Rosa-Mari le Roux, publisiteitbeampte van 7de Laan, het bevestig dat David Rees, wat die rol van die suksesvolle en gedrewe sakeman Chris Welman vertolk, die sepie eersdaags groet.

Our #MCM is @David_rees_actor also known as Chris! #7delaan

A post shared by 7de laan (@real7delaan) on

Hy verfilm nog tot 31 Julie by 7de Laan en sal tot 19 Oktober op die kassie te sien wees.

Rosa kon nie in die stadium sê waarom hy die sepie verlaat nie.

“David was die afgelope twee jaar ’n waardevolle deel van 7de Laan en sy bydrae word hoogs waardeer,” sê sy.

Kykers sal tot Oktober moet wag om te sien presies hoe David se karakter Hillside verlaat.

Die Welman-gesin het ná jare in die buiteland in 2016 teruggekeer Suid-Afrika toe. Op die oog af was Chris, sy vrou, Mariaan (Deirdre Wolhuter), en drie kinders, Rikus (André Lotter), Alexa (Carina Nel) en Amorey (Kristen Raath) so volmaak as kan kom, maar namate kykers hulle beter leer ken het, het die krake begin wys.

Talle geraamtes het uit die kas begin val. Die afgelope paar dae was daar weer groot drama in Hillside toe Chris planne beraam om Mariaan te probeer help om uit die tronk te ontsnap en sy geskiet is. 

David, wat in sy Egoli-dae as Niek Naudé te sien was, kon nie Dinsdagmiddag vir kommentaar bereik word nie.