Shawn en Lana Basson word deur die talentvolle jong akteurs Deànré Reiners (23) en Mila Guy (27) vertolk. 

Shawn is die seun van die sakeman DeWet Basson (Dirk Stoltz) en sy vrou, Erika (Corine du Toit). Hy en Lana is getroud en kykers kan hulle vir hope drama gereedmaak.

Volgens ’n mediaverklaring deur die sepie het pa en seun ’n hegte band gehad tot hulle uitmekaar gedryf is tot op die punt waar DeWet sy seun as dood beskou het. 

Deànré is bekend vir sy rol as Emil in die hospitaaldrama Binnelanders en was tot onlangs ook as Zandré in die sepie Isidingo te sien.

View this post on Instagram

The wedding of Sechaba and Phindi, what an amazing day, spent with mother dearest, @elmapostma

A post shared by Deanre Reiners (@deanre_reiners) on

Mila vertolk onder meer die rol van die kelnerin Melanie in die kykNET-reeks Hotel en het ook die hoofkarakter in die fliek Liewe Kersfeesvader gespeel. 

Deànré en Mila het onlangs hul debuut in Hillside gemaak as die paartjie Shawn en Lana.

Shawn het op skool daarvan gedroom om ’n rugbyspeler te word, maar hy moes vrede maak met ’n loopbaan as biokinetikus, terwyl Lana ’n baie talentvolle en bekroonde fotograaf is. 

Albei vertel dat dit vir hulle fantasties is om deel te wees van 'n sepie wat hulle al van hul kinderdae ken. 

“Ek het grootgeword voor die kassie met my ma en ouma wat elke aand 7de Laan gekyk het; ek dink die meeste mense van my ouderdom kan hulself daarmee vereenselwig. En ek dink ’n groot deel van my droom om ’n akteur te word, is deur 7de Laan wakker gemaak. Om dus van die produksie deel te wees is ongelooflik opwindend,” vertel Deànré. 

Op haar beurt voeg Mila by: “Dis 'n groot voorreg om deel te raak van so legendariese produksie wat teen hierdie tyd al eintlik volksbesit is. Dis veral gek om te dink ek is nou op die sepie waarmee ek grootgeword het.”

Die twee ken mekaar ook reeds goed. Hulle het mekaar in 2014 ontmoet toe hulle dieselfde dramakursus gevolg het en het ook saam in die musiekvideo vir die sanger Arno Jordaan se liedjie "Die eerste keer" verskyn. 

“Dis vir my verskriklik lekker om saam met Deànré te werk, want ons ken mekaar en is baie gemaklik,” sê Mila. 

En Deànré het ook net lof vir sy medester. 

“Dis ’n fees. Mila is altyd een vir grappe maak en gesels. Sy’t altyd ’n oor wat bereid is om te luister. Bowenal is sy 'n ongelooflike aktrise en dis elke keer verfrissend en opwindend om saam op die stel te wees,” vertel Deànré. 

Behalwe haar fotografie-loopbaan is Mila se 7de Laan-karakter, Lana, ook 'n maatskaplike werker en kykers sal ook haar barmhartigheid en liefde vir mense kan sien. 

Mila vertel dis vir haar lekker om ’n karakter te speel wat so ietwat kompleks is. “Sy is lig, maar sy's ook vir baie van die swaarder oomblikke verantwoordelik,” sê sy. 

Shawn se veelsydigheid is Deànré se gunstelingdeel van die karakter. “Ek dink elke karakter wat ek tot dusver vertolk het, was heeltemal anders as die vorige een. Dis vir my lekker om nuwe uitdagings te hê.

"Shawn is 'n baie ingewikkelde mens met lae en lae wat hy graag wegsteek. Hy is liefdevol, en ek voel ’n mens kan so maklik by hom en sy probleme aanklank vind. En dít geniet ek; om ’n everyday guy te vertolk,” laat hy hoor.


Dit lyk of 2020 omtrent bedrywig gaan wees vir Mila en Deànré. 

“Ek studeer deeltyds kommunikasiewetenskappe deur Unisa. En dan werk ek en Danielle Retief, wat Nikki (in 7de Laan) vertolk, saam aan ’n teaterstuk, Die avonture van Robin Hood,” sê Deànré. 

Mila vertel op haar beurt dat sy aan 'n reeks werk wat in Junie of Julie uitgereik word, maar sy kan nog nie veel daaroor verklap nie. Verder mik sy ook om vanjaar 'n bietjie regiewerk te probeer doen. 

En wat kan 7de Laan-kykers vorentoe van hul karakters in Hillside verwag? 

“Shawn en Lana is gemaak vir mekaar, maar wat die Basson-gesin betref, is niks ooit soos dit voorkom nie," lui 7de Laan se mediaverklaring. "Al wat ’n kind ooit wil hê, is die liefde en aanvaarding van 'n ouer, maar sal DeWet en Shawn die verhouding kan herstel wat hulle eens op ’n tyd gehad het? Kykers kan regmaak vir emosionele en vermaaklike storielyne waar die Basson-gesin betrokke is." 

  • 7de Laan word weekaande om 18:00 op SABC2 uitgesaai.