Neels het nog altyd ’n sagte plek vir diere en veral die beskerming van diere gehad. 

In die jongste aflewering van die kykNET-reeks Op my eish! het die akteur vier vroue gekies om saam met hom na die African Penguin and Seabird Sanctuary net buite Gansbaai te gaan waar beseerde pikkewyne gered en rehabiliteer word. 

neels van jaarsveld
Die akteur Neels van Jaarsveld. Foto: kykNET

Janka, Dorianne, Lizelle en Nadine was die vier gelukkige vroue wat deur die akteur gekies is om saam op die groepsaktiwiteit te gaan. Hy groet dan later Lizelle en Dorianne. 

LIZELLE GROET

Lizelle (40), ’n bemarkingsbestuurder, word later eenkant toe geroep om vir koffie te gaan saam met die akteur. Al is dit hul eerste alleenafspraak, deel hy die nuus dat hy haar ongelukkig moet groet. 

Dis die eerste keer wat Neels en Lizelle ’n ordentlike gesprek kon hê sonder om onderbreek te word deur die ander vroue. Dis ook die eerste keer wat sy kans gekry het om die geskenkie vir hom te gee wat sy vir hom saamgebring het. 

lizelle
Lizelle. Foto: Verskaf

“Ek dink die uitgaande persoonlikhede trek beslis sy aandag en dit is moontlik wat hom aantrek en miskien nie iemand wat stil is nie,” sê Lizelle oor Neels se besluit. 

Die ma van een vertel nou sy was hartseer toe sy huis toe gestuur is, maar nie hartgebroke nie. “Alles gebeur vir ’n rede. Ek het wonderlike herinneringe en nuwe vriendskappe gemaak,” vertel sy. 

Dit klink ook asof sy wel gelukkig in die liefde is. “Daar is ’n spesiale iemand wat my lewe vul met geluk en liefde,” sê sy. 

VERLIEF EN VERLOOF

Ná afloop van die fotosessie sê Neels ook totsiens vir Dorianne (29). 

Ja, tydens die verfilming van die reeks in Februarie vanjaar het sy 'n bietjie teleurgesteld gevoel dat sy nie Neels se hart gewen het nie. “Dit is nie lekker nie, maar aan die ander kant is ek bly dat hy nie my tyd gemors het nie,” het Dorianne op die kassie gesê.  

Sy was vir agt jaar enkellopend voordat sy besluit het om ’n kans op die liefde te waag en in te skryf vir Op my eish!. 

En al het dinge nie vir haar en die Fynskrif-akteur uitgewerk nie, was dit gelukkig nie die einde van haar liefdesverhaal nie. 

dorianne
Dorianne. Foto: Verskaf

Dorianne het kort daarna aan ’n goeie vriend, Ruan Groenewald, verloof geraak en kan deesdae nie uitgepraat raak oor hoe gelukkig sy is nie. 

Dié twee se paaie het tydens die inperking vir die eerste keer gekruis. “Aan die begin was dit meer aanlyn as in persoon, waarna ons meer tyd saam spandeer het naweke,” vertel Dorianne. 

dorianne
Ruan en Dorianne is sedert April verloof. Foto: Verskaf

Die dag wat sy vir Ruan laat weet het sy is huis toe gestuur, was die dag wat hy besluit het om die kans te waag en te vra of hulle meer as net vriende kan wees. “Hy het my kom verras en sommer met die intrapslag my pa ontmoet,” onthou sy. 

Ruan het op 9 April die jawoord gevra en hulle haak in Augustus in die Koue Bokkeveld naby Ceres in die Wes-Kaap af. 

  • Op my eish! is Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). 
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe