VIERPOTIGE FLIEKVLOOI

’n Vrou gaan fliek, en toe haar oë aan die donker gewoond raak, sien sy in die ry voor haar sit ’n man en ’n hond. Dis interessant om te sien hoe die hond op die fliek reageer.

Wanneer daar ’n treurige toneel is, tjank hy saggies. Op grappige oomblikke skud hy sy kop. En wanneer die spanning hoog loop, bedek hy sy oë met ’n voorpoot.

Agterna tik die vrou die hond se eienaar op die skouer en sê: “Ek kon nie help om jou hond dop te hou nie. Dit lyk of hy regtig elke oomblik geniet het. Ek is verstom.”

“Ja,” sê die man, “ek was self verbaas, want hy’t die boek verpes.”

  • Hester, Namibië

SKEI OF BLY?

Piet stap sy prokureur se kantoor binne en kondig aan hy wil van sy vrou skei.

Die prokureur verduidelik die howe is streng en soek ’n geldige rede vir enige egskeiding.

Dan vra hy: “Nou waarom wil jy van jou vrou skei?”

“Ag, man, sy praat al die afgelope vyf jaar nie meer met my nie,” antwoord Piet.

“Ek wil nou vir jou baie goeie raad gee,” sê die prokureur.

“Hou wat jy het, want sulke vroue is skaars.”  

  • Marita Lotz, Langebaan

WYSE RAAD

“Mammie, wat gee ’n mens ’n man wat alles het?” vra ’n dogter kort voor haar kêrel se verjaardag.

“Aanmoediging, my kind, aanmoediging,” antwoord haar ma.

  • Leon Kruger

VIR DIE KLEINSPAN

Vraag: Hoekom het Dracula geen vriende nie?
Antwoord: Want hy’s ’n pyn in die nek. 

  • Lita Schoon

Deel jou grappies

Stuur gerus oorspronklike grappies; jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik.

Skryf aan:

Lag ’n Slag
Posbus 1802
Kaapstad 8000

OF

grappies@huisgenoot.com

Verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bankbesonderhede (bank, taknaam, takkode en rekeningnommer) wanneer jy 'n grappie/s instuur.