DROOMHUWELIK

Op ’n partytjie gesels gaste oor huweliksberading. “Ek en my vrou het dit nog nooit oorweeg nie,” sê ’n man. “Sy het ’n graad in kommunikasiekunde en ek het drama studeer. Sy kommunikeer baie goed; ek gee voor ek luister.”

  • A. de Kock

SLEGTE GEHEUE

Hester: “My man raak vreeslik kort van gedagte. Hy koop vir my geskenke, maar dan vergeet hy om my dit te gee.”

Ester: “Nou hoe so?”

Hester:

“Gister het ek ’n lipstiffie en ’n paar oorbelle in sy sak gekry.”

  • Hester, Namibië

DWALENDE OOG

’n Man gaan dokter toe. “Help my, asseblief. Ek het ’n probleem met ’n regteroog wat aanhou knip en kan dit glad nie beheer nie.”

“Ag, moet jou nie bekommer nie. Dis nie so erg soos jy dink nie,” sê die dokter.

“Dis wat jy dink. Elke keer dat ek apteek toe gaan en probeer om pynpille te koop, gee hulle vir my kondome.”

  • A. de Kock

TROUVROU

Doors soek vrou en besluit om ’n rekenaar in te span om vir hom ’n afspraak te reël. Hy stel die volgende vereistes vir die vrou van sy drome: Sy moet kort en aantreklik wees, van watersport hou, seekos eet en groepbedrywighede geniet.

Die rekenaar het die inligting so ’n bietjie gesif en geskommel en toe kom die antwoord: “Trou met ’n pikkewyn.”

  • Lita Schoon

STILLE VOORBEELD

Ma: “Niemand kan iets verrig deur stil te sit nie.”

Seuntjie: “ ’n Hoenderhen kan, mammie.”

  • Leon Kruger 

HELP ’N BIETJIE DAAR

“Het jy gehoor Koos is dood toe hy die Kapenaars wou help?” vra Jaap vir ’n vriend.

“Hoe so? Wat het gebeur?” wil die vriend weet.

“Nee, hy het gehoor met die droogte daar is watertenks vreeslik skaars in die winkels. Hy het toe sy uiterste bes gedoen om vir hulle ’n paar wynvate leeg te drink.”

  • J. M. Kotze

VIR DIE KLEINSPAN

Vraag: Wat het gebeur toe die kannibale ’n komediant eet?

Antwoord: Hulle het van oor tot oor gelag.

  • San Marchand

GOEIE LES

’n Student aan ’n sakeskool sien ’n mooi meisie wat saam met hom klas loop. Ewe voorbarig stap hy na haar en gee haar ’n stywe drukkie.

“Wat dink jy doen jy?” vra sy verbaas.

“Dis direkte bemarking,” antwoord die ou. Maar sy breë glimlag verdwyn gou toe sy hom ’n taai klap gee.

“En wat was dit?” vra hy verdwaas.

“Kliënteterugvoer.”

  • A. de Kock

GROOT HAND

Vrou: “Ek het ’n sak vol ou klere wat ek aan liefdadigheid wil skenk.”

Man: “Waarom gooi jy dit nie net weg nie? Dit is soveel makliker.”

Vrou: “Daar is soveel mense wat swaarkry en dit sal waardeer.”

Man: “Liefling, enigeen wat daarin kan pas, kry nie swaar nie.”

  • Helena, Kempton Park

BLOU BREKER

Ná ’n baie taai Curriebeker-wedstryd kom die Blou Bul-voorspeler by die huis met ’n gebreekte neus, geskeurde oor en drie los tande. En die ergste van alles is hy kan nie onthou wie s’n dit is nie.

  • F.H. Horne, Hartenbos

GROOT KROOS

“Ons het vyf kinders en ek het pas uitgevind Klaas het my nie werklik lief nie,” huil Marie by haar vriendin, Kobie.

“Jy moet dankbaar wees,” troos Kobie haar. “Dink net wat sou gebeur het as hy jou werklik liefgehad het.”

  • Kasoepie

IDEALE STYL

“Hoe wil jy jou hare gesny hê?” vra die haar- kapper die kliënt.

“In stilte,” kom die antwoord.

  • Ivan Goodman

EINA-FONDS

V: Hoekom is ’n mediese fonds nes ’n hospitaaljurk?

A: Jy dink net jy word ten volle gedek.

  • L. Saayman, Sabie

VRYGESEL

’n Oujongkêrel is ’n man wat besin voor hy begin, maar dan nooit begin nie.

  • Koen, George

VRYGEWIG TOT OP ’N PUNT

Frans Venter is moeg vir al die werkdruk en besluit om hom met ’n skivakansie te bederf. By die ski-oord aangekom, kan hy skaars wag om by die berghang uit te kom.

Maar hy is skaars daar, toe hoor hy ’n onheilspellende gedreun en sien hoe ’n massa sneeu op hom afpyl. Gelukkig kan hy net betyds by ’n grot inspring en die sneeustorting oorleef. En net so gelukkig het hy vuurhoutjies in sy sak en kan hy ’n vuurtjie maak.

Ure later, toe die mense by die hotel agterkom Frans is steeds nie terug nie, word ’n reddingspan uitgestuur om na hom te soek. Eers kry hulle niks, tot ’n oplettende spanlid rook uit ’n grot sien trek.

Die reddingspan haas hulle na die grot om ondersoek in te stel. Een van die reddingswerkers steek sy kop by die grot in en roep: “Mnr. Venter, is jy daar? Dit is die Rooi Kruis.”

“Ag nee!” skree Frans ergerlik. “Ek het reeds by die kantoor vir julle ’n skenking gegee.”

  • Louise Noeth

REUSEWAAIER

Mike: “Kallie, het jy geweet ’n vliegtuig se skroewe is veronderstel om die vlieënier koel te hou?”

Kallie: “Regtig, Mike?”

Mike: “Het jy al gesien hoe die vlieënier sweet wanneer die skroewe gaan staan?”

  • Kasoepie

RAAR MAAR WAAR

’n Babawagter is ’n jong mens wat hom of haar soos ’n grootmens moet gedra sodat die grootmense kan uitgaan en hulle soos jong mense gedra.

  • F.H. Horne, Hartenbos

Dit raas te veel

Piet se vrou: “Piet, wat rol jy so rond?”

Piet: “Ek kan nie slaap nie.”

Sy vrou: “Nou tel dan skape.”

Piet: “Dit help nie. Die geblêr hou my wakker.”

  • San Marchand

DUUR APPEL

Die prys van vrugte is regtig nie hoog nie, veral as ’n mens dink wat ’n vrug Adam alles gekos het.

  • Jimmie Botha, Waterval-Boven
Deel jou grappies
Stuur gerus oorspronklike grappies; jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik. Skryf aan Lag ’n Slag, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bankbesonderhede (bank, taknaam, -kode en rekeningnommer)