Ons kyk na van die grootste sepieskokke wat vanjaar op die kassie afgespeel het. 

'n Bomontploffing ruk 7de Laan

Die een oomblik het die inwoners van Hillside nog vrolik bruilof gevier saam met Esti (Reandi Grey) en Rickus (André Lötter) in die sepie 7de Laan op SABC2. Toe, kort voor die bruidspaar op hul wittebrood vertrek, word hul geluk kortgeknip toe ’n bomontploffing die Heights ruk. 

Die voormalige Oppiekoffie-kelnerin Petro (Carla van der Merwe) se broer, Henco (Hugo Madeleyn), het jare ná sy suster se dood in ’n vliegongeluk kom wraak neem op Rickus, wat hy vir die tragedie verantwoordelik hou. 

Rickus het destyds per ongeluk die hefboom van ’n vliegtuig afgedruk toe hy Suna (Anelle Ludik) probeer soen het. Die vliegtuig het in ’n verlate woud neergestort en Petro het later aan haar beserings beswyk. 

Tydens die gewraakte bomontploffing het die koffiewinkel Oppiekoffie in die slag gebly en een van die kelners, Kopano Sithole (Thabo Mhlanga), het gesterf. Esti het geheueverlies opgedoen en Rickus moes toekyk hoe die vrou met wie hy pas getrou het, in 'n inrigting opgeneem word. 

7de laan ontploffing
Foto: Instagram/@real7delaan

Die gesteelde geld en gyselaarsdrama in Suidooster

Vanjaar was dit die een drama ná die ander in die kykNET-sepie Suidooster. Ty (Maurice Paige) het ’n kar op ’n skrootwerf gekoop wat hy wou opknap en verkoop. Toe ontdek hy ’n sak geld daarin. Ty en sy broer, Wade (Dean Smith), en hul huismaat, die kelner Justin (Eden Classens), het toe besluit om die geld te hou.

Joy (Monique Rockman) het daarvan te hore gekom, met Nazeem Samsodien (Irvine van der Merwe) gekonkel en die geld uit hul huis gaan steel.  

Min het die spul geweet die geld behoort aan die skurk Samson (die Survivor SA-deelnemer Nathan Castle). Dié het in Ruiterbosch opgedaag op soek na die geld. En hy was uit vir bloed.

In ’n toneel saam met Eden Classens (Justin) en Mo
In ’n toneel saam met Eden Classens (Justin) en Monique Rockman (Joy). Foto: Verskaf

Nadat Samson Justin en Joy gyselaar geneem het en gedreig het om hulle leed aan te doen, het Nazeem opgedaag en Samson doodgeskiet. 

Ty het die kar en gesteelde geld aan die skrootwerf waar hy dit gekoop het terugbesorg en van die lyke ontslae geraak. En niemand het ooit weer 'n woord daaroor gerep nie.

Geslagsgebaseerde geweld-storielyne in 7de Laan en Arendsvlei

Beide hierdie Afrikaanse sepies het vanjaar die belangrike maatskaplike kwessie van geslagsgebaseerde geweld aangeraak. In 7de Laan het die prokureur André Vosloo (Marcus Muller), sy vriendin Mariaan Welman (Deirdre Wolhuter) eers emosioneel mishandel. André het sy pa op ’n jong ouderdom uit selfverdediging vermoor en sy verlede het by hom begin spook. 

Die emosionele mishandeling het later fisies geword en André het Mariaan verkrag.

Nadat die mishandeling eindelik ontbloot is en André aangekla is, is hy vroeg in Desember skuldig bevind aan verkragting en tronk toe gestuur. 

Marcus Muller se karakter, André, se aggressie nee
Marcus Muller se karakter, André, se aggressie neem oor en sy nuwe liefde, Mariaan Welman (Deirdre Wolhuter), moet dit ontgeld. Foto: 7de Laan

In die telenovelle Arendsvlei op kykNET & kie het die matrikulant Monique Ross (Robyn Rossouw) ook tragies aan haar einde gekom toe haar eks Bompie Galant (Jarrid Geduld) haar eers geteister het en haar later koelbloedig doodgeskiet het.

Die versteekte lyk in 7de Laan

DeWet Basson (Dirk Stoltz) is eintlik op sy eie ’n kraantjie vol skokke wat nie toegedraai kan word nie. Sedert hy laat in 2019 na Hillside teruggekeer het, het die sakeman al vir vele drama in die Laan gesorg.

Kykers het hom natuurlik herken as Ben, Sandra Stutterheim (Heléne Lombard) se handlanger, uit die sepie se vroeër jare. 'Ben' het die werklike DeWet Basson vermoor en sy identiteit aangeneem. 

In die jongste wending het DeWet die inwoners van die informele nedersetting in dié sepie aangemoedig om te betoog teen Chris Welman (David Rees) se beoogde plan om die grond in ’n oord te omskep. Dit het later op die lappe gekom dat DeWet, oftewel Ben, die ware DeWet se lyk op dié grond begrawe het en wou keer dat sy misdaad op die lappe kom. 

Steve Mortlock se moord in Arendsvlei

Min storielyne het die tonge so laat klap soos Steve Mortlock (Elton Landrew) se moord in die telenovelle Arendsvlei. Die een wat immers die sneller getrek het en hom doodgeskiet het, was die bose superfeeks Wendy Newman (Rehane Abrahams), met wie hy toe in 'n verhouding was. Hulle het op trou gestaan en Steve was boonop die pa van haar kind, Debra (Kay Smith).