Jay Anstey as die rykmansdogter Lexi Price in Lega
Jay Anstey as die rykmansdogter Lexi Price in Legacy. Foto: M-Net

HAAR PAD NA ROEM

Die 29-jarige aktrise is al van jongs af in die vermaakbedryf en het op 14 teenoor die Hollywood-ster Tim Robbins gespeel in die biografiese riller-fliek Catch a Fire (2006). Daarna het sy naam gemaak as die sorgelose Charlie Holmes in die plaaslike sepie Isidingo.

Jay is tans in twee M-Net-produksies te sien: die dramareeks Inconceivable en dié kanaal se eerste telenovelle, Legacy.

Anders as die kommerlose rykmansdogter Lexi Price wat sy in Legacy speel, gaan haar karakter in Inconceivable, die jong ma Tamsin Watts, deur diep waters. Haar pasgebore baba word deur die ryk prokureur Rachel Bishop (Carine Rous) gesteel.

Dié ruil haar doodgebore baba met Tamsin se kind om.

“Tamsin is moedeloos, arm en werk by ’n kroeg om geld bymekaar te skraap vir haar negejarige seuntjie. Sy het haar baba verloor en sit boonop met ’n kêrel, Nick (Steven John Ward), wat onstabiel is,” sê Jay. “Lexi is weer ’n rykmanskind wat nog nooit ’n dag in haar lewe gewerk het nie, met ’n wonderlike sin vir mode en geen filter nie,” vertel sy oor dié uiteenlopende rolle.

Jay saam met Steven John Ward (links) en Adi Glass
Jay saam met Steven John Ward (links) en Adi Glasser, wat haar kêrel en seun in die dramareeks Inconceivable speel. Foto: Instagram (@jayanstey)

“Hulle is baie verskillend. Tamsin lok empatie en deernis by die kykers uit. Dit was wonderlik om iemand so na aan die werklikheid te kan speel met wie soveel mense kan vereenselwig.”

OU WONDE GENEES

Sy het self ’n moeilike tyd agter die rug gehad toe sy die rol in Inconceivable losgeslaan het, sê Jay. Meer oor dié tyd wil sy nie uitbrei nie. Die rol het haar gehelp om dit te verwerk.

“Om Tamsin te kon speel was ’n goeie manier om ou emosies los te laat en ek kon myself ten volle uitleef in daardie ongemaklike gevoelens. Al wat ek regtig wou doen, was om hulde te bring aan die vroue wat met onvrugbaarheid of die verlies van ’n kind sukkel.”

HAAR TV-SUS

In Legacy speel Mary-Anne Barlow en die 7de Laan-aktrise Reandi Grey haar ouer susters, Felicity en Elizabeth Price. Die veteraanaktrise Michelle Botes is as hul ma, Angelique, te sien.

Reandi Grey (links) speel haar suster en Michelle
Reandi Grey (links) speel haar suster en Michelle ­Botes (middel) haar ma. Foto: Instagram (@jayanstey)

“Ek is lief vir al my medesterre, maar ek en Reandi het soos regte susters geword,” vertel sy. “Van die oomblik wat ons mekaar op die stel ontmoet het, het ons net gekliek en nou is sy soos familie.”

 Mary-Anne Barlow (middel) speel Jay en Reandi se
Mary-Anne Barlow (middel) speel Jay en Reandi se ouer suster, Felicity. Foto: Instagram (@jayanstey)

’n Dag op die stel in Johannesburg begin soms al sesuur die oggend en voorbereiding kan ’n tydjie duur, veral vir haar Legacy-karakter, wat dikwels in ontwerpersuitrustings pronk.

“Wanneer ek op die stel aankom, gaan ek gewoonlik direk na die hare-en-grimeringafdeling. Dan skiet ons tussen 10 en 15 tonele per dag. Daar is baie dialoog en ons verander gereeld ons uitrustings en grimering,” vertel sy.

Haar karakter, Lexi, pronk gereeld in glansryke ui
Haar karakter, Lexi, pronk gereeld in glansryke uitrustings. Foto: Instagram (@jayanstey)

“Teen seweuur saans is ons klaar vir die dag en dan gaan ek huis toe om my dialoog vir die volgende dag te leer. Dis glad nie so glansryk nie.”

KUNSSINNIGE KLOMP

Jay het grootgeword in Johannesburg, waar albei reekse afspeel.

“My ma, Penny (63), was ’n ballerina en my pa, Norman (68), ’n akteur. My ouer suster, Amy (31), is ’n kunstenaar en grimeerstilis.

“Om in ’n kunssinnige gesin groot te word was wonderlik. Ek het beslis nie normale grootwordjare gehad nie.”

Al het die toneelspeelgogga vroeg gebyt, het Jay in haar tienerjare amper ’n ander loopbaankoers ingeslaan. “Ek het tuisonderrig gekry en skool op 15 klaargemaak. Ek was vir die grootste deel van my tienerjare ’n professionele tennisspeler en het al my tyd daaraan bestee.”

Gelukkig was sy nie vir die vermaakwêreld verlore nie. “My liefde vir toneelspel kom van my ouers af. Ek was drie toe ek stemwerk begin doen het. Ek het nooit drama studeer nie, net van ’n jong ouderdom af begin werk.

“Ek was ook nog altyd gefassineerd deur mense se gedrag. Om myself te kan uitdruk deur die karakters wat ek speel, is reinigend en ’n goeie manier om mense so ’n bietjie van hul eie lewe te laat ontsnap.”

TEL HAAR SEËNINGE

Die covid-19-pandemie het die wêreld vanjaar geruk en die vermaakbedryf is swaar getref. Dis dié dat sy haar seëninge tel om deel van twee suksesvolle TV-produksies te wees.

“Sonder om enigiets weg te vat van die feit dat so baie medeakteurs en ander kunstenaars vanjaar gesukkel het, weet ek hoe bevoorreg en geseënd ek is om aan twee ongelooflike projekte te werk,” vertel Jay.

“Dit was een van die beste professionele en persoonlike jare vir my. Wat wonderlik is, is dat produksies soos Legacy en Inconceivable soveel plaaslike kunstenaars ondersteun. En die kykers wat die plaaslike reekse volg, help dat baie van ons ’n bestaan kan voer.”

Sy sien haarself nie as ’n glansmens nie, het sy vroeër in ’n onderhoud met TshisaLIVE vertel.

“Ek leef nie soos een nie. Glansmense hemel hulself op. Ek ken baie van hulle wat dink hulle is beter as ander en ander mense behandel asof hulle minderwaardig is. Ek wil nooit deel daarvan wees nie.” 

5 VRAE AAN JAY

Wat doen jy graag in jou vrye tyd?

Ek woon op Sedgefield in die Wes-Kaap; wanneer ek kan, verken ek dus die natuur deur voëlkyk, swem, stap en kampeer.

Wat is vyf dinge waarsonder jy nie kan leef nie?

My familie, my kat, goeie vegetariese kos, die natuur en avontuur.

Wat sal aanhangers verbaas wees om van jou te weet?

Ek het eenkeer 900 km van Frankryk na Spanje gestap, net vir die pret.

Wat is boaan jou emmerskoplysie?

Om die musiekspel Wicked op Broadway te gaan kyk.

Wat is jou geheime plesiertjie?

Macaroni-en-kaas. 

  • M-NET | Inconceivable, Donderdae om 20:30 M-NET | Legacy, Maandae tot Donderdae om 19:00.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe