Agter die skerms

Hulle is elkeen deur diep waters voor hulle by mekaar troos gevind en een van Hillside se gunstelingpaartjies geword het. En toe Vince en Aggie ná al die jare aan mekaar trou beloof, sou één troue net nie genoeg wees om hul liefde te vier nie.

In die spesiale episode van die SABC2-sepie 7de Laan wat op Valentynsdag uitgesaai word, het die twee eers ’n konvensionele troue by ’n spoggerige trouplek gehou, en toe – ná die onthaal – ook ’n tradisionele Zoeloetroue om die bruid se herkoms te vier.

Die mense van Hillside was natuurlik almal daar om in die vreugde te deel, vertel Jacques Blignaut (40), wat die rol van Vince vertolk, met Huisgenoot se besoek op die stel.

7de Laan
Vince saam met sy strooijonker, Justin (Dann-Jaques Mouton), en sy kind, Christopher (vertolk deur Jiphtael Langeveldt). Foto: Creative Photography.

“Die lekker ding van hierdie plekkie, Hillside, wat ons begin het, is dat dit een groot gemeenskap is waar almal bymekaarstaan. As daar ’n groot geleentheid in iemand se lewe is, dan weet almal daarvan en almal moet dit bywoon,” vertel die akteur.

Dit was vir haar ’n groot voorreg om deel van dié episode te kon wees, sê Nobuhle Mimi Mahlasela (38), wat Aggie speel.

“Waaroor ek mal was van Vince en Aggie se troue, is dat dit eg was aan wie hulle as individue en as paartjie is,” sê Mimi.

Die troubeloftes was veral vir haar iets besonders.

“Hulle het dit amper so real geskryf as wat ek dit self sou geskryf het. Ek het regtig ’n verbintenis daarmee gevoel.”

Hul karakters was dalk aanvanklik ’n effens onwaarskynlike paartjie, vertel die twee akteurs.

“Aan die begin het aanhangers gereeld verbaas vir ons gevra hoekom Vince en Aggie in ’n verhouding is,” vertel Jacques.

“Maar nou stop hulle my en vra ‘Waar is Aggie?’ ”

En toe die bruid, geklee in ’n asemrowende skepping deur die ontwerper Gert-Johan Coetzee, die troubelofte aan haar Vince maak, kon almal wat die oomblik aanskou het nie anders as om sáám bly te wees nie.

Om te trou – selfs al is dit ’n kamma-troue – is harde werk, sê Mimi.

“Daar was regtig baie dinge wat moes gebeur. Ek neem aan dit is hoe elke bruid voel, want ek was nog nie self getroud nie.”

Die twee troues is oor twee dae by die 7de Laan-ateljee, Sesani Studios, in Highlands-Noord in Johannesburg verfilm. Jacques en Mimi is dit eens dat hul karakters se spesiale dag uitgetroon het bo enige ander wat al ooit in die Laan gehou is.

“Ek en Mimi is albei al 14 jaar by 7de Laan. Omdat daar al ’n paar mense deur die jare geloop het, is ons van die langstes hier,” verduidelik Jacques.

“Die hoeveelheid moeite wat die vervaardigers met hierdie troue gedoen het, wys vir my hoeveel hulle ons harde werk deur die jare waardeer.”

Mimi straal soos ’n regte bruid toe sy oor haar twee rokke vir die verskillende geleenthede praat.

“Ek het so luuks gevoel,” vertel sy oor die skeppings van Gert-Johan, een van Suid-Afrika se voorste ontwerpers. Want daar trou Aggie toe in ’n rok deur dieselfde ontwerper wat een van Demi-Leigh Nel-Peters, die voormalige Mej. Heelal, se uitrustings vir haar week lange bruilofsfees ontwerp het.

Gert-Johan het die maroen katpak ontwerp wat Demi-Leigh twee dae voor die troue by ’n aandpartytjie gedra het. Tog het Mimi die verfilming van die troue as net nog ’n werkdag benader.

“Ek het nie werklik tyd geneem om al die vervaardigingspan se harde werk agter die skerms om die troue besonders te maak te waardeer nie, want ons moes hard werk tydens verfilming,” verduidelik Mimi.

Eers later die dag, toe hulle foto’s moes laat neem, het haar weerkaatsing in ’n glasdeur haar oog gevang.

“Ek het amper omgeval!” lag sy. “Sonder om enigsins arrogant te wees: Ek het asemrowend gelyk.”

