G’N PRET

“Hoe was die rit deur die liefdestonnel?” vra die pretparkeienaar ’n kêrel en sy meisie ná die tyd. “Verskriklik,” sê die kêrel. “Ek wil my geld terughê.” “Nou hoe dan so?” “Iemand het die lig afgeskakel en ons kon niks sien nie.”

  • Koen, George

KANTOORPARTYTJIE

V: Wat is die definisie van dronkenskap?

A: Wanneer jy jou baas op ’n werkgeselligheid vra waar hy werk.

  • Wollie, Pretoria

GOEIE VERSKONING

As jy veronderstel was om aan jou tone te raak, sou hulle aan jou knieë gesit het.

  • Philip Bartlett

SELLE OU STORIE

Ek het op my man se kleuterskoolrapport van 30 jaar gelede afgekom. Daarop staan: “Die seun is baie sosiaal en hy eet, slaap en speel baie.”

Net mooi niks het verander nie.

  • A. de Kock

REGTE NAAM

Koos neul al hoe lank by sy vrou oor ’n boot wat hy wil koop, maar sy bly vasskop. Een oggend kom sy van die haarkapper, en sowaar: Daar staan ’n boot voor die huis.

“Liefie, ek het gedink omdat ek dit nou klaar gekoop het, kan jy maar die ou bootjie ’n naam gee,” probeer Koos haar paai. Toe hy daardie middag die boot wil aanhaak en dam toe sleep, sien hy sy vrou het klaar die naam groot op die kant geverf: “Te koop.”

  • F.H. Horne, Hartenbos

BLONDE BOODSKAP

Ek het ’n blondine in die poskantoor gesien wat op ’n koevert skree. Toe ek haar vra wat sy doen, antwoord sy: “Kan jy nie sien nie? Ek stuur ’n stempos.”

  • Wollie, Pretoria

HARTLIK WELKOM!

Hansie verwelkom sy ouma met ’n drukkie. Hansie: “Ek is so bly ouma het kom kuier. Nou moet pappa net daardie truuk doen waarvan hy so baie praat.”

Sy ouma: “Watter truuk is dit, my skat?” Hansie: “Daardie een waar hy teen die mure uitklim as ouma weer kom kuier!”

  • Lita Schoon

NUWE REKORD

’n Gholfspeler slaan van die eerste bof af, maar ongelukkig land die bal tussen ’n klomp bome. Hy sien darem ’n opening waardeur hy dink die bal sal kan trek. Hy gryp sy gholfstok en slaan dit so hard as wat hy kan, maar dit skiet teen ’n boomstam op, bons terug en tref hom op sy voorkop.

Hy slaan net daar dood neer. Toe hy by die hemel aankom, vra die wag by die hemelpoort: “Is jy ’n goeie gholfspeler?” “Natuurlik,” antwoord hy. “Dit het net twee houe gekos om tot hier te kom!”

  • Louise Noeth

OORLOGSPLAN

Twee Israeli’s in Jerusalem bekla hul lot teenoor mekaar oor die hoë lewenskoste, die voortdurende prysstygings en hoë belasting. “Kom ons maak oorlog teen Amerika,” stel die een voor. “As hulle wen, dan maak hulle met ons soos met al die gebiede wat hulle verower:

Hulle gee kos en geld vir nuwe paaie, hospitale en om die land weer op te bou.” “Nee, wat,” kla die ander Israeli. “Met ons geluk sal ons die oorlog wen!”

  • Kasoepie
Deel jou grappies

Stuur gerus oorspronklike grappies; jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik.

Skryf aan

Lag ’n Slag, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com

Verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bankbesonderhede (bank, taknaam en -kode en rekeningnommer)