Sy is nie die eerste aktrise wat die rol van die prinses van harte vertolk nie, en sy sal beslis ook nie die laaste een wees nie – maar ’n jong vrou met Suid-Afrikaanse wortels is dalk net die beste.

Emma Corrin word daarvoor geprys dat sy Diana tot in die fynste besonderhede uitbeeld: die stem, die kanteling van die kop, die stappie, die skaam blik van agter die kuif, die hartseer, die skugterheid . . . Om die waarheid te sê, dis asof jy na die ware Jakob kyk.

Emma as Diana
Emma Corrin as prinses Diana op haar troudag in seisoen 4 van The Crown. Links: Die regte prinses Diana. Foto's: Gallo Images/Getty Images en Netflix

Die 24-jarige aktrise speel prinses Diana in die vierde seisoen van die Netflix-trefferreeks The Crown en beeld die pragtige maar gekwelde prinses uit van haar dae as ongemaklike tiener tot ’n jong ma in haar laat 20’s wat in ’n liefdelose huwelik vasgekeer is.

“Dis soos om ’n spook te sien,” meen die tydskrif Vogue. “En te hoor ook.” 

Dit is Emma se grootste rol tot dusver en het heel toevallig oor haar pad gekom. Haar agent het haar in 2018 gebel om te vra of sy Diana se woorde sal lees saam met Josh O’Connor, wat die rol van prins Charles vertolk.

Nina Gold, die rolverdelingsregisseur van The Crown, het oudisies gehou vir aktrises op die kortlys om die jong Camilla Parker-Bowles vir die derde seisoen te speel en het net iemand nodig gehad om Diana se woorde te lees. Dis nie ’n oudisie nie, het haar agent benadruk.

View this post on Instagram

15.11.20

A post shared by Emma Corrin (@emmalouisecorrin) on

“Sy het gesê: ‘Ek weet jy gaan opgewonde raak. Moenie. Hulle het net iemand nodig om saam met hulle te lees,’ ” vertel Emma.

Dit het beteken sy het nie ’n kostuum, ’n pruik of grimering gekry om haar in die prinses te omskep nie – maar sy het haar stem gehad. Emma het vooraf Diana se deftige Britse aksent saam met haar ma, ’n spraakterapeut, geoefen en dit onder die knie gekry.

“Maak nie saak wat Diana sê nie, haar stem gaan altyd soort van laer teen die einde,” sê Emma.

“Daar is ’n tikkie hartseer daarin.” Op die eerste dag van die oudisies het die regisseur haar gebel en gevra of sy “aan Diana-dinge wil werk” en haar optrede is opgeneem.

Emma Corrin
Emma Corrin. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy het agt maande lank niks gehoor nie en aanvaar dis neusie verby – maar toe nooi Peter Morgan, The Crown se skepper, haar formeel vir ’n oudisie vir die rol.

Emma het die vele gesigte van Diana uitgebeeld – die skraal tiener dolverlief op ’n prins, ’n gespanne jong vrou by ’n middagete saam met haar aartsvyand, Camilla, en as die supersterprinses wat sy toe eindelik geword het.

Kort daarna het haar foon weer gelui, en dit was dit. Die rol was hare.

Emma was net 20 maande oud toe Diana in 1997 in ’n motorongeluk in Parys gesterf het. Sy sê dit was ’n uitdagende taak om gestalte te gee aan ’n vrou wat miljoene mense so goed geken het.

“Maar die druk en oorweldigende gevoel omdat Diana volksbesit was, het verdwyn toe ek besef dis my interpretasie van haar wat uitgebeeld word,” sê sy.

Emma in verskeie fliekrolle
Mense wat fyn kyk, sal let die kostuums is nie presiese nabootsings nie; The Crown het daarna gestreef om die gees van Diana se voorkoms vas te vang. Foto's: Netflix

Tog wou sy reg aan haar laat geskied, en sy het deeglik navorsing gedoen. “Ek het baie biografieë en koerantberigte gelees en na beeldmateriaal van Diana gekyk,” sê sy.

“Maar die probleem met navorsing is dit kan nogal eendimensioneel wees. Dit gaan alles oor sy het toe hierheen gegaan saam met hierdie mens en daarna is sy saam met daardie mens gesien en sy hou van vye. Ek het net gedink: Wat sê dit nou eintlik vir my?”

Ons gebruik die regte mense as vertrekpunt om ’n storie te vertel. Die kern van The Crown is om te sê: Kyk na hierdie ikone; kyk na hierdie strooipoppe wat ons dink ons ken.

Die sleutel tot Emma se spel was toe sy die draaiboek vir die vierde seisoen kry. “Skielik het ek ’n storie gehad; ek het konteks gehad,” meen sy.

Hoewel dit ongetwyfeld gewild is, is The Crown uit sommige oorde gekritiseer vir die dramatisering van die koninklike familie se lewe. Maar Emma sê dis juis die punt. 

“Dit is ’n drama – dit is Peter se weergawe van gebeure. Ons gebruik die regte mense as vertrekpunt om ’n storie te vertel. Die kern van The Crown is om te sê: Kyk na hierdie ikone; kyk na hierdie strooipoppe wat ons dink ons ken.

“Agter geslote deure is hulle net mense. En ek dink werklik dis die fassinerendste ding om te kyk na hierdie mense wat hulself in die buitengewoonste omstandighede bevind – die vreemdste soort bestaan voer – en om die nuanses te sien van wat hulle deurmaak.”

Die aktrise het op ’n dorp in Kent naby Londen grootgeword. Haar pa, Chris Corrin, is ’n sakeman, en haar ma, dr. Juliette Corrin, een van Engeland se voorste spraakterapeute en bekend vir haar werk met kinders en babas.

Juliette het Suid-Afrikaanse wortels – sy is in Suid-Afrika gebore en getoë voor sy Engeland toe gereis het. Hier het sy Chris ontmoet en toe wortelgeskiet.

Emma het skoolgegaan in ’n Katolieke meisieskool, Woldingham, wat ook die aktrise Carey Mulligan se alma mater is. Sy het ná skool ’n brugjaar geneem, ’n Shakespeare-kursus by die Londense akademie vir musiek en dramatiese kunste voltooi en toe as vrywilligeronderwyser by ’n skool op Knysna in die Wes-Kaap gewerk.

Sy het na Engeland teruggekeer om Engels en drama aan die Universiteit van Cambridge te studeer, waar sy in verhoogproduksies opgetree het.

Haar silwerdoekdebuut het ook ’n Suid-Afrikaanse kinkel – sy het die voormalige Mej. Suid-Afrika Jillian Jessup teenoor Keira Knightley gespeel in Misbehaviour, ’n fliek oor die ware komplot om die Mej. Wêreld-skoonheidskompetisie in 1970 in Londen te ontwrig. En nou speel sy nog ’n skoonheid wat op ’n veel groter wêreldverhoog naam gemaak het.

“Diana word as ’n ikoon beskou, maar ek verpes dit om gevra te word hoe dit voel om iemand ikonies te speel,” sê Emma.

“Dit maak haar onaantasbaar – en die punt was dat sy juis tasbaar was.”

  • Die vierde seisoen van The Crown is van 15 November op Netflix te sien.

BRONNE: VOGUE.CO.UK, DAILYMAIL.CO.UK, ELLE.COM, TOWNANDCOUNTRYMAG.COM, VARIETY.COM, TATLER.COM, HELLOMAGAZINE.COM 
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe