GIFMOORD

’n Vrou stap by ’n apteek in en vra gif om van haar man ontslae te raak. Die apteker se oë rek.

“Mevrou, ek kan dit mos nooit doen nie,” sê hy. “Netnou beland ek in die tronk saam met jou as medepligtige.” Toe haal die vrou haar selfoon uit en wys vir hom ’n foto van haar man in ’n vurige omhelsing met die apteker se vrou.

Die apteker se oë rek weer. Toe sê hy: “Nou hoekom het jy nie vir my gesê jy het ’n voorskrif nie?”

  • F.H. Horne, Hartenbos

NUUSKIERIGE HASIE

“Waar kom ek vandaan?” vra Baba Haas sy ma.

“ ’n Towenaar het jou uit ’n hoed gepluk,” antwoord Mamma Haas, “en basta met die vrae.”

  • Denise, Pretoria 

NIEMAND SE LIEFLING NIE

Ek sê vir my sielkundige almal haat my. Hy sê dis nie so nie – almal het my nog nie ontmoet nie.

  • Denise, Pretoria 

NUUT OP DIE TONEEL

’n Man val van die derde verdieping tot op die sypaadjie. ’n Konstabel hardloop nader.

“Wat het hier gebeur?” vra hy.

“Ek weet nie,” antwoord die man, “ek kom ook nou eers hier aan.

  • Kasoepie

DOL DEFINISIE 

V: Wat is ’n inryteater?

A: ’n Plek waar jy ou flieks en jong paartjies aantref.

  • L. Saayman, Sabie

TOE-OOG-SKOONHEID

V: Hoekom het die blondine haar oë toegemaak toe sy in die spieël kyk?

A: Sy wil sien hoe sy lyk wanneer sy slaap.

  • Ivan Goodman

ANDERSTE KALKOEN

V: Wat kry jy as jy ’n kalkoen en ’n volstruis kruis? 

A: ’n Voël wat, wanneer hy gaar is, sy kop in die kapokaartappels wegsteek.

  • Denise, Pretoria

ONWELKOME SKOONMA

Koos: “My skoonma woon nou al sedert ons getroud is by ons en sy maak ons gek.”

Huweliksraadgewer: “Kan jy haar dan nie maar vra om pad te gee nie?”

Koos: “Nee. Dis haar huis.”

  • L. Saayman, Sabie

TAALPROBLEEM

’n Suid-Afrikaanse toeris in Jerusalem sukkel om die taxibestuurder te laat verstaan dat hy na die Klaagmuur wil gaan.

Ten einde raad beduie hy: “Ek wil by die plek kom waar die mense staan en huil.”

Toe laai die taxi hom voor die inkomstebelastingkantoor af.

  • Helena, Kempton Park

DROOMREIS

Twee vroue gesels oor wat hulle in die vakansie gaan doen.

“Ek het gehoor julle gaan nie meer Londen toe nie,” sê die een.

“Nee,” sê die ander een, “dit was verlede jaar. Vanjaar gaan ons nie meer Parys toe nie.”

  • Lita Schoon
Deel jou grappies
Stuur gerus oorspronklike grappies; jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik. Skryf aan Lag ’n Slag, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bankbesonderhede (bank, taknaam, -kode en rekeningnommer)