Dit was ’n doodnormale Donderdag vir 7de Laan se Matrone toe ’n vreemdeling haar in ’n plaaslike boekwinkel in trane het, vertel Annelize van der Ryst Dinsdag aan Huisgenoot.

“Soms vermaak ons mense dat hulle lag en ander kere word hulle deur ons storielyne geraak. Dit beteken vir my vreeslik baie.” 

Annelize was dié middag af en het besluit om by die Hyde Park-winkelsentrum in Johannesburg te gaan boeke kyk en ’n koppie koffie te drink. 

Min het sy geweet wat vir haar in die boekwinkel sou wag. Hier het 'n aanhanger die Laan se Matrone genader en haar spottenderwys gevra of sy nie reeds te veel boeke het nie. Die anonieme vrou het toe vir Annelize vertel hoe hulle die sepie geniet en selfs episodes opneem as hulle nie tuis is om dit te kyk nie. 

Die gesprek tussen Annelize en die aanhanger het gou ernstig geraak. 

“Sy het vertel die storielyn waar Diederick (gespeel deur Hennie Jacobs) aan dwelms verslaaf is, het haar vreeslik geraak,” het Annelize op haar Facebook-blad verduidelik. 

Die vrou het toe in die middel van die boekwinkel haar hart teenoor Annelize uitgestort en van haar eie 35-jarige seun se verslawing vertel. 

“Daar het ons tussen die boeke in die winkel gestaan en gehuil. Ek kon haar pyn voel al is ek nie ’n ouer nie. Al weet ek nie regtig hoe dit voel nie. Ek is hulpeloos daar uit”. 

OP haar Facebook-blad skryf Annelize dit is nie die eerste ma wat teenoor haar bieg nie. 

“Hierdie vrou is die derde ma (waarvan twee vriende van my is) wat met hierdie ondraaglike pyn van ‘n verslaafde kind sit. 

“Sy het selfs vir my gesê as hy dalk dood is, sou die pyn meer draaglik gewees het.

“Hoeveel meer lewens en families moet nog deur alkohol en dwelms verwoes word?"

Annelize sê haar kanker-storielyn van twee jaar gelede het ook baie aanhangers geraak. 

“Die erkenning is beter as enige toekenning,” het Annelize gesê.