Ons gesels met Quinne Brown Huffman (39), wat die rol van Connie vertolk, oor die nuwe wending in haar karakter se storielyn. 

Connie het in Oktober verlede jaar ’n gesigwond opgedoen nadat ’n gestoeiery tussen Xander en ’n Haven-soldaat uitgebreek en ’n bom afgegaan het. Dit blyk egter dat Connie se grootste wond nie fisiek is nie, maar wel psigies.

Connie,7de Laan
Foto: Instagram/@quinnebrown

Sy verwyt haar vriende in die Laan en tree vreemd op teenoor diegene wat haar wil ondersteun, insluitend haar nuwe assistent, Emile.

Quinne, wat een van die oorspronklike karakters in die bekende sepie vertolk, het 7de laan in 2004 verlaat en na Amerika verhuis. 

Sy het in 2016 teruggekeer met haar karakter wat ’n somber geheim weggesteek het. Connie se man, Matt, het haar fisiek aangerand en hy het haar boonop emosioneel afgepers.

"Dis groot pret om te gaan van ’n baie nice mens wat mense vergewe en vergeet, na ’n karakter met so ’n donker kant.” 

Volgens Quinne is die skrywers van 7de Laan besig om die gewilde sepie van ligte huisvermaak na een met relevante opvoedkundige fasette in die samelewing te neem – ’n skuif waaroor sy opgewonde is. 

"Die innerlike reis waarop #connie gaan ná haar brandwond, is een wat ek glo baie mense onderskat. Ek het ná ek 'n paar onderhoude met brandslagoffers gesien het en die trauma wat ek persoonlik al beleef het (en dit na die donkerste plek toe gevat het), dit maklik gevind om met #connie te identifiseer. Brande en vuur, veral bomme, is so aggressief en kwaai,” het Quinne vroeër op Instragram geskryf by ’n foto waar sy in die grimeerstoel sit om in Connie omskep te word. 

Volgens Quinne is psigiese gesondheid ’n kwessie wat "ons samelewing sukkel om die nodige erkenning en empatie te gee". 

Stoere 7de Laan-kykers het ook in die sosiale media hul stem dik gemaak oor Connie se storielyn.

"Hoekom sal julle maak dat ons so ’n goeie karakter haat?" wou een op YouTube weet. "Julle kon iets beter gedoen het met die storielyn, soos om ’n sterk, onafhanklike vrou uit te beeld wat nie omgee wat mense oor haar gesig sê nie. Daar is mense wat suuraanvalle oorleef wie se hele gesig gebrand is, maar wat steeds meer vertroue het.”

"Almal veg hul gevegte anders," het nog 'n 7de Laan-aanhanger op YouTube laat hoor. Sommige aanvaar dit dalk, ander ná ’n baie lang tyd en party nooit nie, vertel die. “My oom is ’n slagoffer van ’n suuraanval. Dit het hom blind gelaat. Hy kan nie sien hoe mense hom aanstaar nie. Dit het hom jare geneem om te aanvaar wat met hom gebeur het."