Foto: Instagram (@real7delaan)/Verskaf
Foto: Instagram (@real7delaan)/Verskaf

“Ná 15 jaar van met die wonderlikste groep mense saamwerk is dit nou tyd vir ’n nuwe avontuur. Ek hoop julle sal by my aansluit op my volgende reis, terwyl ek nuwe plekke verken en nuwe bande vorm. Ek weet dit sal geseënd wees,” het die akteur in ’n emosiebelaaide inskrywing op Instagram laat hoor.  

Hy het nooit verwag om so lank aan een produksie te werk nie, vertel Jacques aan Huisgenoot ’n paar dae ná sy laaste episode uitgesaai is. Die tonele is eintlik al op 8 Desember 2020 geskiet. 

“Ek wou nog altyd baie ander rolle vertolk het, maar ek het verantwoordelikhede gehad en toe ek my oë weer uitvee, toe is dit 15 jaar later.

“Daar was ander kere waar ek gedink het dis tyd, maar duidelik was dit nie. Toe skielik kry ek ’n nuwe rol en alles val in plek. Ek het vrede daarmee gehad om 7de Laan te verlaat,” vertel hy. 

In Januarie vanjaar het hy begin skiet aan ’n nuwe telenovelle, The Estate, wat op 5 April op SABC3 begin.

Om tot siens te sê was baie emosioneel, verklap hy, maar hy moes sterk staan voor die kameras.

“In die storielyn gaan Vince nie vir ewig weg nie, maar 'n mens weet nie hoe lank dit sal wees voor hy weer ’n verskyning maak nie. So in my laaste toneel moes ek die huilery maar terughou, al wou ek snot en trane huil. Die laaste toneel was steeds baie mooi,” laat hy hoor. 

In Maandag se episode het Vince en sy vrou, Aggie (Mimi Mahlasela), eers na die eilandparadys Zanzibar vertrek voor hy vir twee maande Kanada toe gaan om 'n beoordelaar van ’n kookkompetisie in dié land te wees. 

trou
Aggie en Vince se troualbum. Foto: 7de Laan

Jacques voeg ook by dat hy in sy tyd as Vince baie geleer het oor die verskillende aspekte van die vermaakbedryf. 

“Ek was maar 26 toe ek by 7de Laan begin het, en tot in daardie stadium het ek nog net in Engels gewerk. My Afrikaans het oor die jare baie verbeter. 

“Ek is baie dankbaar aan die legends in die bedryf by wie ek geleer het, Roelien Spruyt en Henry Mylne (die vervaardigers van 7de Laan) en Karin Retief (die dialoogafrigter), om net ’n paar name te noem. Ek het ook baie geleer oor hoe om publisiteit te hanteer omdat 7de Laan so gewild is,” sê hy. 

Bo alles gaan hy die akteurs, produksielede en ander rolspelers by 7de Laan mis. 

“Almal is regtig ongelooflik. In my tyd daar het baie mense gekom en gaan, en die atmosfeer was altyd net fantasties. Nuwe mense kon nooit glo hoe lekker almal oor die weg kom nie.”

Jacques en Melanie by hul kroos, Angelique, Emmanu
Jacques en Melanie by hul kroos, Angelique, Emmanuelle en Raphael. Foto: Kevin Mark Pass Photography

Deur al die opwindende, nuwe dinge bly Jacques se prioriteit hom en sy vrou, Melanie, se kroos. Die egpaar het twee dogters, Angelique (10) en Emmanuelle (8) en 'n seuntjie, Raphael (4). En dit lyk of die akteursgogga die kleinspan sommer behoorlik beet het. 

“My kinders hou baie van die bedryf waarin ek werk, en ons het begin om saam ons eie familiekortflieks te skiet,” laat hy hoor. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe