Die dapperheid waarmee hy van sy genetiese afwyking praat, het nie net die Laan se kykers aangeraak nie, dit het ook sy mede-akteurs in trane gehad. 

Hector is ’n seun wat sy lewe lank teen stigmas moes veg om te oorleef. Sy ouers het hom verwerp omdat hulle glo hy is ’n "vloek", en toe is hy uit ’n kinderhuis in die Noord-Kaap ontvoer. 

Hy is later deur Vanessa en Karmen (vertolk deur onderskeidelik Ingrid Paulus en Gabriella Linton) in dr. Nathan Alexander (Vaughn Lucas) se spreekkamer gevind, waar hy dae lank onder die lessenaar geskuil het. 

Die verband tussen Nathan en Hector is steeds onduidelik. 

Toe hy eindelik teenoor Vanessa en Bonita (Hildegardt Whites) oop maak, het hy onmiddellik 7de Laan-kykers se harte geroer. 

"Hulle slag ons vir ons liggaamsdele. Hulle doen ook lelike dinge aan ons. Dit als omdat hulle dink ons is ’n kuur vir MIV/Vigs," het hy gesê. 

Bonita kyk toe na Vanessa en vra: "Bedoel hy verkragting?” waarna Vanessa haar kop geknik het om dié grudaad te bevestig.

albinisme,bewusmaking,7de laan,akteur
Lutendo Mugeri vertolk die rol van Hector in 7de Laan. Foto: Verskaf

Hildegardt vertel aan Huisgenoot dit was vir haar emosioneel uitputtend om die storielyn te vertolk. 

"Ons almal was so ’n bietjie in trane toe hy [Hector] ons vertel het oor dit wat hulle met die kinders doen. Dit was nogal rof om te skiet.

"Omdat ek self ’n ma is, kan ek net dink hoe dit moet voel," vertel Hildegardt, wat 'n 11 maande oue babatjie, Miles, het. 

"Ons het nog net gerepeteer; ons was nog nie eens op die vloer nie, toe was ons oë al so glanserig. En om te dink mense glo albinisme kan MIV/Vigs genees . . . dit was baie emotionally taxing gewees.”

Hildegardt erken sy was voor dié storielyn self nie bewus van die stigmas en die gevaar wat dit vir mense met albinisme inhou nie. 

Hoewel dit vir haar uitdagend was, vind sy nietemin die storielyn vervullend, "veral met die gedagte dat dit bewusmaking daar buite in die samelewing sal kweek".

"Dit is vir ons as akteurs lekker om hierdie tipe storielyne te vertolk. Ons het voorheen ook iets oor psigiese welstand gedoen. Sommige mense praat nie maklik daaroor nie."

7de Laan het op hul amptelike Twitter-profiel die rede agter hul bewusmakingsveldtog saam met ’n videogreep van ’n aktivis gedeel. 

"Op 21 Maart vier Suid-Afrikaners Menseregtedag. Die huidige albinisme-storielyn poog om bewustheid te skep vir mense wat met albinisme leef, en oor die mites en oortuigings wat die gemeenskap het wat tot sinnelose moorde lei.

"Daar moet meer gedoen word om mense se lewens te beskerm en bevorder – vir almal."