Testikulêre kanker is onlangs by sy karakter gediagnoseer en dit was vir André (34) belangrik dat die storie op ’n outentieke manier vertel word. 

“Die ergste ding sal wees as ek iemand met die siekte in die publiek moes raakloop en hy sê ek maak ’n gekkigheid van die siekte,” sê André aan Huisgenoot. Die oomblik toe hy uitvind sy karakter gaan kanker hê, het hy met die skrywers en regisseurs gesels. “Ek is baie bly hulle voer dit so goed uit,” sê hy. 

André wou ook weet waardeur mans gaan wat die siekte onder lede het. “Ek het gewonder hoe ek dit sielkundig en emosioneel moes speel.”

Hiervoor het André die organisasie More Balls Than Most, wat deel is van PinkDrive, genader. Hy het selfs die boeke van die Amerikaanse fietsryer Lance Armstrong, by wie dié kanker in 1996 gediagnoseer is, gaan lees om te sien hoe hy daardeur gekom het. “Ek was vasbeslote om die rol reg te speel.”

Hy sê sommige mans raak depressief ná hul diagnose, en ander, soos Rickus, word eers later deur die werklikheid van die siekte getref.  
Daar is steeds te min bewusmaking oor testikulêre kanker, sê hy. “Mans wil nie eintlik daaroor praat nie; dit is hoekom bewusmaking rondom die siekte vir my so belangrik is.” 

Op Rickus wag daar “baie drama en intrige”, sê André. “Die groot K affekteer hom baie. Omdat hy ’n alfaman is, gaan hy nou alles probeer doen om sy manlikheid te bewys. Maar hy sê dit hoef nie in die werklikheid so te wees nie. “Mans met dié kanker moet weet dit beïnvloed of bepaal nie hul manlikheid nie.”

Op die fikse André se Instagram-profiel sal jy gereeld foto’s van hom in die gim sien, of waar hy boks.   

A post shared by Andre Lotter (@andrelotter) on

“Ek kom uit ’n familie waar daar ook siektes was, en om daardie rede is ek groot op gesond lewe en oefening,” sê André. Sy pa, Willem (63), is drie jaar gelede oorlede ná ’n lewenslange stryd met die spiersiekte Becker se spierdistrofie, wat stadigaan spiere in die bene en pelvis verswak. “Hy is daarmee gebore, maar het op 12 begin snaaks loop.”

Hy onthou dat sy pa soms nie kon loop nie en later in ’n rolstoel was. “Om te sien hoe my pa nie kon loop of hardloop nie, was my aansporing om fiks te wees en ’n gesonde lewe te handhaaf.” Hier het sy bewusmaking rondom siektes begin, sê André. “Ek hoop mans bly nie stil oor kanker nie. Praat daaroor en kry die nodige hulp. 

“En as jy iemand ken wat die siekte het, moenie hulle bejammer nie; hê simpatie en wees daar vir hulle.” 

Vir nog inligting en hulp oor testikulêre kanker, besoek More Balls Than Most of Love Your Nuts.