Sy jongste karakter, Shawn Basson, in 7de Laan se huwelik met sy vrou, Lana (Mila Guy), word getoets nadat ’n ou vriend, Llewellyn (Liaan Ferreira), onlangs in Hillside opgedaag en sy liefde aan hom verklaar het.

Die storielyn waar Shawn met sy seksualiteit worstel, was baie uitdagend, vertel Deànré. Maar dit was vir hom belangrik dat die storie vertel word, sê dié talentvolle jong akteur.

Hoe was dit om die storielyn te skiet?

Dit was ’n groot emosionele uitdaging. Ek voel ook dit waardeur Shawn gegaan het, is nie iets waarin ek enige ervaring het nie, so dit was dikwels uitdagend om die regte emosie te kry. Dit is egter iets wat ongelooflik baie mense deurgaan en ek voel veral in ’n Afrikaanse landskap is hierdie ’n storie wat vertel moet word.

In ’n toneel uit 7de Laan saam met ­Liaan Ferreira
In ’n toneel uit 7de Laan saam met ­Liaan Ferreira, wat die rol van Llewellyn ­vertolk. Foto: 7de Laan

Wat het jy uitdagend gevind aan die storielyn?

As akteur vind ek al my emosies in toneel. Omdat ek nie presies weet wat dit is om deur die proses van selfontkenning te gaan nie, was dit uitdagend om emosioneel die tonele op die regte plek te plaas. Ek voel wel dat ek dit eindelik reggekry het.

Jou pa is ’n predikant. Het jy met hom oor die storielyn gesels?

My ouers is albei ondersteunend in my loopbaan en hulle verstaan daar is uitdagings waardeur akteurs moet werk. Ek het vlugtig met my pa gesels oor die rol en wat dit behels en hy, soos altyd, was uiters ondersteunend oor my besluite.

deanre reiners,akteur
Die akteur by sy ouers, Tryna en Dean. Foto: Verskaf

Hoe was dit vir jou om saam met Mila Guy te werk, wat die rol van jou vrou vertolk?

Ek en Mila verstaan mekaar en dis so maklik om van mekaar af te speel. Ek dink dis ’n baie waardevolle verhouding om met iemand op die stel te hê, veral as ’n mens aan sepies werk, omdat die karakters verander en groei. Daar was ook ’n interessante dinamika tussen my en Liaan Ferreira, wat Llewellyn speel. Ons het albei baie hieruit geleer.

Op ’n persoonliker vlak was dit nodig om die ondersteuning te hê om deur die dae te werk. Emosioneel en fisiek is jy opgebruik aan die einde van so ’n dag op die stel, en as dit nie vir Mila, Dirk Stoltz, Danielle Retief en Corine du Toit (wat onderskeidelik sy pa, DeWet, suster, Nikki, en ma, Erika Basson, speel) was nie, sou ek nie daardeur gekom het nie.

: Saam met sy 7de Laan-gesin. Van links is Dirk St
: Saam met sy 7de Laan-gesin. Van links is Dirk Stoltz, Mila Guy, Deànré, Danielle Retief en Corine du Toit. Foto: Instagram/@deanre_reiners

Met wie kom jy veral goed oor die weg op die stel?

Dis moeilik om te sê, maar die Bassongesin kom ontsettend goed oor die weg. Ek en Dirk (sy TV-pa) deel ’n aantrekkamer en is oor die algemeen dieselfde tye op die stel. Ek en hy het baie van dieselfde belangstellings en ek kyk ongelooflik baie op na hom as mens en as akteur. Ons het goeie vriende geword, en ek beskou hom as my mentor.

Ek het ook al baie saam met Danielle (sy TV-sus, Nikki) gewerk en buite die werkomgewing is ons goeie vriende. Mila ken ek al vandat ek in die bedryf begin werk het en Corine (wat sy ma, Erika, speel) is so ’n groot liefiemens en is altyd bereid om te luister.

By watter van die karakters wat jy al vertolk het, vind jy die meeste aanklank?

Elkeen van die karakters het iets wat naby is aan wie ek is as mens. My karakter Ruan in Getroud met rugby en Shawn in 7de Laan is albei ontsettend hardwerkend en doelgerig, dieselfde as ek. Emil (sy tienerkarakter in die hospitaaldramareeks Binnelanders) was wel ’n stoutgat en het gesorg vir baie lag, en ek wil graag dink dat ek ’n kattekwaad-foendi is.

Hoe is die lewe tans op die stel tydens lockdown?

Ek is ’n drukkie-mens, en om ewe skielik nie meer drukkies te kan uitdeel nie is aaklig. Dit het vir my ook ’n impak op toneelspel, waar jou natuurlike instink om nader te beweeg, hande te vat of net kontak te maak ter syde gestel word. Maar dit is die nuwe normaal en ons leer om daarby aan te pas.

Vertel vir ons meer oor jou gesin en grootwordjare.

My pa, Dean, is ’n predikant en my ma, Tryna, hoewel sy ’n regsgeleerde en maatskaplike werker is, het gekies om ’n tuisteskepper te wees toe ek, die oudste van drie broers, gebore is. Ek en my boeties, Henco (22) en Ricardo (19), is beste vriende en het ’n hegte band. Ek het in ’n pastorie in Kempton Park grootgeword en het aan die Helpmekaarkollege gematrikuleer.

Jy en ’n paar ander 7de Laan-akteurs het onlangs lyf gewys vir ’n fotosessie. Hoe bly jy fiks?

Om gesond te wees is ’n leefstyl. Ek was nog altyd iemand wat daarvan hou om te oefen en gesond te eet. En dit is so dat ’n mens soms nie lus het om te oefen nie, en in die vermaakbedryf word daar verwag dat ’n mens heeljaar lank goed moet lyk, so dit help om mense om jou te hê wat jou gedrewe hou. Meer onlangs het ek weer opnuut my liefde vir die buitelug ontdek en nou is dit ’n sosiale ding vir my en my naastes om ’n paar kilometer in die berge te gaan stap.

Is daar iemand spesiaals in jou lewe?

Ek en Marulet Venter is al vier jaar saam. Sy is my grootste ondersteuner, rots en die persoon wat ek die liefste het. Ons het deur haar sussie en my boetie ontmoet, en nadat ons die eerste keer koffie gaan drink het, het ek geweet sy is die een vir my. Ons het twee hondekinders, Pippa en Rosco. 

Deànré en sy meisie, Marulet Venter, by hul hondek
Deànré en sy meisie, Marulet Venter, by hul hondekinders, Pippa en Rosco. Marulet is sy rots, sê Deànré. Foto: Instagram/deanre_reiners