Super Smash Bros. Ultimate

Nintendo Switch
Super Smash Bros. Ultimate. Foto: Verskaf.

Smash Bros. is ’n vegspeletjie soos geen ander nie en voldoen aan sy Ultimate-etiket deur nuwe vegters en arenas by te voeg. Dit bevat boonop elke vegter en arena wat al in ’n Smash Bros.-speletjie gesien is sedert die eerste uitreiking op Nintendo 64 in 1999.

Dit is meer as 100 arenas en 76 vegters. Aanhangers se gunstelinge, soos Mario en Pikachu, is almal hier, omring deur die uiteenlopende karakters van speletjies oor die jare – almal van Solid Snake van die Metal Gear Solid-speletjies tot nuwelinge soos die Inklings van Splatoon en King K. Rool van Donkey Kong Country.

Dit hou nie daar op nie: Die enkelspelermodus, World of Light, laat spelers meer as 1 000 “geeste” versamel wat hul karakters krag gee en honderde ure se speelgenot bied. Die oorvloedige inhoud en waarde maak Smash Bros. ’n moet vir enige Switch-eienaar.

Pokémon: Let’s Go Pikachu! en Let’s Go Eevee!

Nintendo Switch
Pokémon: Let’s Go Pikachu! Foto: Verskaf.
Nintendo Switch
Pokémon: Let’s Go Eevee! Foto: Verskaf.

Pokémon se eerste verskyning op die Switch is ’n eerbetoon aan aanhangers van die oorspronklike Pokémon Red-, Green- en Yellow-speletjie. Die Kanto-gebied word pragtig in hoëdefinisie en volkleur weergegee, maar is meer as ’n suiwer nabootsing van die oorspronklike speletjies.

Die lukrake gevegte met Pokémon, wat elke drie treë jou vordering stuit, is vervang deur dieselfde metode om Pokémon vas te trek as in die uiters suksesvolle Pokémon GO-selfoonspeletjie. Jy kan nou die wilde Pokémon buite sien en die speler kan besluit watter om te vang.

Moenie bekommerd wees nie; die gevegte is steeds daar in die vorm van ander Pokémon-afrigters wat skaars kan wag om hul Pokémon se krag teen joune te toets.

Die oorspronklike Gym Leaders kan ook weer geklop word en daar is eindstryduitdagings soos The Elite Four. En as dit nie genoeg is nie, kan jy altyd jou krag teen ander spelers aanlyn toets. Let’s Go! is ’n goeie plek vir nuwe spelers om te begin en ’n wonderlike dosis nostalgie vir Pokémonveterane.

New Super Mario Bros. U Deluxe

Nintendo Switch
New Super Mario Bros. U Deluxe. Foto: Verskaf.

Kom ons wees eerlik: Die Wii U het nie juis die wêreld aan die brand gehad toe dit uitgereik is nie, al het dit van die beste Nintendo-speletjies ooit gehad. Gelukkig vir dié wat nie ’n kans gehad het om van die geliefde Wii U-titels te speel nie, lyk dit of Nintendo wil seker maak die beste van daardie speletjies kry ’n gehoor op die Switch.

New Super Mario Bros. U (NSMB) is so ’n titel en Nintendo se beste 2D-platformspeletjie in jare. Jy kry die hele speletjie asook New Super Luigi U.

NSMB is ’n fees om te speel, maar kry in vierspelermodus lewe. Met vier karakters op die skerm kan dit chaoties wees, maar dit is in samespel (en soms teen mekaar) waar die speletjie regtig skitter. ’n Moet vir aanhangers van Mario (en Luigi) en enigiemand wat dit geniet om met vriende in speletjies saam te werk.