Sedert Matrone en Hilda onlangs vir Diederik gevra het om met Alexa te praat, raak dit vir haar ál moeiliker om dit te ontken: Sy ly aan bulimie.

Terwyl die res van die Welman-gesin in die sepie 7de Laan met die terugkeer van Zelda (Amor Vittone) en haar aangenome dogter, Mienkie (Marijike Bezuidenhout), se swangerskapsnuus wroeg, is dit Alexa wat dringend hulp nodig het.

“Dit is ’n ongelooflike storielyn vir my om te speel omdat so baie mense met eetsteurings sukkel,” vertel Carina Nel aan Huisgenoot oor die skok dat Alexa aan dié siekte ly.

Die 31-jarige aktrise het self middel Julie verlede jaar begin om gesonder te leef en beklemtoon sy het haarself nog nooit as vet beskou nie. “Ek leef nog altyd gesond en oefen graag.

“Dis belangrik dat ons as vroue nie te krities op onsself is nie. Niemand het byvoorbeeld dieselfde gene, bou of metabolisme nie.”

Vir haar is dit wel belangrik om die beste weergawe van jouself te wees, en Alexa se storielyn kon ekstra motivering daarvoor bied. “Ons het wel eers in 2019 aan my storielyn begin skiet, maar ek wou dit graag geloofwaardig maak. Daar moes 'n groot verskil wees in hoe ek lyk.”

Om die gewig te laat wegsmelt het sy begin hardloop en drie maande lank soveel moontlik suiker en stysel uit haar dieet gesny. Boonop drink sy drie liter water per dag. “Dis nie maklik nie; dis harde werk. ’n Mens raak soms mismoedig, maar dit is oukei.”

Hoewel sy op ’n gesonder manier 12 kg oor drie maande afgeskud het, kon Carina tog met sekere gevoelens van Alexa identifiseer.

“ ’n Eetsteuring is lewensgevaarlik en as ons dit deur die storielyn in die kollig kan plaas, is dit goed. Ons kan vir mense wys hoe erg dit kan raak, maar ook dat daar altyd hoop is. Kykers wat self daarmee sukkel sal sien hulle is nie alleen nie.”

Haar raad aan ander vroue wat ook “gemakliker in hul klere wil pas” is om nooit tou op te gooi as hulle nie binne die eerste week ’n verskil sien nie.

“Wees lief vir jouself, want dan gaan jy die beste weergawe van jouself wil wees. Kyk elke dag in die spieël en sien iets raak wat vir jou mooi is van jouself,” vertel Carina.