Hilda het vroeër vanjaar na die Moederstad verhuis.

"Ek woon deesdae in Bloubergstrand in Kaapstad. Dis ’n lekker stil woonbuurt en ek is baie gelukkig hier,” vertel Annelisa (70) aan Huisgenoot.

Die aktrise maak vanaand haar debuut in die sepie Suidooster. Annelisa daag onverwags op in Ruiterbosch as die apteker-assistent Michelle Gerber (Greta Pietersen) se ma, Kate de Vos. 

annelisa weiland,aktrise,suidooster
Annelisa vertolk die rol van Michelle Gerber (Greta Pietersen) se ma, Kate Vosloo. Foto: kykNET/Suidooster

“Kate is ’n gesofistikeerde vrou en kom uit ’n classy agtergrond. Sy was vir die meeste van haar lewe ’n huisvrou en ma vir haar en haar man (’n sakeman) se drie kinders,” vertel sy oor haar karakter. 

“Sy daag skielik op by haar dogter, maar kykers sal moet wag en sien hoekom,” sê Annelisa.

Annelisa het in Augustus vanjaar na Kaapstad verhuis om permanent by die Suidooster-span aan te sluit nadat sy vir byna 50 jaar in Johannesburg gewoon het. 

“Ek het alreeds op 4 September aan my eerste tonele vir Suidooster begin verfilm,” vertel sy. 

annelisa weiland,aktrise,suidooster
Kate se aankoms in Ruiterbosch vang Michelle en Stefan onkant. Foto: kykNET/Suidooster

7de Laan-kykers was vroeër vanjaar platgeslaan toe die aktrise aangekondig het sy gaan Hillside na byna twee dekades verlaat en na Kaapstad verhuis. 

Gelukkig was dit nie die laaste sien van Annelisa op die kassie nie. 

Annelisa WeilandFoto: 7de Laan

Die aktrise het in Julie vanjaar haar debuut gemaak in die kykNET-komedie Lui maar op, Belinda as die afgetrede onnie Annetjie wat in die hoekwinkel Ian en Ander op George werk.

Sy het in die reeks vir die eerste keer teenoor die aktrise Brümilda van Rensburg gespeel. 

“Annetjie is totaal anders as Hilda, sy vat nie nonsens nie,” het Annelisa voorheen aan Huisgenoot vertel

“Al voel mens nie gevlei deur jou eie voorkoms nie, is dit heerlik om in ’n ander karakter se skoene te klim en iets anders te doen,” het sy destyds gesê.

Annelisa is nie al oud-7de Laner wat in Ruiterbosch 'n draai maak nie.

Frank Rautenbach (47), wat die rol van Tiaan in Hillside gespeel het, is vanaf einde Desember ook vir twee maande in Suidooster te sien. En van wat sover bekend is gaan daar sommer hope drama wees!