Dié twee is bekend aan die Laan se aanhangers as Paula van der Lecq en Altus de Bruyn wat kykers deur die jare met hul aan-af-romanse vasgenael voor hul kassies gehou het.

Op die een foto wat Diaan met haar meer as 42 000 Instagram-volgers gedeel het, staar sy as Paula liefdevol vir haar Altie. Op ’n ander sit sy op sy skoot en gee hom ’n soen op die wang.

By die kiekies skryf sy: “Ek en hierdie ou het vir 11 jaar op die kassie kêrel/meisie/man/vrou gespeel. Dit is baie lank! Ons het in mekaar se vreugde en hartseer gedeel,” skryf Diaan.

“Ek kyk na hierdie foto’s vol liefde en deernis,” laat sy hoor. 

Diaan en Heino het by dié sepie aangesluit kort nadat dit in 2000 begin het. Diaan het in 2016 die Laan vaarwel toegeroep en Heino kort daarna. 

Sy en Heino het mekaar deur die jare bygestaan, vertel Diaan aan Huisgenoot.

“Ek en Heino het verskriklik baie pret op stel gehad. Ons het lekker gelag en het mekaar gemotiveer wanneer ons baie werk gehad het. En in 11 jaar gebeur daar baie dinge. Ek het twee kinders gehad en arme ou Heinie moes met ’n swanger vrou twee keer toneel speel,” vertel Diaan laggend.

“Ons het vertroue tussen mekaar opgebou as mede-akteurs, en ek dink dis belangrik dat daar wedersydse respek is sodat mens lekker kan saamwerk.” 

En hul TV-romanse? 

“Ek dink dit was baie aan en af. Die skrywers was baie slim om die verhouding warm en koud te hou. Hulle was twee keer getroud, hulle is saam en dan is hulle nie. Dit het goed gedoen om die gehoor invested in hul verhouding te hou.” 

Hoewel die Hillside-paartjie op die ou end uitmekaar is nadat Altus vir Paula verneuk het, is Diaan en Heino in die regte lewe nog steeds vriende.

In haar onlangse Instagram-plasing skryf sy juis: “Ek is bly oor die tyd wat ek by die Laan spandeer het, en ek is trots op die reis wat ek daarna geneem het. Ons het albei as kunstenaars en mense gegroei, en ek is so bly dat ons steeds vriende is.”

Diaan is omtrent bedrywig ná die Laan.

Sy was onder meer te sien in die fliek Raaiselkind as die ma van ’n outistiese seun.

Sy en haar man, die akteur Jody Abrahams (45), is ’n gedugte span en woel ook saam agter die skerms. Hulle het saamgewerk aan die televisiereeks Wakkerslaap, die VIA-program oor die sanger David Kramer, asook Agterplaas-geraas, wat ook op VIA is.

Jody is ook tans te sien as die onverskillige Lionel in die telenovelle Arendsvlei op kykNET & kie. Tussendeur maak Jody en Diaan ook hul twee spruite, Olivia Rose (8) en Thomas (5), groot – iets wat hulle “baie besig hou”.

Haar pel Heino wys weer sy veelsydigheid as bestuurder van sy eie ontwerpsonderneming, Heino Schmitt Design. 

 Sal Paula weer ’n draai in 7de Laan maak?

“Ek dink dit hang van die Laan af,” laat Diaan laggend hoor. “Ek sal beslis oop wees om te kom kuier.”