Die aktrise Hildegardt Whites sal nooit die dag vergeet toe sy uitgevind het dat sy die rol van Grace van Wyk in die nuwe telenovelle The Estate op SABC3 losgeslaan het nie.

Dié telenovelle het Maandag 5 April op die kassie begin wys. 

Vanaf Vince en Bonita in 7de Laan tot Martin en Gr
Vanaf Vince en Bonita in “7de Laan” tot Martin en Grace in “The Estate”. Dié twee is al boesemvriende sedert hul eerste keer saam op die kassie. Foto: Verskaf/ Clive Morris Productions

“Ek en Jacques Blignaut was albei op die stel van 7de Laan toe ek die nuus hoor,” vertel sy. “Ek het toe al geweet hy gaan daar werk.

“Ek het na hom toe gehardloop en vir hom gesê: ‘Ek gaan weer jou vrou speel,’ ” vertel sy. 

Nadat sy hom die nuus vertel het, was albei in hul noppies. 

“Ek was kinderlik opgewonde en so baie dankbaar vir die geleentheid om weer saam met my maat te kon speel,” sê sy. 

Jacques, wat die rol van Martin van Wyk vertolk, was net so bly oor die goeie nuus. “Ek was in ekstase. Ek dit glad nie verwag om só gou weer teenoor haar te speel nie,” vertel hy. 

En sosialemediagebruikers het omtrent gegons oor dié twee wat weer saam op die kassie verskyn.

Jacques Blignaut en Hildegardt Whites uit 'n tonee
Jacques Blignaut en Hildegardt Whites in ’n toneel uit “The Estate”. Foto: Verskaf/ Clive Morris Productions

“Weet Aggie (Mimi Mahlasela) dat Vince nie op die bootreis Kanada toe is nie?” het een gebruiker in die sosiale media gespot. 

’n Ander een het gespot dat die karakters van 7de Laan na The Estate weggehardloop sodat hul liefde kan blom. 

“Ek hoop nie Vince het enige broers in The Estate nie, anders sal Bonita hulle vir haar vat as sy weer herstel,” het nog een laat hoor. 

Jacques Blignaut en Hildegardt Whites as Grace en
Jacques Blignaut en Hildegardt Whites as Grace en Martin van Wyk in “The Estate”. Foto: Verskaf/ Clive Morris Productions

Volgens Hildegardt en Jacques kan hulle nie genoeg van die skreeusnaakse reaksies kry nie. “Ek het dit so vlugtig in die sosiale media gesien,” vertel Hildegardt.

“Ek het lekker gelag. Die kykers was destyds baie lief vir Vince en Bonita. Dit het my eintlik ook nostalgies laat voel oor die blommemeisie en die deli se sjef,” vertel Hildegardt. 

Volgens Jacques is hy ook darem bly dat mense nog oor hul karakters praat. “Dit het baie gehelp dat ons vir só lank man en vrou op 7de Laan gespeel het, en ek is baie dankbaar vir ons vriendskap,” vertel hy.

Hildegardt se teenwoordigheid by The Estate het ook Jacques se oorgang tussen die reekse baie makliker gemaak, voeg die akteur by. 

Totsiens, '7de Laan'

Jacques het kykers verlede maand geskok toe hy ná 15 jaar aangekondig het dat hy die karakter Vince Meintjies in die sepie 7de Laan gaan groet. 

“Ek wou nog altyd baie ander rolle vertolk het, maar ek het verantwoordelikhede gehad. Toe ek my oë weer uitvee, was dit 15 jaar later. 

“Daar was ander kere dat ek gedink het dis tyd, maar duidelik was dit nie. Toe skielik kry ek ’n nuwe rol en alles val in plek," het die akteur vroeër aan Huisgenoot vertel. 

Die akteur het in Januarie vanjaar begin skiet aan The Estate, en hy was veral opgewonde oor dié nuwe avontuur. 

Jacques vertolk die rol van Martin, ’n mediese dokter wat sy werk baie ernstig opneem, veral omdat sy vrou aan ’n terminale siekte ly.

“Hy is verskriklik lief vir sy vrou, Grace, en sy 15-jarige dogter, Tessa (Carla Classen),” vertel Jacques. Die egpaar is ook baie goeie vriende met die Phakatwayo’s, om wie se lewe die telenovelle hoofsaaklik draai.

Grace en Martin kom al ’n lang pad saam, meen Jacques. “Hulle is beste vriende, sielsgenote en daardie paartjie wat ander jaloers maak omdat hulle só verlief is,” vertel Jacques. 

Volgens Hildegardt is Martin en Grace se verhouding net so vurig soos Bonita en Vince s’n destyds was. “Hulle het ook ’n vurige verhouding, maar die hout van hul vuur is die soort wat nie uitbrand nie. Hul vuur is die soort wat die huis warm hou,” vertel sy. 

Meer oor die reeks

Volgens die uitvoerende regisseur, Khayelihle Dom Gumede, handel The Estate oor die gaping tussen ryk en arm in Suid-Afrika.

“Dit is ’n moderne en komplekse gesprek oor die huidige sosiopolitiese realiteite in Suid-Afrika,” vertel hy. 

Die reeks handel grotendeels oor die konflik tussen die grootbaas, Muzi Phakathwayo (Sdumo Mtshali), wat ’n baanbreker- luukse landgoed in swart besit geskep het, en die gemeenskapsman Shadrack Mokobane (Don Mlangeni) en sy gesin wat ’n grondeis teen Muzi uitgereik het.

“Dit vorm die grondslag vir baie drama wat ontvou soos wat die spanning oor die grondeis toeneem,” verduidelik Khayelihle.

  • The Estate is weeksdae om 19h00 op SABC3
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.