LANG MINUTE

As ’n vrou sê: “Klaar in vyf minute,” en ’n man sê: “Ek sal binne vyf minute tuis wees,” dan bedoel hulle presies dieselfde ding.

  • Denise, Pretoria 

LAAT IN DIE LUG

Die vliegtuig was op pad na die aanloopbaan toe dit skielik tot stilstand kom, omdraai en na die beheergebou terugry.

Ná ’n uur vertrek die vliegtuig eindelik. In die lug vra ’n passasier ’n vlugkelner wat die vertraging veroorsaak het.

“Die vlieënier was bekommerd oor ’n geluid in een van die enjins,” antwoord sy, “en dit het ons ’n rukkie geneem om ’n ander vlieënier in die hande te kry.”

  • L. Saayman, Sabie

NUUSTYD

Die nuus is wanneer hulle begin met “Goeiedag”, maar dan voortgaan om jou te vertel hoekom dit nie is nie.

  • Wollie, Pretoria

ANDER UNIFORM

Piet kom hoog in die takke uit die kroeg gestap en loop in ’n man in uniform vas. “Bestel vir my ’n huurmotor,” sê Piet aan die vreemdeling.

“Dink jy miskien ek is die hotel se portier?” snou die man hom toe. “As jy jou oë oopmaak, sal jy sien ek is ’n vlootoffisier.”

“Uitstekend,” sê Piet. “Bestel dan vir my ’n oorlogskip.”

  • Leon Kruger 

TROTS SUID-AFRIKAANS

Nadat Russiese wetenskaplikes tot ’n diepte van 100 m gegrawe het, vind hulle koperkabels wat van 1 000 jaar gelede dateer en kom tot die gevolgtrekking hul voorouers het toe al ’n telefoonnetwerk gehad.

Amerikaanse wetenskaplikes laat nie op hulle wag nie, grawe 200 m diep en vind 2 000 jaar oue veselstof. Daaruit lei hulle af hul voorouers het al 1 000 jaar voor die Russe telefone gehad, en boonop was dit gevorderde digitale fone.

Daarna grawe wetenskaplikes in Suid-Afrika ’n gat van 500 m diep en kry niks.

Hul gevolgtrekking?

Ons voorouers was die Russe en die Amerikaners ver voor, want 5 000 jaar gelede het hulle al selfone gebruik.

  • Arend Kirkman

SOEKER

Vrou: “Ek gaan winkels toe. Wil jy iets hê?”

Man: “Ek is op soek na die doel van die lewe; iets wat my rigting kan gee. Ek wil in voeling kom met my innerlike self. Ek wil my siel en wese ontdek, en kalmte en rustigheid ervaar.”

Vrou: “Reg, maar wees spesifiek: brandewyn of bier?”

  • Wollie, Pretoria

LOOPBAANKEUSE

Pa: “Kosie, het jy al gedink wat jy gaan doen wanneer jy klaar is met matriek?

Kosie: “Ek oorweeg ’n loopbaan in georganiseerde misdaad.”

Pa: “In die privaat sektor of die regering?”

  • F.H. Horne, Hartenbos 

NUWE INSIG

Klaas en sy vrou maak rusie.

Woedend sê sy: “Ek het eers die grond aanbid waarop jy loop, maar nou het ek van geloof verander.”

  • San Marchand

VERLORE STRYD

Elke keer dat ek gewig verloor, vind ek dit weer in die yskas.

  • Lita Schoon

EWE SKULDIG

Piet en Koos is die enigste landdroste op ’n klein dorpie. Toevallig word hulle albei op dieselfde dag in ’n spoedlokval gevang. Pleks daarvan om ’n buitestander te betrek, kom hulle ooreen om mekaar se sake aan te hoor.

Piet gaan staan in die beskuldigdebank, erken skuld, en Koos gee hom ’n opgeskorte vonnis. Daarna ruil hulle plekke om. Koos erken ook hy het te vinnig gery, maar toe beboet Piet hom met R2 500.

Hy’s woedend. “Ek gee vir jou ’n opgeskorte vonnis, maar jy beboet my,” raas Koos.

Piet kyk hom streng aan en antwoord: “Dit is die tweede geval wat ons vandag hier het. Iémand moet die jaagduiwels vasvat.”

  • Hester, Namibië

KATTEKWAAD

Drie knapies word in die dieretuin vasgetrek omdat hulle kattekwaad aanvang. Die beampte sleep hulle na die kurator.

Streng vra hy die eerste outjie: “Wie’s jy en wat het jy gedoen?”

Ewe onskuldig antwoord hy: “My naam is Chris en ons het peanuts in die olifant se hok probeer gooi.”

Die tweede outjie knik en laat hoor: “My naam is Piet, en soos Chris gesê het, ons het peanuts in die olifant se hok probeer gooi.”

“En jy?” wil die kurator van die derde outjie weet.

Bleek geskrik en in ’n bewerige stemmetjie antwoord hy: “My naam is Jannie, maar my vriende noem my Peanuts.”

  • L. Saayman, Sabie

ERG, ERGER . . .

Marie en Sanet ry bus en kom agter ’n man sit stip na hulle en staar.

Ná ’n ruk sê Marie: “Jy weet daar is net een ding wat vir my erger is as ’n ou wat so na my sit en staar.”

“En wat is dit?” vra Sanet.

“ ’n Ou wat so na jóú staar.”

  • F.H. Horne, Hartenbos

KAAL BUURMAN

“Dis vandag te warm om klere te dra,” sê die man vir sy vrou toe hy onder die stort uitkom.

“Wat dink jy sal die bure sê as hulle my so sien gras sny?”

“Seker dat ek met jou vir jou geld getrou het,” antwoord sy.

