JONK, TALENTVOL EN INTERNASIONAAL 

Nie baie plaaslike akteurs kan daarmee spog dat hul heel eerste rol in ’n BBC-produksie was nie. 

Maar dis presies hoe Nahum (19) se loopbaan begin het. 

Hy’t op 14 sy eerste rol losgeslaan as prins Selim in die BBC-kinderprogram Jamillah and Aladdin.

“Dit was ’n klein rol,” vertel hy.

Dit was net die begin. Daarna het hy as die tiener Wematin in die Amerikaanse National Geographic-minireeks Saints & Strangers verskyn. 

Die verfilming daarvan het in 2015 op Stellenbosch in die Wes-Kaap begin. 

“Dit was verreweg my gunstelingreeks om aan te werk,” vertel Nahum oor dié dramareeks oor die eerste Dankseggingsfeesdag. 

Kort daarna het hy in die Britse ITV-minireeks Tutan­khamun die rol van Fadil vertolk wat ná sy pa se dood die ingang na sy grafkelder ontdek. 

Baie van die tonele is in die Noord-Kaap en in Kaapstad geskiet. 

Die reeks, wat in die 1900’s afspeel, spog met groot name soos Sam Neill, wat al in lokettreffers soos Thor: Ragnarok en Jurassic Park te sien was. 

Om dié Nieu-Seelander te ontmoet was vir Nahum sekerlik die hoogtepunt van sy loopbaan tot dusver. 

“Ek het tydens middagete oorkant Sam gesit. Hy is die soort akteur wat die energie in ’n vertrek kan verander en sy werk getuig daarvan.”

Werk aan ’n oorsese produksie is vir Nahum baie opwindend. 

“Alles is groter, die stelle is uitgebreid en gedetailleerd, en daar word goed vir die spelers gesorg.”

SY GESIN 

Sy ouers, Averil Barry-Hughes en Craig Hughes (albei 48), het in die laat 1990’s uit Port Elizabeth na Kaapstad getrek. 

“Vir ’n rukkie het hulle in Buitenkantstraat in die middestad gewoon, waar ek gebore is. Ons het later na Thornton in die noordelike voorstede verhuis, waar ek toe grootgeword het, en deesdae woon ek in Observatory,” vertel dié oudleerder van die Hoërskool Pinelands. 

nahum hughes,akteur,arendsvlei
Nahum en sy gesin. Foto: Verskaf

Een van die grootste lesse wat hy op skool geleer het, sê hy, is om geduld te hê.

“En dat jou ambisie jou moet lei.” 

Averil is ’n bedryfsbestuurder by die Jazz­art-dansteater by die Kunstekaapteater en Craig ’n verkoopsbestuurder by ’n drukkersmaatskappy. 

Sy suster, Dayna (16), is nou in gr. 10 in dieselfde skool waar Nahum in 2017 gematrikuleer het.

LOCAL IS OOK LEKKER 

Nahum is nie net ’n plaaslike ster wat in internasionale reekse uitblink nie.

Die afgelope jaar het hy op die kassie gesig gewys in Arendsvlei as die skurk Emile in sy jonger dae – ’n rol wat hy met “ope arms” aanvaar het.

In dié telenovelle verskyn hy net in terug­flitse as die jong Emile. Die ouer Emile word deur Christian Bennett gespeel. 

“Ek het dit regtigwaar geniet om die terugflitse te doen en die storie van Emile se verlede op so ’n manier te vertel, want dit is ’n belangrike deel van dié karakter se verhaal,” sê Nahum. 

Hy het dit gate uit geniet op die stel van Arendsvlei.

“ ’n Streng rooster word gevolg, maar almal is ontspanne, laat jou tuis voel en is plat-op-die-aarde.” 

nahum hughes,akteur,arendsvlei
Nahum was ­onlangs te sien as die jonger weergawe van Emile in Arendsvlei. Foto: kykNET & kie

Die toneelgogga het hom eers behoorlik gebyt toe hy 15 was, al het hy dramaklasse as deel van sy buitemuurse aktiwiteite aan die Laerskool Pinehurst in Pinelands, Kaapstad, bygewoon. 

“Ek het geweet ek wil ’n akteur word terwyl ons aan Saints & Strangers geskiet het. Ek het daar besef dit is my passie,” vertel hy. 

Op die stel was hy aanvanklik baie senuagtig en onseker. 

“Maar die regisseur, Paul Edwards, het my deur die proses gelei, en voor ek my oë kon uitvee, was die eerste werkdag van 12 uur klaar.”

Sy familie en vriende ondersteun hom baie in sy loopbaan, veral nadat hulle hom in Arendsvlei gesien het. 

“So baie mense het my geluk­gewens en gesê hoe trots hulle is. Dit is ’n ongelooflike gevoel as jou familie en vriende jou ondersteun in wat jy doen.” 

NATUURKIND 

Hy is lief vir die natuur en avontuurlustig verby. 

“Daar is iets bevrydends aan die natuur. Daar is geen motors of sypaadjies om jou te beperk nie. Geniet wat die natuur jou bied,” meen Nahum. 

Hy voeg die daad by die woord en ontspan graag in die buitelug.

nahum hughes,akteur,arendsvlei
Foto: Verskaf

Stap, draf, swem en kanovaart tel onder sy vele gunstelinge.

Maar vir eers fokus hy daarop om vir hom ’n loopbaan in die vermaakbedryf uit te kerf. En hy het groot drome. 

“Ek wil my loopbaan in toneelspel nastreef en eindelik met my eie produksiemaatskappy begin.” 

Nahum sê...
  • Die laaste reeks wat ek gekyk het, was: Euphoria.
  • Die liedjie wat nou op my speellys boer: Travis Scott se “Astrothunder”.
  • Wanneer ek nuwe mense ontmoet, kyk ek eerste na: hul tande.
  • Die perfekte romantiese afspraak: Dis ’n oggendpiekniek in die natuur met goeie koffie, eggs benedict en croissants terwyl ons na die sonsopkoms kyk. 
  • My grootste vrees op die oomblik: hoogtes...dink ek. 
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.