WYNGEHEIM

Die geheim om ’n goeie wyn te geniet lê daarin om die bottel oop te maak en dit te laat asemhaal. Maar as dit lyk of dit nie asemhaal nie, moet jy mond-tot-mond-asemhaling toepas!

  • Wollie, Pretoria

BROEDERLIEFDE

Die Sondagskoolonderwyseres behandel die Tien Gebooie met haar klas van vyf- en sesjariges.

Nadat sy die gebod “Eer jou vader en jou moeder” verduidelik het, vra sy: “Is daar ’n gebod wat ons leer hoe ons ons boeties en sussies moet behandel?”

Sonder om te huiwer antwoord Maansie: “Jy mag nie doodslaan nie.”

  • lita schoon

MET ’N ANGEL

Jors moes ’n verslag vir die direksie skryf. ’n Kollega wat ’n oog op sy pos het, wens hom toe geluk met die woorde: “Jou verslag is baie goed. Wie het dit vir jou geskryf?”

Jors is nie links nie en kap terug: “Baie dankie vir jou positiewe kommentaar. Maar wie het dit vir jou gelees?”

  • Lita Schoon

RAMMELKAS

Piet: “Hoe kry jy dit reg om sonder ’n spoedmeter te ry?”

Koos: “Maklik. Teen 15 km/h begin my modderskerm ratel, teen 25 km/h ratel die ruite en teen 35 km/h ratel ek!”

  • Leon Kruger

KITSOPLOSSING

’n Tiener moet ’n mangeloperasie ondergaan en is baie benoud oor die prosedure. Op pad hospitaal toe vra sy: “Pa, hoe gaan hulle my mond oophou gedurende die operasie?”

“Hulle gee jou ’n selfoon,” antwoord hy.

  • Hester, Namibië

GROEIPYNE

V: Wanneer groei ’n kind die vinnigste?

A: Die eerste maand nadat jy sy nuwe skoolklere gekoop het.

  • L. Saayman, Sabie

BLINK PLAN

Piet koop ’n diamantring vir sy vrou vir haar verjaardag. Toe sy vriend van dié duur geskenk hoor, sê hy: “Ek dog sy wou een van daardie sportiewe nutsvoertuie gehad het.’’

“Ja, sy wou,’’ antwoord Piet, “maar waar koop ‘n mens ’n nagemaakte 4x4?’’

  • F.H. Horne, Hartenbos

VOLLEERD

Pa: “Wat is die twee moeilikste dinge wat jy op universiteit geleer het?”

Seun: “Hoe om ’n bierbottel met my tande oop te maak en hoe ’n mens ’n sigaret met net een vuurhoutjie in die Suidooster aansteek.”

  • L. Saayman, Sabie

SONDE MET DIE BURE

’n Skot trek by ’n woonstelblok in Johannesburg in. Ná ’n maand of wat kom sy ma vir hom kuier. “Hou jy van jou bure?” wil sy weet.

“O nee, hulle is baie raserig. Die een links van my is aanhoudend besig om teen die mure te stamp en hou net nie op nie. En die klomp aan die ander kant skree gedurig tot laat in die nag.”

“Ai, my kind, hoe hou jy dit met sulke mense uit?”

“Ag, ma, dis eintlik nie so erg nie. Ek ignoreer hulle net en hou aan om my doedelsak te speel.”

  • Louise Noeth

BLONDE TYDVERDRYF

V: Hoe hou jy ’n blondine ure lank besig?

A: Gee haar ’n vel papier met die woorde “Blaai om, asseblief’’ aan albei kante geskryf.

  • Bianca Lombaard