1. Wanneer het die toneelspeelgogga gebyt?

In 2014 het ek besef toneelspel verskaf my ontsettend baie vreugde en ek moet dit eenvoudig op die een of ander manier vir die res van my lewe doen.

Ek het in 2015 ’n toneelspelkursus by die New York Film Academy in Amerika voltooi.

Die jaar daarna was ek heeltemal stomgeslaan toe ek ’n hoofrol in die komediefliek Jou Romeo kry, en van toe af speel ek maar rond.

2. Enige uitstaankarakters wat jy al gespeel het?

Ek is baie bevoorreg om al ’n verskeidenheid rolle te kon vertolk. Tot dusver was elke karakter heeltemal verskillend.

Een wat uitstaan, is Pizzaface in die fliek Vaselinetjie, want sy het my gehelp om die ekstrovert in my te ondersoek en uit te leef.

3. Vertel ons meer oor jou tweelingbroer.

Sy naam is Jakob. Hy is amazing. Ons persoonlikhede verskil soos dag en nag, maar ek leer baie by hom, veral omdat ons soms so anders oor dinge dink. Ons is net twee kinders.

Elani en haar tweelingbroer, Jakob. Foto: Verskaf

Ek is in Pretoria gebore en het ook daar grootgeword.

4. Wat is die grootste les wat jy in jou tienerjare geleer het?

Hoe om alleen en vol vrede te wees. Ek dink dis belangrik om onafhanklik van ander mense te groei.

Ek het ook geleer dit is fantasties om uniek en anders te wees, selfs al voel dit nie altyd so nie.

5. Jy het in jou matriekjaar in Jou Romeo gespeel. Hoe het jy ’n balans tussen jou skoolwerk en toneelspeel gehandhaaf?

Ek het vir die grootste deel van my skoolloopbaan tuisonderrig ontvang. Ja, ek het soms skoolwerk in my pajamas gedoen, en dit was nogal cool, maar my matriekjaar was beslis intens.

Anita Dekker besoek haar dogter, Elani, en Karin van der Laag op die Vaselinetjie-fliekstel. Foto: Verskaf

Die feit dat ek tuisonderrig ontvang het, het my in staat gestel om my skooltake om Jou Romeo en Vaselinetjie se verfilming te skeduleer.

6. Hoe lyk ’n gewone dag vir Elani?

Ek is glad nie ’n roetinemens nie; daarom lyk my dae nooit dieselfde nie. Elke dag maak my opgewonde omdat ek nie weet wat op my wag nie.

7. Wat doen jy in jou vrye tyd?

Ek het ongelooflik interessante mense in my lewe, en ek sê nooit nee vir ’n koppie tee en ’n lekker geselsie saam met enige van hulle nie.

Ek is ook versot op lees en na stories kyk.

8. Jy skitter voor die kamera, maar watter ander belangstellings het jy?

Dans, teken, lees en om ander mense in koffierestaurante dop te hou.

9. Vertel ons oor jou rol in Binnelanders.

My karakter se naam is Monique, en sy is dr. Annelize Roux se biologiese suster. Ek was vroeër vanjaar ses weke daar en is opgewonde om te kan sê Monique gaan binnekort weer by Binneland kuier.

Reynardt Hugo as dr. Tertius Jonker in Binnelanders en Elani. Foto: Verskaf

10. Hoe was jou ervaring op die Binnelanders-stel?

Die proses op ’n sepiestel is baie vinniger vergeleke met ’n rolprentstel, want baie meer tonele moet op ’n dag verfilm word. Al die akteurs en die hele tegniese span het my dadelik op my gemak en tuis laat voel.

?? #julleiscoolmenseenekmisjulle

A post shared by Elani Dekker (@elanidekker) on

Ek het baie tonele saam met Lea Vivier (wat Lika Bosch speel) en Reynardt Hugo (dr. Tertius Jonker), en dit was wonderlik om albei hierdie ongelooflike mense te leer ken en by hulle te kon leer.

11. Vertel ons meer van die komende fliek Liewe Lisa, waarin jy die vroulike hoofrol vertolk.

Ek vertolk die rol van Lisa. Die fliek word op 14 Februarie 2019 uitgereik. Dis ’n pragtige storie oor ’n jong man, Daniël (wat deur Hendrik Cronjé gespeel word), wat moet vasstel wie hy is en wat hy in die lewe wil hê. Lisa is ook op haar eie pad van groei, en iewers kruis dié twee se paaie.

Elani en Hendrik Cronjé op die stel van die nuwe fliek Liewe Lisa. Foto: Verskaf

12. Hoe was dit om saam met Hendrik te werk?

Dit was ’n fees. Ons het baie goed oor die weg gekom en lekker saam gewerk. Hy is ’n wonderlike mens.

13. Was jy al ooit sterverskrik toe jy ’n ander bekende op ’n stel raakloop?

Ons het onlangs ’n rolprent verfilm waarin ek saam met Johan en Lida Botha gewerk het. Dit was ongelooflik. Dit was so cool om hulle in lewende lywe te ontmoet en boonop teenoor hulle te speel. Hulle is twee legendes.

14. Enige geheime talente?

Ek is nie te sleg in snoeker en potspel nie. Ek kan ook baie lekker nacho’s maak . . . as dit as ’n talent tel.

15. Wat is jou toekomsplanne vir jou loopbaan?

Om aan te hou toneelspeel en te leer hoe om stories beter te vertel. Vir nou is leer my enigste geweer. 

PRETFEITE

  • Monopoly of 30 Seconds? 30 Seconds.
  • Sap of gaskoeldrank? Gaskoeldrank.
  • Gunstelingfliek? Short Term 12.
  • Gunsteling-emoji?
emoji
  • Liedjie waarna jy tans herhaaldelik luister? The Few Things deur JP Saxe.
  • Stokperdjies? Lees!
  • Gunstelingkos? My pa se potjiekos.
  • Kos waarvan jy nie hou nie? Springmielies met te veel sout oor.
  • Snaakse fobies? Tekkies sonder skoenveters.