KROEGMOLES

’n Rowwe ou stap die kroeg binne. Hy slaan met sy vuis op die toonbank en skree vir die kroegman: “Twee dubbels voor die moeilikheid begin!”

Toe hy dit die vierde keer doen, vererg die kroegman hom en vra: “Nou wanneer begin die moeilikheid?”

“Nou,” sê die tawwe tienie, “want ek kan jou nie betaal nie.”

  • Monica, Pretoria

GEVAARLIGTE

Jou huwelik is in die moeilikheid wanneer jou vrou sê: “Jy stel net in een ding belang” – en jy weet nie wat dit is nie.

  • Hester, Namibië

SLANGE VANG

Was jy al ooit so kwaad vir iemand dat jy gewens het hy wil polonie in ’n Kuga gaan eet?

  • Wollie, Pretoria

BALKE SAAG

Die pastoor kla by sy dokter oor sy vrou se snorkery.

“Pla dit jou regtig so baie?” vra die dokter.

“Dit pla nie net vir my nie,” antwoord die pastoor; “dit pla die hele gemeente!”

  • Vossie, Pretoria

LIGSTRAALTJIE

“Ek het goeie en slegte nuus,” sê ’n prokureur vir sy kliënt wat hy in ’n moordverhoor moet verdedig.

“Wat is die slegte nuus?” vra die bekommerde kliënt.

“Die DNS wat op die toneel gevind is, is beslis joune.”

“En die goeie nuus?” wil die kliënt weet.

“Jou cholesterol is beslis laer.”

  • F.H. Horne, Hartenbos

SENIOR TIENER

Ek is ’n senior tiener en kla glad nie daaroor nie. Want ek het nou alles wat ek as ’n tiener wou gehad het – net 60 jaar later:

Ek hoef nie skool toe te gaan of te werk nie.

Ek het ’n rybewys en my eie motor.

Ek kry elke maand ’n toelae.

Ek het my eie iPad (behalwe dat ek nie kan onthou waar ek dit gebêre het nie).

Ek het geen inklokreël nie.

  • Wollie, Pretoria

VREEMDE ONTMOETING

Die geskiedenisonderwyseres probeer haar klas laat verstaan hoe die inheemse bewoners van die land moes voel toe hulle vir die eerste keer met die Voortrekkers in aanraking kom.

“Hoe sal jy voel as iemand op jou voorstoep opdaag wat anders lyk, ’n ander taal praat en snaakse klere dra?” vra sy. “Sal jy nie bang wees nie?”

“Nee wat, juffrou,” sê Kosie; “ek sal net dink dit is iemand wat my suster wil uitneem.”

  • Louise Noeth

OP ’N HOË NOOT

Wanneer my vrou begin sing, gaan ek altyd buitentoe en begin in die tuin werk.

Dan kan die bure sien ons is nie aan die rusie maak nie!

  • Arend Kirkman

OUD GETROUD

Man aan huweliksberader: “Toe ons nog pas getroud was en ek ná werk by die huis gekom het, het my vrou getrou my pantoffels gebring en ons oulike brakkie nader gehardloop en geblaf.

“Nou, ná 10 jaar, is die omgekeerde waar: Ek kom by die huis, die hond bring my pantoffels en my vrou blaf in my rigting.”

“Hoekom kla jy?” vra die berader. “Jy kry steeds dieselfde diens.”

  • Hester, Namibië


DRIEVROUSKAP

V: Wat noem jy ’n brunette met ’n blondine aan weerskante van haar?

A: ’n Tolk.

  • L. Saayman
Kontak ons
Stuur gerus oorspronklike grappies; jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik. Skryf aan Huisgenotjies, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bankbesonderhede (bank, taknaam, takkode en rekeningnommer)