Phillip Schnetler speel die kwaadstoker Francois i
Phillip Schnetler speel die kwaadstoker Francois in Suidooster. Foto: Verskaf

Vertel ons meer oor jou karakter

Francois is ’n 19-jarige mannetjie wat by sy ouma Kate (Annelisa Weiland) kom kuier. Hy is van Pretoria en onseker oor sy toekoms. By sy ouma doen hy net wat hy wil. Hy’s naïef en krap in ander mense se slaai. Diep in sy hart wil hy net sy ouers en sy liefste ouma tevrede stel.

Ek is die teenoorgestelde van Francois. Hy het rugby gespeel en ek nie. Tydens die inperking het ek gewig aangesit toe die gims toe was; ek was dus skrikkerig om tonele sonder ’n hemp te skiet. Ek het nie gedink ek sou die rol kry nie, want die karakter is 19 en ek is 30.

Ek moes my hare laat kort sny en my antwoord was: “Ja, natuurlik!” Ek het toe my goed in Johannesburg gepak en Kaapstad toe gery.

Wie is Phillip?

Phillip is ’n chilled ou. Ek is teruggetrokke en hou my uit ander se sake uit. Ek is van Burgersfort in Limpopo, maar het in 2008 aan die Hoërskool Lydenburg gematrikuleer. Nes Francois was ek baie na aan my oumas, maar as ek hul geld gesteel het, sou ek ’n pak slae gekry het.

Hoe voel dit om in Suidooster te wees?

Absoluut ongelooflik. Dit was vreesaanjaend om op die stel te stap, maar ek kon nie ’n beter span en rolverdeling gevra het om my eerste sepie saam mee te skiet nie.

Marco Spaumer (Tim du Plooy) het my lewe maklik gemaak op die stel. Ons het saam studeer en hy het my mooi rondgewys.

Annelisa was so ongelooflik en is die aangenaamste persoon wat ek al ontmoet het. Ek was starstruck. Ek het grootgeword met haar op TV en daar moet ek nou saam met haar toneelspeel.

In ’n toneel saam met Annelisa Weiland. Foto: Vers
In ’n toneel saam met Annelisa Weiland. Foto: Verskaf

Hoe was jou grootwordjare?

Ek’s my ma, Hendrina, se enigste kind. Sy is my grootste aanhanger. My ma was baie jare ’n hardwerkende enkelouer. Sy het als in haar vermoë gedoen om my die beste lewe te gee.

Sy kan nou eindelik agteroor sit en haar pensioen op 63 geniet. Op skool is ek vreeslik geboelie oor wie ek is, maar dit het my die mens gemaak wat ek vandag is.

Jy is ’n kabaretkunstenaar. In watter produksies was jy al?

Ek was onlangs in Kinky Boots in Kaapstad te sien. Ek het een van die hoofrolle in Priscilla Queen of the Desert en Annie vertolk. En ek was in ’n hele klomp Afrikaanse produksies soos Ons vir jou, Reik na die sterre en ook Raka by die Woordfees.

Om in 2017 die Naledi vir die beste deurbraakvertoning asook twee ander pryse vir Priscilla Queen of the Desert te wen was ’n wonderlike gevoel. Ek doen ook drag. My drag-naam is LyzDexia soos Dyslexia, maar met ’n knippie sout. Sy het haar eie persoonlikheid en is anders as Phillip. Drag laat my vol vertroue voel.

Hy is bekend in die musiekteaterwêreld en doen ook
Hy is bekend in die musiekteaterwêreld en doen ook fopdosvertonings. Sy alter ego is Lyz­Dexia. Foto: Zijn-Rudolph Van Zyl

Wat is volgende?

Ek is mal oor sing. Ek het in 2009 musiekteater aan die Tshwane-universiteit van Tegnologie in Pretoria studeer. Ek is meestal betrokke by musiekteatervertonings, maar wil voor die einde van die jaar ’n Afrikaanse enkelsnit uitreik.

  • Suidooster is weekaande om 18:30 op kyKNET en kykNET & kie
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe