LUANDRI REYNDERS (24)

Luandri is geen vreemdeling op die kassie nie. Sy het in 2019 haar debuut op die klein skerm gemaak as Chanelle in die sepie 7de Laan en was verlede jaar in die tweede seisoen van die kykNET-dramareeks Spoorloos: Heksejag te sien.

Deesdae vertolk sy die rol van Karen Kriel, een van die nuwe verpleegsters in die Binneland-kliniek in die sepie Binnelanders.

Luandri Reynders (links) en Maude Sandham is deesd
Luandri Reynders (links) en Maude Sandham is deesdae gereelde gesigte in Binnelanders. Foto: Tiaan Nortje en Trevor Kingston Frost

“Sy het in dieselfde tydperk as Gaby Toerien (Maude Sandham) in die kliniek begin werk, en die twee verskil hemelsbreed. Karen is meer teruggetrokke en neem haar werk baie ernstig op,” sê Luandri.

“Een van die dae sal kykers meer oor haar te wete kom wanneer sy saam met Gaby in ’n woonstel intrek – en daar iemand is wat haar heeltyd bel.”

LEWE OP DIE STEL

Luandri en haar ouers, Louis en Deidre, het in haar grootwordjare elke aand saam Binnelanders gekyk.

“Ons hele gesin is aanhangers van die sepie,” vertel die aktrise. Sy het in Oktober verlede jaar haar eerste tonele verfilm en was van dag een af vriende met Maude.

Luandri en haar kêrel van die afgelope twee jaar,
Luandri en haar kêrel van die afgelope twee jaar, Trevor Kingston Frost. Foto: Tiaan Nortje en Trevor Kingston Frost

“Ons het baie goed oor die weg gekom, wat in totale teenstelling is met ons karakters wat eers onlangs op die skerm teenoor mekaar begin ontdooi het.”

Dis vir haar wonderlik om met groot name saam te werk soos Cindy Swanepoel, wat dr. Annelize Roux speel. Tog het die senuwees aanvanklik geknaag.

“Een van my eerste tonele was saam met Cindy. Sy was so gaaf en gerusstellend dat ek dadelik kalmer gevoel het om teenoor haar te speel.”

Maude en Luandri as die verpleegsters Gaby en Kare
Maude en Luandri as die verpleegsters Gaby en Karen. Foto: Instagram/@laundri.reynders

LIEFDE VIR TONEELSPEL

Dié oudleerder van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria het eers op 17 in drama begin belangstel.

“My ouers was nie verbaas toe ek vir hulle sê ek wil ’n aktrise word nie. Ek dink hulle het geweet dis wat ek gaan doen nog voor ek self geweet het. Hulle was en is nog altyd my grootste ondersteuners.”

In 2015 het sy drama aan die Performing Arts Lifestyle Institute in Pretoria begin studeer onder leiding van die 7de Laan-aktrise Shareen Swart, wat intussen oorlede is, en Kaz McFadden.

5 dinge wat jy oor Luandri moet weet

1. Sy het in Pretoria grootgeword en is haar ouers se enigste kind. “Ek woon steeds in Pretoria en het nog altyd Johannesburg as werk beskou en Pretoria as die huis. Die pad soontoe en terug is die skeiding tussen my persoonlike en beroepslewe.”

2. Luandri en die akteur Gerrit Schoonhoven, wat verlede jaar oorlede is en ook ’n regisseur was by Binnelanders, is familie.

3. Sy is ’n huishen en geniet dit om ná ’n lang dag met ’n boek in die een hand en ’n koppie koffie in die ander te ontspan.

4. Haar stokperdjie is perdry. “Ek het op skool mededingend perdgery en dressuur was die dissipline waarop ek gefokus het. Ek is steeds lief vir die sport, maar kry ongelukkig nie meer so baie tyd om dit te beoefen nie.”

5. Daar is iemand spesiaals in haar lewe. Sy en haar kêrel, Trevor Kingston Frost, het mekaar deur ’n vriendin ontmoet en is al meer as twee jaar ’n paartjie.

