1. The Crown 

Hierdie trefferreeks is op koningin Elizabeth en die Britse koninklikes gegrond. In die derde seisoen het kykers gesien hoe die koningin se oudste seun, prins Charles, ’n toekoms saam met Camilla ontsê is omdat die koninklike familie gevoel het sy is nie ’n gepaste maat vir ’n toekomstige koning van Engeland nie. 

Die nuwe seisoen wys hoe hy met Diana trou en tog aanhou om Camilla stilletjies te sien. Sy verhouding met Diana word ’n tydbom, en die koninklike familie moet die gevolge van hul reëls oor liefde, egskeiding en plig noodgedwonge aanvaar. 

Die vierde seisoen van die boeiende reeks is ’n moet-sien! As jy nog nie die reeks gekyk het nie, is nou die ideale tyd om al vier seisoene in te haal. 

  • Seisoen 4 is nou op Netflix beskikbaar. Ouderdomsbeperking: 16.

2. Emily in Paris

Dié komediedramareeks loop deur onder kritici oor die onrealistiese manier waarop die Franse hoofstad, Parys, en sy inwoners uitgebeeld word. Tog is dit een van die reekse wat die meeste op die stroomdiens Netflix gekyk word. 

Die reeks volg Emily Cooper (Lily Collins), wat deur Gilbert Group, die firma waarvoor sy in Chicago werk, na Parys gestuur word vir 'n nuwe werkgeleentheid, al praat sy nie ’n enkele woord Frans nie.

Die jong bemarkingsbeampte moet aansluit by Savoir, ’n Paryse boetiek-bemarkingsfirma wat Gilbert Group gekoop het. Daar moet Emily hul “Amerikaanse oë en ore” wees. Maar sy het ’n opdraande stryd, veral met haar nuwe baas wat haar lewe hel maak.

  • Seisoen 1 is nou op Netflix beskikbaar. Ouderdomsbeperking: 13.

3. Inconceivable

Tot watter uiterstes sal ’n ma vir haar kind gaan? Dié plaaslike dramareeks verken hierdie vraag. Die sterbelaaide plaaslike M-Net-dramareeks vertel die verhaal van twee vroue en hoërskoolbesties, Marieke Meyer (Anel Alexander) en Rachel Bishop (Carine Rous), wat deel is van ’n groep vriendinne wat almal in hul 30’s is.

Elkeen in hul kliek worstel met hul eie probleme – van ’n affair en ’n stryd teen onvrugbaarheid tot ’n ondenkbare daad wat hul lewe gaan verander. 

Dis ’n vrougedrewe reeks, so kry jou vriendinne bymekaar en geniet die drama. 

  • Seisoen 1 is nou op DStv Catch Up en Showmax beskikbaar. Ouderdomsbeperking: 13.

4. Spoorloos: Heksejag

Die eerste seisoen van die kykNET-dramareeks Spoorloos het kykers behoorlik laat kopkrap en naels kou toe ’n reeksmoordenaar die Oos-Kaapse dorpie Digtersdal geteister en kinders spoorloos verdwyn het.

Die tweede seisoen het 'n nuwe storielyn en karakters. Die akteur Andahr Cotton is as Adam Prinsloo te sien wat op die aand van sy matriekafskeid in 'n motorongeluk betrokke is. Hy skrik eers 18 maande later uit sy koma wakker. Sy metgesel is in die ongeluk dood, maar hy kan niks daarvan onthou nie. Nie almal is ewe gelukkig oor Adam se ontwaking nie . . . 

  • Seisoen 1 en 2 is nou op Showmax beskikbaar. Ouderdomsbeperking: 13GST.

5. Blood & Water

Dit het van hier tot in Amerika gegons oor dié Netflix-trefferreeks wat op eie bodem in Kaapstad geskiet is. Die reeks gaan oor die tienermeisie Puleng Khumalo (Ama Qamata) wie se suster kort ná geboorte uit ’n Kaapse hospitaal ontvoer is.

Op die aand van wat haar vermiste suster se 17de verjaardag sou gewees het, eindig Puleng by ’n partytjie van Fikile Bhele (Khosi Ngema), een van die gewildste meisies wat sy al teëgekom het.

Fikile is ’n sterswemmer en leerder by ’n privaat skool in Kaapstad. Dié aand verander alles in Puleng se lewe toe sy besef Fikile is dalk haar verlore sussie. 

As jy hierdie reeks misgeloop het, is dit nou tyd vir opvang.

  • Seisoen 1 is nou op Netflix beskikbaar. Ouderdomsbeperking: 16.