WYSHEDE

  • Kinders raak ’n ouer se gesondheid: As hulle nie ’n pyn in die nek is nie, is hulle ’n knop in die keel.
  • Jy is wat jy eet; eet dus net ryk kosse.
  • Niks is onmoontlik vir mense wat dit nie self hoef te doen nie. SOuers glo aan oorerflikheid . . . tot hul kinders dwaashede begin aanvang.
  • San Marchand

NUWE GRAFSKRIF

Die nuwe weduwee laat die woorde “Rus in vrede” op haar man se grafsteen aanbring. Maar kort daarna vind sy uit hy het al sy geld aan sy skelmpie nagelaat. Sy vra toe die grafsteenmaker moet die bewoording daarop verander, maar hulle verduidelik dis onmoontlik. Toe vra sy: “As julle nie die woorde kan verander nie, voeg dan by: ‘Tot ons weer ontmoet.’ ”

  • Louise Noeth

KORRELKOP-KOLLEGA

’n Paar juwele uit werkevalueringsverslae: SHy sal selfs met ’n padteken redeneer. SHy het die vermoë om gou vreemdelinge te maak. SHy bring vreugde waar hy ook al die vertrek verlaat.

  • Denise, Pretoria

GROOT TOEVAL

Onderwyser: “Henk, maak vir my ’n sin met die woord ‘toevallig.’ ” Henk: “My pa en ma is toevallig op dieselfde dag getroud.”

  • San Marchand

TWEE BONDELS VREUGDE

Die nuwe pa hardloop uit die kraamsaal na waar die res van die familie wag en skree: “Ons het ’n tweeling!” “Na wie lyk hulle?” vra een. Die pa lyk verward. Toe sê hy: “Mekaar!”

  • F. H. Horne, Hartenbos

LEKKER LEWE

Jou eerste jaar op universiteit is die beste twee jaar van jou lewe.

  • Anoniem, Stellenbosch

SLIMJAN

Jannie kom van die skool af en vertel: “Hei, ma, ek het vandag 100% gekry.” Ma: “Dis wonderlik. Waarvoor het jy dit gekry?” Jannie: “Veertig persent vir lees en 60 vir spel.”

  • Lita Schoon

DUUR KUIERS

Die skoolhoof kondig aan: “Die meisieskoshuise is verbode vir die seuns. “As jy daar gevang word, kry jy ’n boete van R50 vir die eerste oortreding. As jy weer gevang word, is dit R100, drie keer R150, ensovoorts. “Verstaan julle? Enige vrae?” ’n Stem kom van agter in die saal: “En wat kos ’n seisoenkaartjie?”

  • Hester, Namibië

LASTIGE SKOONMA

Toe San van die werk af kom, lê haar man, Koos, luilekker op die rusbank en TV kyk. “Jou ma het vandag ’n paar keer hier aangekom,” sê hy. San: “Wat wou sy hê?” Koos: “Sy wou hê ek moet die deur vir haar oopmaak.”

  • Wollie, Pretoria

DROOMWERK

Die voornemende joernalis gaan vir ’n werkonderhoud. “Hoeveel is 1 en 1?” vra die nuusredakteur. “Elf.” “H’m,” dink die nuusredakteur. “Gee my twee dae van die week.” “Gister en môre.” “H’m,” dink die nuusredakteur. “Wie het Hendrik Verwoerd vermoor?” “Jammer, ek’t geen benul nie.”

“Dan stel ek voor jy gaan eers huis toe en vind uit.” Die kêrel haas hom na sy pelle waar hulle sit en koffie drink. “Hoe het dit met die onderhoud gegaan?” vra hulle. “Fantasties. Ek is nog nie eens aangestel nie, en ek moet reeds ’n moordstorie skryf.”

  • Org Potgieter

NARE WAARHEID

Ná die erediens groet die nuwe predikant die lidmate by die deur. ’n Vrou is baie verleë. “‘Dominee, verskoon tog dat my man gedurende u preek uitgestap het.” “Ek het gewonder of hy siek voel,” sê die predikant. “O, nee!” antwoord die vrou. “U moenie daaroor sleg voel nie. My man loop al sedert sy kinderdae in sy slaap.”

  • Denise, Pretoria 

HOË PRYS

Kallie en Mike kuier in die wildtuin. Kallie wil vir sy vrou ’n beursie van slangvel koop, maar skrik toe hy sien dit kos R500. Toe hy en Mike by die winkel uitstap, sien hulle ’n luislang sluk ’n man in. Net sy kop steek uit. “Sjoe,” sê Mike. “Dink net wat daai ou vir sy slaapsak betaal het!”

  • F.H. Horne, Hartenbos

LIEFSTE LIEFIE

Die man sit en TV kyk en hoor sy vrou uit die kombuis roep: “Wat wil jy eet, liefie? Hoender, bees of skaap?” “Ek sal van hoender hou,” skree hy kombuis se kant toe. Sy skree terug: “Sjarrap, jy kry sop. Ek praat met die kat!”

  • Org Potgieter

KITSKUNSTENAAR

Klein Koos moet tydens ’n tekenles by die skool ’n hond teken wat besig is om hondebeskuitjies te vreet. Skaars het sy onderwyser hom die opdrag gegee of Koos sit tevrede agteroor en kondig aan: “So ja, ek is klaar.” Die onderwyser kom kyk na sy tekening.

“Koos, ek sien dan geen hondebeskuitjies nie,” sê hy. “Dis omdat die hond dit so gou opgevreet het, meneer,” antwoord hy. “En waar is die hond?” vra die onderwyser. “Hy’t weggehardloop toe hier niks meer kos is nie.”

  • L. Saayman, Sabie

HAASTIGE BLONDINE

“Hoekom eet jy jou stuk koek so vinnig?” vra die blondine se vriendin. “Want ek is op ’n kitsdieet,” antwoord sy.

  • L. Saayman, Sabie
Deel jou grappies
Stuur gerus oorspronklike grappies; jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik. Skryf aan Lag ’n Slag, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bankbesonderhede (bank, taknaam, -kode en rekeningnommer).