MAUDE SANDHAM (29)

Ons het haar verlede jaar in die telenovelle Legacy leer ken as die oudpolisieman Stefan Potgieter (Sean-Marco Vorster) se agterbakse eksmeisie, Yolandi. Nou is Maude weekaande as die verpleegster Gaby Toerien in Binnelanders te sien.

Maude saam met Reynardt Hugo, wat haar TV-broer, d
Maude saam met Reynardt Hugo, wat haar TV-broer, dr. Tertius Jonker, speel. Foto: Instagram/@maudesandham

Gaby het aan die begin van die jaar uitgevind dr. Tertius Jonker (Reynardt Hugo) is haar halfbroer en raak nog gewoond aan die nuwe situasie – asook haar nuwe pos by die Binnelandkliniek.

NES HAAR KARAKTER

Nes Luandri het Maude in Oktober verlede jaar haar eerste tonele begin skiet. Sy sien baie van haarself in haar karakter.

“Gaby sê die snaaksste goed en ons is baie dieselfde. Ons is albei avontuurlustig, staan op vir ander en dit waarin ons glo en hou daarvan om pret te hê,” sê Maude.

Luandri en Maude saam met Je-ani Swiegelaar (naasl
Luandri en Maude saam met Je-ani Swiegelaar (naaslinks) en Lindsey Abrahams. Foto: Instagram/@luandri.reynders

“Ek sal graag meer van Gaby se optimisme, geduld en energie wil leen.”

Dis ’n absolute plesier om Reynardt as haar TV-broer te hê en om saam met haar medesterre Cindy Swanepoel en Je-ani Swiegelaar (Naomi) te werk.

“Hulle is lekker mense, ons grap en prank mekaar en ek leer baie by hulle.”

Maude was ook al in die telenovelle Legacy te sien
Maude was ook al in die telenovelle Legacy te sien. Foto: Instagram/@maudesandham

LEWE OP DIE STEL

Die aktrise woon in Auckland Park in Johannesburg. Sy en Luandri daag gewoonlik soggens saam op by Stark Studios in Randburg waar Binnelanders verfilm word.

“Ek spring in my uniform en daarna is dit tyd vir hare en grimering. Dan gaan gryp ons ’n koffie en beskuit, sit buite en gaan deur ons woorde.”

Tussen tonele is daar kans vir gesels en Uno speel saam met Reynardt, Lindsey Abrahams, wat die verpleegster Chanel Samuels speel, en Kara du Toit, oftewel dr. Maya Gosslin.

“Smiddae drink ons ekstra koffie om deur die middag-slump te kom. As dit ’n lang dag is met minder tonele, knip ons ’n uiltjie of ons stap deur die ateljee se tuine.”

5 dinge wat jy oor Maude moet weet

1. Sy is die jongste van haar ma, Linda (63), ’n onderwyseres, en pa, Tim (59), ’n skrywer, se kinders. Haar ouer suster, Katherine (31), is ’n bakster.

2. Maude was baie skaam as kind. Die oudleerder van die Hoërskool Linden het eers op hoërskool besluit sy wil ’n aktrise word. “Ek het net op ’n dag besluit ek gaan ’n oudisie aflê vir die ATKV-tienertoneel by die skool. Ek dink nie my ouers was verbaas nie; hulle het geweet hoe baie stories ek kon uitdink en ons het gereeld teater toe gegaan.”

3. Sy het in 2013 haar honneursgraad in drama aan die Rhodes-universiteit in Makhanda voltooi en sê haar rol in Legacy was haar deurbraak in die plaaslike vermaakbedryf. “Ek het voorheen meestal teaterwerk gedoen en met my eie toneelstukke oorsee na Hongkong, Viëtnam en België gereis.”

4. Haar stokperdjies sluit in om staproetes aan te pak, te sing en plante te kweek vir wat sy haar woonstelwoud noem. “Ek het 42 potplante en hou van tuinmaak.”

5. Maude is ook mal oor reis en sê daar is beslis iets spesiaals daaraan om stoksielalleen in ’n ander land, vreemde stad of dorpie in Suid-Afrika aan te kom en jy moet dit net maak werk.


  • BINNELANDERS | WEEKAANDE 19:30 OP KYKNET
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.