Kykers kon gelukkig steeds elke weeksaand hul gunstelingsepies kyk omdat sepies tot twee maande vooruit geskiet word. 

Al het die Suid-Afrikaanse televisie- en rolprentbedryf onlangs onder vlak 4 van die inperking die groen lig gekry om voort te gaan met produksie, het dit ’n nuwe manier van verfilming meegebring met streng reëls en regulasies wat gevolg moet word. 

View this post on Instagram

Production is in full swing at #Stage4 under lockdown restrictions. The show goes on. *Footage in this video was taken prior to the Covid-19 pandemic. ??@tumimolatlhegi

A post shared by 7de laan (@real7delaan) on

Volgens Kayleen Bessit, die publisiteitsbestuurder van die gewilde SABC 2-sepie 7de Laan, het die akteurs en tegniese span alreeds op Maandag 4 Mei teruggekeer na Sasani Studios in Johannesburg om aan tonele te begin verfilm. 

“Die akteurs en tegniese span van 7de Laan is baie passievol oor wat ons doen. Ons besef ook watter rol 7de Laan in die lewens van Suid-Afrikaners speel en daarom is ons verlig dat ons weer kon terugkeer werk toe,” sê sy. 

Al drie kykNET se sepies – Binnelanders, Getroud met rugby en Suidooster – en die telenovelle Arendsvlei, het aan die begin van Mei ook weer met opnames begin. 

“Dit is regtig wonderlik om terug te wees by Suidooster, want ons is soos ’n familie, en as jy nie jou familie sien nie, dan mis jy hulle,” sê Denise Newman. 

mandi baard,aktrise,getroud met rugby
Mandi Baard reinig haar hande by een van die stasies by Atlas Studios in Johannesburg. Foto: kykNET

Die aktrise, wat die rol van die sakevrou Bridgette Jacobs in die Kaapse sepie vertolk, is onlangs as die beste aktrise in ’n sepie aangewys by vanjaar se Suid-Afrikaanse Film-en-Televisie-toekennings (Saftas). 

“Om terug te wees by die ateljee gee ons die kans om weer ons stories te vertel – veral omdat ’n sepie ook vir kykers soos familie is,” vertel sy.

kyknet,suidooster
Foto: kykNET

Die aktrise meen almal voel ook regtig veilig by Atlantic Film Studios in Kaapstad waar Arendsvlei en Suidooster verfilm word. 

“Die vervaardiger het streng maatreëls en regulasies in plek gestel soos om ’n mediese beampte aan diens te hê wat elke dag onder meer almal se temperatuur meet,” sê sy.

atlantic fim studios,arendsvlei,suidooster
Agter die skerms by Atlantic Film Studios in Kaapstad waar Arendsvlei en Suidooster verfilm word. Foto: kykNET

Ook by 7de Laan sluit die regulasies en maatreëls in dat slegs ’n derde van die personeel op ’n gegewe tyd op die perseel  mag wees. 

Nes voor die inperking is daar ’n roterende skedule in plek waar die akteurs slegs na die ateljee kom om hul tonele te verfilm en dan huis toe gaan. 

“Ons reël ook vervoer vir diegene wat openbare vervoer gebruik om die risiko van blootstelling te verminder, en almal op die stel dra te alle tye ’n masker of ’n Perspex-gesigskerm,” sê Kayleen.

Die sepie se draaiboek is intussen ook aangepas om intieme tonele uit te sluit en om seker te maak daar is geen kontak tussen die akteurs tydens tonele nie, slegs minimale akteurs in ’n toneel en dat social distancing tydens tonele toegepas word.

adrian steyn,akteur,getroud met rugby
Die Getroud met rugby-akteur Adrian Steyn se tempratuur word geneem met sy aankoms by Atlas Studios in Johannesburg. Foto: kykNET

“Hierdie faktore is uitdagend vir die skryfspan asook die regisseurs, maar dit is doenbaar. Ons hou die tonele en regie eenvoudig, maar die regisseurs moet wel kreatief dink om aan die regulasies te voldoen en die tonele steeds interessant te hou. Dit is ’n spanpoging en almal is 100% toegewyd,” sê sy. 

Nes by 7de Laan word geen oortollige mense soos agtergrondspelers op die kykNET-stelle toegelaat nie.  

cindy swanepoel,aktrise,binnelanders
Cindy Swanepoel gaan deur haar lyne in die draaiboek met Zak Hendrikz, wat in die splinternuwe seisoen van Binnelanders (wat op Maandag, 8 Junie, begin) weer 'n verskyning sal maak as Eben Nel. Foto: kykNET

“Die sepievervaardigers in samewerking met die skrywers en regisseurs gaan uit hul pad gaan om die kykerervaring so geloofwaardig as moontlik te hou,” lui ’n persverklaring wat onlangs deur die kanaal uitgereik is. 

“Vir kykNET en die onderskeie vervaardigers is die gesondheid en veiligheid van almal wat by die produksie betrokke is die nommer een-prioriteit, terwyl dit ook vir hulle noodsaaklik is om werkskepping in hierdie bedryf te ondersteun.” 

Dieselfde hoeveelheid tonele as voor die inperking word steeds by 7de Laan opgeneem en die tegniese span is soos voorheen van 08:00 tot 18:30 op die stel. 

“Tydens tonele is daar mimimale tegniese mense op die vloer en ons roteer ook die tegniese span sodat almal nie elke dag hier hoef te wees nie,” sê Kayleen.