  • San Marchand

GEVAARLIKE ASEM

Wat het die mense gesê van die hond wat aan knoffel verslaaf was?

“Sy blaf is erger as sy byt.”

  • Helena

SUIWER WETENSKAP

Lig trek vinniger as klank. Dit is dié dat party mense intelligent voorkom tot jy hulle hoor praat.

  • Denise, Pretoria 

NAGMERRIE

Hans gaan soek hulp by ’n psigiater. Toe dié hom vra wat skort, begin hy vertel: “Ek kry aanhoudend hierdie droom waarin ’n halfdosyn beeldskone meisies by my kamer instorm en my klere begin afstroop.”

“Wat doen jy dan?” vra die psigiater.

“Ek stoot hulle weg.”

“Ek sien. Nou wat wil jy hê moet ek vir jou doen?”

“Ek wil hê jy moet albei my arms breek.”

  • San Marchand

DUIWELSTREKE

’n Ma raas met haar seuntjie omdat hy nie sy spinasie wil eet nie: “Wag maar, vannag sal jy sien die ou duiwel sal met jou kom afreken,” dreig sy.

Dié nag begin dit vreeslik reën, met donderslae en bliksemstrale. Die ma raak bekommerd oor haar seuntjie en wil gaan kyk of die storm hom nie bang maak nie. Maar hy is nie in sy slaapkamer nie.

Nadat sy oral in die huis gesoek het, kry sy hom in die spens waar hy besig is om sy spinasie te eet. Kort-kort prewel hy: “So ’n duiwelse lawaai, en dit oor ’n bietjie spinasie.”

  • Leon Kruger

MYNE OF JOUNE?

Hy: “Jou plek of myne?”

Sy: “Albei. Jy gaan na joune toe en ek na myne.”

  • Lita Schoon

LASTIGE FOON

Die telefoon lui by die ontvangstoonbank, maar die nuwe ontvangsdame wend geen poging aan om dit te antwoord nie.

“Gaan jy nie daardie foon antwoord nie?” wil die bestuurder van die maatskappy weet.

“Nee wat, dit sal nie vir my wees nie,” antwoord sy. “Niemand weet ek het vandag hier begin werk nie.”

  • Louise Noeth

GULDE GELEENTHEID

Dokter: “Drink jy gereeld of per geleentheid?”

Koos: “Ek drink per geleentheid, maar die geleentheid kom gereeld.”

  • Wollie, Pretoria

VINKEL EN KOLJANDER

Ons seuntjie vertel ons daar is twee maatjies by die skool wat eenders lyk. Ons sê toe hulle is waarskynlik ’n tweeling.

Die volgende dag kom hy opgewonde by die huis en sê: “Raai wat? Hulle is nie net ’n tweeling nie; hulle is broers!”

  • Denise, Pretoria 

SAKPAS

Doors is by die tandarts en wil weet hoeveel dit sal kos om twee verstandtande te laat trek.

“R800,” antwoord die tandarts.

“R800!” kreun Doors. “Dis ’n bietjie kwaai. ?Is daar geen manier waarop jy dit goedkoper kan doen nie?”

“Wel, as jy nie verdowing kry nie, kan ek dit vir R600 doen.”

“Dis steeds te duur.”

Die tandarts krap sy kop. “Goed, as ek die verdowing uitlos en die tande sommer met ’n tang uitruk, kan ons wegkom met R200.”

“Dis steeds te veel.”
“Wel, as laaste uitweg kan ek een van my studente kry om dit ter wille van die onder-vinding te doen. Op dié

manier sal dit jou net R100 kos.”

“Dis beter,” sê Doors. “Maak dan ’n afspraak vir my vrou vir volgende Maandag.”

  • Lita Schoon

ERNSTIGE KWAAL

’n Man wat na drank ruik, kom in die trein ingeslinger en val op die sitplek langs ’n priester neer. Die man se hemp is gevlek, sy gesig met lipstiffie besmeer, en ’n drankbottel steek by sy baadjiesak uit.

Hy haal ’n koerant uit sy ander sak en begin lees. Ná ’n paar minute draai hy na die priester en vra: “Sê my, vader, wat veroorsaak artritis?”

Die priester antwoord afkeurend: “Dit word veroorsaak deur ’n losbandige lewe, te veel drank, deur met slegte vroue om te gaan en geen respek vir jou naaste te hê nie.”

“Nou toe nou,” sê die man.

Die priester dink later sy antwoord aan die man was dalk ’n bietjie kras. “Ek is jammer as dit geklink het of ek jou veroordeel. Sê my, hoe lank ly jy al aan artritis?” vra hy.

“O, dis nie ek wat dit het nie,” sê die man. “Ek lees hier in die koerant die pous het baie las daarvan .”?

  • Louise Noeth

SALIG ONBEWUS

As jy dood is, sal jy dit eers nie besef nie, maar die mense om jou sal weet. Dieselfde geld as jy onnosel is.

  • L. Saayman, Sabie

PA SE TROTS

Jan en Piet sit op die stoep toe Piet se seun met ’n hoender onder die arm daar aankom.

“Waar kry jy daai hoender?” vra Piet.

“Ek het hom gesteel, pa,” antwoord sy seun.

Toe draai Piet na sy vriend Jan en sê: “Dis nou een ding van my seun; hy steel miskien, maar lieg nooit.”

  • Eugene Felix, Saldanha
Deel jou grappies met Huisgenoot
  • Stuur gerus oorspronklike grappies; jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik; of
  • Skryf aan Huisgenotjies, Posbus 1802, Kaapstad 8000; of
  • Stuur 'n e-pos aan grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bank­besonderhede (bank, taknaam, takkode en rekeningnommer).