Haar bruidegom het nie by haar afgesteek nie. Vince was die sjarme self – eers in ’n spoggerige snyerspak en toe in ’n tradisionele uitrusting vir die Zoeloetroue.

7de Laan
Onder die gaste was Justin (Dann-Jaques) en Bonita (Hildegardt Whites). Foto: Creative Photography.

Jacques lag toe hy die troue met sy eie troue meer as ’n dekade gelede vergelyk.

“My troue was grand, maar beslis nie so grand soos hierdie TV-troue nie. As ek Vince se lewe kon gehad het . . . jinne. Veral daardie pak wat hy gedra het.”

Maar op dié troue kon hy nie soos by sy eie van die troukoek eet nie.

“Daar was een, maar ek dink nie dit was ’n regte koek nie. Ek het ’n soettand en sou beslis ’n stuk geëet het as ons kon,” spot die akteur.

By die tradisionele Zoeloetroue was die umqombothi (tradisionele bier) wat almal uit ’n pot moes drink as deel van die trouseremonie ook nie die ware jakob nie, maar ’n niealkoholiese bier wat die vervaardigingspan by ’n winkel gekoop het.

“Ek het regtig gehoop dat daar umqombothi in die pot is – ek sou dit nogal waardeer het!” terg Jacques. Hy draai ingedagte die trouring aan sy linkerhand terwyl ons gesels.

Die silwerring – Vince s’n – is effens te groot vir hom. In die aanloop tot die troudag was Aggie gespanne oor watter ring gepas sou wees, tot Vanessa (Ingrid Paulus) Vince se oorlede pa, Neville (Zane Meas), se trouring gevind het.

7de Laan
Natuurlik het die hele Laan Vince en Aggie se spesiale dag bygewoon. Esti (Reandi Grey) en Rickus (André Lötter). Foto: Creative Photography.

Neville en Aggie het van die begin af ’n baie hegte band gehad en hulle het baie vir mekaar omgegee, verduidelik Jacques. En toe Neville sterf en Jacques se karakter daarna van Bonita skei, was dit Aggie wat hom ondersteun het.

“Dit is wonderlik dat dié twee nou eindelik trou,” sê Jacques.

Ná al die duwweltjies op Aggie se eie pad na liefde dink sy haar karakter is net so bly oor hoe als uitgewerk het en hoe gelukkig sy nou is, voeg Mimi by.

“Die feit dat Vince nou Neville se trouring dra, simboliseer hul eenheid vir my,” sê sy.

Hy kom met sy eie trouring by die werk aan, vertel Jacques. “Dan sit ek Vince se ring aan en ek is dadelik in karakter.

Wanneer ek saans die ring afhaal en grimering afwas en my eie trouring aansit, dan is ek reg vir my gesinslewe,” sê hy.

Jacques en sy vrou, Melanie (38), vier op 30 Mei hul 11de huweliksherdenking en het drie kinders saam. Sy goue reël vir ’n gelukkige huwelik is om nie kwade gevoelens te koester nie en heeltyd te kommunikeer.

Dít is iets wat hy en Melanie met Vince en Aggie gemeen het, vertel Jacques. Mimi is al meer as 20 jaar in ’n verhouding, maar wil haar lewensmaat en hul verhouding privaat hou.

7de Laan
Alexa (Carina Nel) en Fikani (Nicholas Nkuna) was ook gaste by die troue. Foto: Creative Photography.

As dogtertjie het sy ook van ’n weelderige troue gedroom. Maar nou dink sy een uitspattige troue was genoeg vir haar, vertel die aktrise.

“Ek gaan moontlik eendag met my All Star-tekkies en ’n bottel sjampanje kansel toe stap. Ek het nooit gedink my perspektief oor ’n groot troue sal verander nie, maar ek ken sy hart en hy myne.”

Net so verstaan haar karakter en Vince mekaar baie goed, en hul liefde vir mekaar skemer in als deur, vertel Mimi. Vince is so goed vir Aggie dat sy skaars kan glo Aggie het hom al die jare misgekyk, voeg sy by.

“Ja, hy was getroud en sy was in ’n paar verhoudings, maar hóé het dit Aggie so lank gevat om Vince hier reg onder haar neus raak te sien? Sy is geliefd, sy word ondersteun en waardeer – ek dink eerlikwaar sy is baie bevoorreg.”

Jacques is net so liries oor sy TV-bruid: “Aggie is net die oulikste meisie in die wêreld, en almal weet dit.”

Nou kry die Laan se oulikste meisie en ordentlikste man eindelik hul kans op ewige geluk. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.