1. Die dramareeks draai om die inwoners van ’n fiktiewe Karoodorpie, Maanhaarsdrif. ’n Ondersoekende joernalis, Annabel (Tinarie van Wyk Loots), keer vanuit Kaapstad terug na haar tuisdorp nadat sy ’n storie oopgekrap het oor ’n korrupte minister se knoeiery met die Russiese regering oor skaliegasontginning.

Sy wil op die dorp, waar inwoners ’n fiksasie met sterre en sterrekyk het, laaglê weens doodsdreigemente oor die storie.

Annabel
Foto: KykNet

2. Dit is die eerste televisiereeks uit die pen van die bekroonde dramaturg en aktrise Nicola Hanekom, wat al te sien was in reekse soos Sara Se Geheim. Die saadjie vir die reeks is 10 jaar gelede by Nicola geplant. Sy het drie jaar gelede daaraan begin skryf en het ook vir twee episodes in die regisseurstoel gesit.

“Ek het dit so half gegrond op ’n plaas wat ek dikwels besoek het toe ek jonk was waar daar ’n skadukant saam met die lig is,” het Nicola al vertel. “Dis soos die jin en jang. Hoe mooier alles is, hoe donkerder is dit ook daar.”

3. Om die dorpie te skep, moes die produksiespan tussen Calvinia in die Noord-Kaap, die Wes-Kaapse dorpie Bonnievale en Philadelphia buite Kaapstad reis om te skiet.

Terence Bridgett (links) en Neels van Jaarsveld is ’n egpaar in die reeks. Foto: KykNET

4. Die ster van Noem My Skollie- en Vinkel & Koljander-faam Tarryn Wyngaard speel die dowe kelnerin Gina, wat visioene kry.

Sy moes saam met haar medeakteur Jarrid Geduld, wat die kroegman Randall by die dorpshotel speel, gebaretaal aanleer en ook leer rolskaats. Jarrid moes tai chi-lesse neem vir sy rol. Hy was onlangs te sien as die tikverslaafde Abie in die opspraakwekkende rolprent Ellen: Die Ellen Pakkies-storie.

5. Die bekroonde draaiboekskrywer Retief Scholtz, die hand agter toneelstukke soos Dop en Karel Se Oupa, was deel van die ontwikkelingsproses van die reeks.

Dit is die veelbekroonde regisseur Jaco Bouwer se tweede reeks van 13 episodes saam met die produksiehuis Marche Media. Die eerste was die bekroonde kykNET-dramareeks Waterfront.

Albert Maritz speel hul pa. Foto: KykNET

6. Erica Wessels is byna onherkenbaar as Ragel-Lee, die suster van Tinarie se karakter, Annabel. Dié handhaaf wet en orde as die dorp se enigste boetebessie. Hul pa, Frans, die afgetrede skoolhoof op die dorp, word deur die veteraanakteur Albert Maritz vertolk.

7. Jacques Bessenger, wat Tinarie se man in die regsdrama Fynskrif gespeel het, speel weer haar liefie. Hy’s die dokter Stian wat terugkeer uit Kanada om sy oorlede pa se praktyk op die dorp oor te neem.

Jacques Bessenger, wat saam met Tinarie en Erica in Fynskrif te sien was, is ook in dié reeks te sien. Foto: KykNET

8. Die stel het gewemel van bekendes. Onder hulle was Albert Pretorius (hy speel Charlie, ’n welaf motorfietsryer); June van Merch (Die Boekklub en Sara Se Geheim), wat die burgemeester Ivy speel; en Joanie Combrink, wat Ivy se vriendin Lettie speel. Dié twee vroue stamp gereeld kop.

9. Die kunsdepartement moes ’n volledige minigholfbaan bou in Albert Maritz se karakter, Frans, se agterplaas.

Ragel
Erica Wessels vertolk die rol van Tinarie se karakter se suster, Ragel-Lee, die enigste boetebessie op die dorp. Foto: KykNET

10.  Die donkerkopakteur Neels van Jaarsveld moes sy hare blond kleur vir sy rol as Luan. Dié het saam met sy man, Ruan (Terence Bridgett), die plaaslike hotel gekoop, dit na Die Piering herdoop en opgekikker in die hoop om sterrekykers te lok.

Lukas (André Odendaal), ’n permanente inwoner van die hotel, is ook die redakteur van die plaaslike koerantjie, Die Ster.

  • kykNET | Begin op Dinsdag 8 Januarie om 20:00