Soveel water het in die see geloop sedert die akteur Theodore Jantjies dié regsman op die SABC2-sepie 7de Laan begin vertolk het. En in Januarie vanjaar, ná soveel jare, moet kykers met ’n skok van Xander afskeid neem toe die karakter deur ’n kar doodgery is.

Dit is hoekom sepie-liefhebbers verheug is dat Theodore nou as Jordan James, die Stryders se nuwe kondisioneringsafrigter, in die kykNET-sepie Getroud met rugby te sien is. 

Maar die twee karakters, Xander en Jordan, verskil hemelsbreed, vertel Theodore.

“Xander het altyd sy werk en die lewe so ernstig opgevat. Jordan is baie gemakliker as wat die Xander-karakter was,” verduidelik Theodore. “Jordan is warmer, vriendeliker en meer relaxed vergeleke met Xander. Ek hou van Jordan omdat hy so ’n warm mens is,” voeg hy by.

Theodore Jantjies
Theodore en Altus Theart in 'n toneel. Foto: Verskaf.

Hoewel Theodore eers aan die einde van Mei vanjaar by Getroud met rugby begin verfilm het, het hy al einde verlede jaar geweet dat hy by dié sepie sou aansluit. 

“Alles in my lewe is nou so nuut. Wat ek by 7de Laan gedoen het en die karakter wat ek gespeel het, is nie eers meer in my kop nie,” lag hy.

Theodore het in Desember verlede jaar met sy jare lange meisie, Tammy, getrou. In die tydjie weg van die skerm, kon hy ook baie spesiale oomblikke saam met hul eersteling, Shiloh, beleef. 

“By 7de Laan het ek nie altyd soveel tyd gehad om by die huis of by my seuntjie te wees nie,” sê Theodore.

“Dit was lekker om te sien hoe my seuntjie ouer word in daardie periode wat ek by die huis was. Ek lag my klaar, want hierdie man se geselsies is nou op ’n ander level,” vertel hy oor die kannetjie wat in Januarie vanjaar twee jaar oud geword het.

View this post on Instagram

..and out of the blue, sak die man af..

A post shared by Theodore Jantjies????Actor (@theodore_jantjies) on

Theodore het 14 jaar lank die rol van Xander vertolk en aanpassing by sy nuwe sepie-tuiste het beslis uitdagings én vreugde gebring.

Een van die uitdagings is dat hulle met twee kameras by Getroud met rugby verfilm, en nie drie soos by 7de Laan nie.

“Die skote neem soms langer, want daar is meer setups om al die skote te kry. Dit vat so ’n bietjie langer, maar dan het jy tyd om in die toneel te kom en al die nuanses te speel,” sê Theodore.

Theodore Jantjies
Theodore en David Louw. Foto: Verskaf.

“Ek is die soort akteur wat daarvan hou om my oomblikke te neem en te dink oor die subteks binne die toneel. En hier het ek nou weer die geleentheid om dit te doen en dit is so lekker,” vertel hy.

Theodore besef dat dit aanvanklik nie maklik gaan wees om Xander af te skud nie. “Mense gaan my nog sien as die ou wat in 7de Laan was, maar ek dink namate die storielyne van Jordan vir my gegee word en ek regtigwaar my naels daarin slaan, sal mense begin glo in Jordan. Ek sien uit na daardie journey,” vertel Theodore.

Theodore Jantjies
Foto: Verskaf.

Kykers het Maandagaand met Jordan kennisgemaak nadat hy pas uit Nieu-Seeland teruggetrek het Suid-Afrika toe. En kykers sal in afwagting moet dophou hoe sy verlede en ’n tragiese gebeurtenis wat hom aanvanklik laat verhuis het, stelselmatig sy hede beïnvloed. 


“Daar is beslis ’n groot storielyn oor iets wat jare gelede met hom gebeur het, wat aan die kom is,” terg Theodore sonder om meer te verklap.