwoord.

“Ek spaar my geld vir my oudag.”

– Leon Kruger 

G’N GEBLAF

V: Hoekom is daar geen honde op die maan nie?

A: Want daar is geen bome nie.

– Lita Schoon

BLONDE TOESKOUER

Blonde Kerneels kom halfpad deur die tweede helfte by ’n rugbywedstryd aan. Hy wil by een van die toeskouers weet wat die telling is.

“Nul-nul,” antwoord die man.

“O,” sê Kerneels, “en wat was die telling met rustyd?”

– Lita Schoon

NEE DANKIE

Koos: “Ek sal weier om saam te gaan Mars toe, al is dit ook die laaste plek op Aarde.”

– Kasoepie 

SUKSESRESEP

Bart, ’n suksesvolle sakeman, besluit hy wil sy kennis met die jeug deel en neem ’n ambisieuse jong man onder sy vlerk.

Sy en Wimpie se gesprek verloop toe so:

Wimpie: “Wat is die geheim vir die sukses wat oom behaal het?”

Bart: “Regte besluite, ou seun.”

Wimpie: “Ja, maar hoe leer ’n mens om die regte besluite te neem?”

Bart: “Ondervinding, ou seun.”

Wimpie: “Dis seker so, oom, maar hoe doen ’n mens ondervinding op?”

Bart: “Met die verkeerde besluite, boet.”

– Anton, Bellville 

LAASTE SÊ

’n Vrou het die laaste sê in enige rusie. Enigiets wat ’n man daarna sê, is die begin van ’n nuwe rusie.

– Johanna, Brakpan 

GEHEIME WELDOENER

Jan: “Wat is vir jou die grootste plesier wat daar is?”

Vannermerwe: “Om in die stilligheid ’n goeie daad te doen en dan te sorg dat mense per ongeluk daarvan uitvind.”

– Leon Kruger 

EIE SMAAK

Tiener aan ’n verkoopsvrou: “Ek is mal oor hierdie rok, maar kan ek dit kom omruil as my ma ook daarvan hou?”

– M.J Bartlett, Vrede 

LIGSPIKKEL

Sannie: “Jannie is die lig van my lewe.”

Haar pa: “Dan is jou lewe maar donker.”

– Leon Kruger

RY OF BLY

As jy iets liefhet, laat dit gaan.

As dit terugkom, is dit vir altyd joune. As dit nie terugkom nie, was dit nie vir jou bedoel nie.

Maar as jy dit laat gaan en dit sit steeds op jou rusbank, eet jou kos op en krap jou huis om, dan is jy óf daarmee getroud óf jy het die lewe daaraan geskenk.

– Helena, Kempton Park 

LANG TOG

V: Hoekom het Moses-hulle 40 jaar lank in die woestyn rondgedwaal?

A: Dit is nou maar eenmaal so dat mans nie stop om aanwysings te vra nie.

– Kasoepie 

MOEILIKE JARE

“Hoe oud is jy nou, seun?” vra die besoeker.

“Oom, dit is ’n moeilike ouderdom,” sug die seun.

“Hoekom?”

“Ek is te oud om te huil, maar te jonk om te vloek!”

– Hendri Schutte, Viljoenskroon 

DWARSKLAP

’n Man probeer op ’n partytjie by ’n vrou aanlê.

“Het ek jou nie al voorheen iewers ontmoet nie?” vra hy.

Sy antwoord: “Ja, dis hoekom ek nie meer soontoe gaan nie.”

– Lita Schoon 

Kontak ons
  • Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.
  • Stuur gerus oorspronklike grappies; jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik.
  • Skryf aan Huisgenotjies, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bank­besonderhede (bank, taknaam, takkode en rekeningnommer).
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.