FLUKS OF FEEKS?

Die vrou kla: “Ek het eelte aan my hande van die besem.”

Man: “Gebruik volgende keer maar liewer die kar.”

  • Wollie, Pretoria

GELUKKIGE KERSDAG

Van: “Mike, het jy geweet Kersfees val vanjaar op ’n Vrydag?”

Mike: “Kom ons hoop dis nie die 13de nie!”

  • Wollie, Pretoria

ONGELOWIGE KOOS

’n Ligte vliegtuig se enjin raak onklaar en die vlieënier besluit om ’n noodlanding ter see uit te voer.

“Moenie die deur oopmaak nie,” waarsku hy die passasiers.

“Die vliegtuig sal dryf tot die nooddienste ons bereik.”

Almal bly sit behalwe Koos. Hy spring op, hardloop na die deur toe en begin daaraan rem.

“Wat doen jy?” skree die vlieënier. “Ek het mos gesê die vliegtuig is ontwerp om te dryf.”

“Wel, hy’s ook ontwerp om te vlieg,” antwoord Koos, “en kyk net hoe het dit verloop.”

  • F.H. Horne, Hartenbos

IDEALE BEROEP

Twee pa’s gesels. “Wat wil jou seun word?”

“Hy weet nog nie, maar ek is seker hy gaan ’n kelner word.”

“Hoekom sê jy so?”

“Want hy kom nooit wanneer ek hom roep nie.”

  • M. Theyse, Villiers

SALIG ONBEWUS

Tieners besef nie dat hulle eendag net so min soos hul ouers gaan weet nie.

  • Hendri Schutte, Potchefstroom

BESTE VRIEND

Daar is eindelik ’n onteenseglike bewys dat vroue slimmer is as mans. En die bewys? Diamante is ’n vrou se beste vriend, en ’n man se beste vriend is . . . sy hond.

  • F.H. Horne, Hartenbos

IDEALE VROU

’n Goeie vrou inspireer ’n man, ’n mooi vrou fassineer hom, ’n briljante vrou interesseer hom, maar ’n simpatieke vrou kry hom.

  • Kasoepie

TAALLES

“Piet, hoe gaan dit met jou Duitslesse?” vra sy pa.

“Dit gaan goed. Ek kan al ‘goeiemôre’ en ‘dankie’ sê.”

“Genugtig. Dit is meer as wat jy in Afrikaans kan sê.”

  • Hendri Schutte, Potchefstroom

DANKIE, OUMA

Die ma is al moeg daarvoor om haar kinders daaraan te herinner om bedankingsbriewe aan hul ouma te stuur vir hul Kersgeskenke.

Sy is baie verbaas toe die ouma bel en vertel: “Vanjaar het die kinders anders gemaak. Hulle het my in lewende lywe kom bedank.”

“Ek is bly,” sê die ma, “maar ek wonder wat hulle so laat besluit het.”

“O, dis maklik,” sê die ouma. “Ek het vanjaar net nie hul tjeks onderteken nie!”

  • F.H. Horne, Hartenbos

HAAN ONDER DIE HENNE

Op pad huis toe ná ’n partytjie vra die vrou haar man: “Het iemand jou al ooit vertel dat jy aantreklik, sexy en onweerstaanbaar is vir vroue?”

Die man voel vreeslik gevlei en sê laggend: “Nee, my skat, niemand het nog nie.”

Toe gil sy vrou: “Nou wat de duiwel het jou vanaand op die partytjie daardie idee gegee?” 

  • Denise, Pretoria 

GRAFDANS

My skoonma het vir my gesê: “Ek gaan eendag op jou graf dans.”

Toe sê ek: “Dans gerus! My as word in die diepsee gestrooi.”

  • F.H. Horne, Hartenbos

TWEEGESPREK

Soms praat ek met myself, dan lag ons albei daaroor.

  • Helena, Kempton Park

HOE NOU GEMAAK?

V: Wat is ’n dilemma?

A: Dit is wanneer ’n omgewingsbewaarder sien ’n bedreigde dier eet ’n plant wat selfs nog meer bedreig is.

  • L. Saayman

SLAKKEPAS

Twee slakke wag op die stoep.“Kom ons steek die pad oor,” sê die een.

“Is jy gek!” roep die ander een uit. “Volgende week kom hier ’n bus verby. Ek gaan nie my lewe op die spel plaas nie.”

  • Denise, Pretoria

ENE ONSKULD

Die advokaat begin met haar slotbetoog, haar laaste poging om die beskuldigde vrygespreek te kry: “U Edele, ek wil u vertel van dié man.

"’n Mens kan soveel oor hom sê wat goed is. Hy het nooit sy ma geslaan nie, hy was altyd goed teenoor klein kindertjies, hy is ’n sprekende voorbeeld van alles wat eerlik en opreg is. Almal is lief vir hom en . . .”

Die beskuldigde leun oor na die advokaat se assistent en sê: “Hoe laaik jy daai merrie? Ek betaal haar goeie geld om my te verdedig en sy tune die regter oor ’n ander ou."

  • Louise Noeth

SELFDE PROBLEEM

Om te trou is soos om te gaan uiteet: Jy bestel wat jy wil hê, en wanneer die kos kom, wens jy jy het liewer bestel wat die ou langs jou gekry het.

  • L. Saayman, Sabie

MODERNE WEERGAWE

’n Sondagskooljuffrou vertel haar klas die verhaal van Adam en Eva en vra hulle moet ’n tekening daaroor maak.

Sy is baie verbaas toe sy sien ’n seun het ’n motor geteken met drie figure daarin.

“Wie is dit?” vra sy hom.

“Adam en Eva sit agter,” verduidelik die knaap, “en die engel dryf hulle uit.”

  • Gerald Jonas

EERSTE LIEFDE

Die 10-jarige Jannie skraap sy moed bymekaar, stap na sy klasmaat Marie en sê: “Marie, jy’s my eerste liefde.”

“Ai,” sug Marie, “al wat ek nou nodig het, is nog ’n beginner.”

  • Denise, Pretoria 

LASTIGE POS

Ek kry vandag ’n rekening in die pos en daarop staan: “Finale aanmaning.”

Wat ’n verligting! Ek het gedink hulle gaan nooit einde kry nie.

  • Bredell

EERSTE SOEN

“Skat,” fluister hy, “is ek die eerste man wat jou soen?”

“Natuurlik is jy,” antwoord sy. “Waarom vra julle mans almal dieselfde, simpel vraag?”

  • L. Saayman, Sabie

BLONDE ILLUSIE

Twee blondines swem in die Limpopo.

Skielik sien hulle ’n krokodil aangeswem kom. “Kyk!” roep die een, “daar’s ’n Lacoste-branderplank.”

  • L. Saayman, Sabie

RUIM SKENKING

Seun: “Pa, daar’s ’n ou hier by die voordeur wat vir die nuwe munisipale swembad kollekteer.”

Pa: “Gee hom ’n emmer water.”

  • Lita Schoon

REINE WAARHEID

Die man gooi veerpyltjies na ’n foto van sy vrou, maar hy sukkel om raak te gooi. Uit die kombuis roep sy vrou: “Liefie, wat maak jy?”

“Ek mis jou,” antwoord hy.

  • Bredell

MODERNE WET

V: Wat is die moderne wet van Archimedes?

A: Wanneer die massa in water geplaas word, lui die telefoon.

  • Koen, George
Deel jou grappies

Stuur gerus oorspronklike grappies; jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik.

Skryf aan Lag ’n Slag, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bankbesonderhede (bank, taknaam, -kode en rekeningnommer).