Wat geniet jy van jou rol as die prokureur André Vosloo? En hoe verskil julle?

Wat ek die meeste van toneelspeel geniet, is die magic wat op kamera gebeur. Met my vertolking probeer ek om dit so na moontlik aan die teks en waarheid te hou.

In terme van hoe ons verskil: Ek is grootgemaak dat jy nie aan ’n vrou raak nie, maak nie saak wat nie.

Hoe voel jy oor kwessies soos vrouemishandeling in 7de Laan se storielyne?

Ons het nou die dag ons 20ste verjaardagviering by die werk gehad.

Thandi Ramathesele, ons vervaardiger, het ons bymekaargeroep en ’n baie belangrike ding gesê: As 7de Laan het ons ’n maatskaplike verantwoordelikheid om ons uitsaaier as ’n verantwoordelike spreekbuis te gebruik.

Ek’s trots daarop dat ons hierdie kwessies op dié manier kan aanroer.

Beweeg André se aggressieprobleem na ’n klimaks toe?

Weet jy wat gebeur met ’n ou sweer wat nooit gesond word nie? Daar kom ’n dag dat hy bars, en André se sweer het nou gebars.

Al die negatiewe dinge wat met hom gebeur het, soos trauma en teleurstelling, werk hulself almal op ’n ander manier uit.

André het as ’n klein seuntjie gesien hoe sy pa sy ma probeer doodmaak, en dit manifesteer in gevare en woede in die grootmenswêreld.

André se betrokkenheid by die vegklub was ’n oppervlakkige manier om te wys wat onopgeloste probleme later kan veroorsaak. Hulle moet mos nou die storie van soveel kante moontlik vertel, so hierdie een het baie meer diepte.

Hoe was dit om die tonele saam met Deirdre (Mariaan) te verfilm?

Dit was moeilik en teen my aard, maar Deirdre is net amazing.

Wanneer sy toneelspeel, is die dinge wat sy vir my teruggee so real.

Marcus Muller se karakter, André, se aggressie nee
Marcus Muller se karakter, André, se aggressie neem oor en sy nuwe liefde, Mariaan Welman (Deirdre Wolhuter), moet dit ontgeld. Foto: 7de Laan

Die tonele én die teks het my ontstel, en jy moet op ’n manier ontslae raak van daai emosies wanneer jy by die huis kom. Ek het elke nou en dan lekker in die bad gehuil.

Wat dink jy is André se grootste probleem? Gaan hy eindelik hulp kry?

Ek weet nie wat hy gaan doen nie, maar die laaste ding wat hom getref het, it hit home, want die gemeenskap van Hillside het hom verwerp en behandel asof hy ’n melaatse is.

Ek weet nie of hy gaan regkom en wat gaan gebeur nie.

Baie keer sê mense: Gaan vir hulp.

Maar partykeer moet hulp van binne af kom, en ek weet nie of mense dit dalk verloor het nie.

Krukke kan vir baie dinge gebruik word, en selfs terapie kan ’n kruk wees en ’n verskoning om nie aan myself te werk nie, want ek wag vir die sielkundige om my reg te maak.

Erika Basson (Corine du Toit) troos ­Mariaan nadat
Erika Basson (Corine du Toit) troos ­Mariaan nadat André die ­eerste keer sy hand vir haar gelig het. Kykers het al voorheen ’n donker kant van André in die reeks gesien. Marcus sê 7de Laan se vervaardigers voel hulle het ’n openbare verantwoordelikheid om maatskaplike kwessies in hul storielyne aan te pak. Foto: 7de Laan

Het kykers jou al uitgetrap oor André se streke?

Ek hoor daar is baie reaksie aanlyn daaroor – dis presies wat ons wou gehad het. Ek is nie vreeslik aktief in die sosiale media nie, juis omdat ek in die openbare oog is.

Tog vra ek wel mense se mening oor my werk en die storielyne.

Marcus Muller se karakter, André, se aggressie nee
Marcus Muller se karakter, André, se aggressie neem oor en sy nuwe liefde, Mariaan Welman (Deirdre Wolhuter), moet dit ontgeld. Foto: 7de Laan

Ek het wel al vir die mense by die werk gesê ek gaan my inkopielys vir hulle bring, want ek sal nêrens heen kan gaan nie.

Jy was in Egoli ’n regskonsultant, en in Villa Rosa en 7de Laan is jy ’n prokureur. Het jy familie in die regsberoep?

Ja, toevallig is my sussie, Nadia Galloway (39), ’n advokaat, maar dis nie van so ’n aard dat ek met haar oor dinge sal praat nie.

Die storie lê nie in die feit dat hy ’n prokureur is nie, maar wat die prokureur doen.

Met al die dinge wat nou met André gebeur, weet ek ook nie hoe lank hy nog ’n prokureur gaan wees nie.

In 2006 was jy Mnr. Suid-Afrika. Doen jy nog modelwerk?

Nee, ek het verlede jaar tydens ’n modeweek weer op die loopplank geklim.

Dit was ’n interessante ervaring, want dit is iets wat ek nog in my studentejare laas gedoen het.

Ek het hopeloos te grys gevoel daarvoor, maar kom ek stel dit so: Ek is bly ek doen dit wat ek nou doen.

Hoe ervaar jy die inperking?

Ek is mal oor die lockdown en dat my dae nou so mooi skoon is. Ek het maar net weer gesien met hoe min ’n mens eintlik kan klaarkom.

Ek kan nou weer stap wanneer ek wil en iewers heen ry sonder dat dit voel iemand kyk oor my skouer.

Die feit dat ek werk toe kan gaan, skep ’n lekker balans.

Ons skiet nou Saterdae ook, maar nie elke liewe Saterdag nie en net soos wat nodig is.

André se liefdeslewe is maar lekker morsig, en sy eksmeisie Connie (Quinne Brown Huffman) is swanger. Is jy weg van die kameras darem in ’n gelukkige verhouding?

Op sy ouderdom sien André nog kans vir baie moeilikheid in sy verhoudings. Ek het nie eens ’n liefdeslewe nie.

Wat André se baba by Connie betref, is daar ’n hengse kinkel in die kabel. Daar kom drama.