LIEFLIKE DROOM

V: Wat noem jy dit as jou salaris die hele maand hou? 
A: Jou verbeelding.

  • Hester, Namibië

TIK-TOK

V: Wat het die digitale horlosie vir die staanhorlosie gesê?
A: Kyk, oupa, geen hande nie.

  • M. van Bergen, Kaapstad

FLINK DRINK

’n Man stap by ’n kroeg in en bestel 12 biere. Hy begin dadelik om hulle so vinnig moontlik weg te slaan. “Hoekom drink jy so vinnig?” vra die kroegman.

“Jy sou net so vinnig gedrink het in my posisie,” antwoord die ou. “En wat is dit nogal?” wil die kroegman weet. “Ek het nie geld nie.”

  • Louise Noeth   

SWAK EKONOMIE

V: Wat is die verskil tussen ’n ekonoom en ’n ander arm mens?
A: Die ekonoom weet hoekom hy arm is. 

  • Denise, Pretoria

MAKIETIE

Vrou: “Ek wonder wat so ’n geraas maak hier in die buurt.”
Man: “Ek dink dit is ’n verjaardagpartytjie.”
Vrou: “O, lekker. Ek wonder wie s’n?”
Man: “Ek dink dit is Tuyu se partytjie.”
Vrou: “Wie de joos is Tuyu, en wat laat jou dink dit is Tuyu s’n? Hoe ken jy haar?”
Man: “Ek het hulle hoor sing: Happy birthday, Tuyu.

  • Willie, Viljoenskroon

WIE’S VOLGENDE?

“Een ding wat ek nie kan verdra nie,” sê Marie vir haar vriendin, “is wanneer ou tannies op troues vir my vertel dit kan volgende keer my beurt wees.

“Dis nie ’n probleem nie,” antwoord haar vriendin. “Al wat jy moet doen, is om op ’n begrafnis dieselfde vir hulle te sê.”

  • Louise Noeth

BESOEKTYD

Een gevangene vra die ander: “Kom jou familie jou soms in die tronk besoek?” “Nee,” antwoord sy maat, “hulle is almal hier.”

  • L. Saayman, Sabie

LANG WAG

’n Baie bejaarde egpaar beland eindelik in die skeihof. “Nou hoekom wil julle ná ’n huwelik van 70 jaar skei?” vra die regter. “Ons het gewag tot al die kinders dood is,” kom die antwoord.

  • Arend Kirkman, Alberton

DUUR PLESIER

Doors besluit hy wil begin visvang. Hy koop die toerusting en sit af viswaters toe. Ná die uitstappie sit hy in die kroeg en bekla sy lot teenoor Koos.

“Visvang is darem verskriklik duur,” sê hy. “Ek het R500 vir die visstok betaal,  R500 vir die katrol en nog R500 vir al die ander los goed wat ’n mens nodig het. En daar vang ek toe net een vis. Daardie vis  kos my R1 500.” “Haai, Doors,” sê Koos, “dis vreeslik.

Ook maar goed jy’t nie twee visse gevang nie.”

  • San Marchand   

TROUMAN

Betta vertel ’n vriendin twee mans maak vir haar ogies. “Ek wens ek kan hulle kombineer,” sug sy. “Johan is ryk, slim en aantreklik en Piet wil met my trou.”

  • Kasoepie

LASTIGE GESKENK

Het julle gehoor van Koos wat ’n nuwe boemerang vir sy verjaardag gekry het? Hy probeer al twee dae om sy ou ene weg te gooi.

  • M. van Bergen, Kaapstad

SLEGTE VANGS

Die juffrou vra: “Pietie, dink jy Noag het baie visse gevang terwyl hy in die ark was?” “Nee, juffrou,” antwoord Pietie. “Hoe kon hy as hy net twee wurms gehad het?”

  • Lita Schoon

PYNLIKE PEILING

Vrou aan haar seuntjie: “Dink jy ek is ’n slegte mamma, Freek?” Seuntjie: “My naam is Johan.”  

  • Denise, Pretoria

LEKKERBEK

Een aand aan die etenstafel sê ’n vrou vir haar man: “Toe ons pas getroud was, het jy die kleinste stukkie vleis gevat en vir my die groot stuk gegee. Nou vat jy die grote en gee vir my die kleintjie. Is jy dan nie meer lief vir my nie?”

“Natuurlik is ek nog lief vir jou,” verseker hy haar, “maar jy is nou ’n baie beter kok.”

  • Louise Noeth

TOEKOMSVISIE

Onderwyser: “Wat is die toekomstige tyd van  ‘Ek maak ’n dief dood’?”
Leerling: “Jy gaan tronk toe.”

  • Arend Kirkman, Alberton

KITSMILJOENÊR

’n Boer wen R10 miljoen in die Lotto. “Wat gaan jy met al die geld doen?” vra sy buurman. Die boer krap kop en sê: “Ek sal seker maar aanhou boer tot daar niks meer van die geld oor is nie.”

  • Louise Noeth

KLAPPERTAND

Die dokter vra die bejaarde pasiënt: “Het jou tande geklap toe jy die toeval kry?”
Ou oom: “Ek weet nie, dokter. Ek het nie so opgelet nie, want my tande het langs my op die bedkassie gelê.”

  • H. Vermeulen, Paarl

MUSIKALE MUIS

Koos stap in ’n kroeg in. Hy haal ’n muis te voorskyn en sit hom op die toonbank neer. Die muis begin O Sole Mio sing. “Wil jy hom nie verkoop nie?” vra een van die verbaasde klante. “Goed, jy kan hom vir R2 kry,” sê Koos, en die transaksie word net daar beklink.

“Is jy laf,” sê die kroegman vir Koos nadat die singende muis saam met sy nuwe baas daar uit is. “Jy kon baie meer vir hom gekry het.” Koos skud sy kop. “Nee, die muis kan net in Italiaans sing.”

  • Kasoepie

NES DIE SON

Koos sien ’n mooi meisie op ’n partytjie en probeer by haar aanlê. “Wil jy nie die son in my lewe wees nie?” vra hy.
Hy kan skaars sy geluk glo toe sy antwoord: “Ja, seker.”

Maar toe voeg sy by: “Ek sal sorg dat ek 149 miljoen kilometer van jou wegbly.”

  • F.H. Horne, Hartenbos

MIERNES

Juffrou: “ ’n Enkele mierkoningin kan tot 2 miljoen eiers lê.”
Sannie: “Sjoe, juffrou! En ’n getroude een?”

  • F.H. Horne, Hartenbos

NUWE KUIERPLEK

Hoe weet jy dat jy begin oud word? Wanneer jy nie meer jou pelle in die kroeg raakloop nie, maar in die apteek.

  • Bredel Viljoen

KROEGMOLES

Ou Van vat die pad met sy bakkie noordwaarts deur Afrika en kom op die ou end in Engeland uit. Daar besluit hy om iets in ’n kroeg te gaan eet. Terwyl hy sit en eet, kom drie Hells Angels ingestap.

Die eerste een druk sy vinger in Van se bier en gaan sit by die toonbank. Die tweede een breek ’n stuk van Van se vleispastei af en sluit by sy maat aan. Die derde ou keer sommer ou Van se hele bord om en gooi sy bier uit.

Sonder om ’n woord te sê staan ou Van op en verlaat die kroeg. “Nie veel van ’n man nie!” sê die een Hells Angel vir die kroegman. “Ook nie veel van ’n bestuurder nie,” sê die kroegman. “Hy’t nou net met sy bakkie oor drie motorfietse gery.”

  • L. Saayman, Sabie
Kontak ons

Stuur gerus oorspronklike grappies; jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik.

Skryf aan Huisgenotjies, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bank­besonderhede (bank, taknaam, takkode en rekeningnommer).