Haar grootste vrees was dat sy in ’n sekstoneel moet verskyn.

Só vertel Greteli Fincham (18) toe sy die eerste keer hoor dat haar karakter in die reeks Alles Malan swanger raak.

“Ek dink nie ek was al heeltemal gereed daarvoor nie,” skerts Greteli. “Ek is nog op skool.”

Die talentvolle donkerkop, wat die rol van Elani in kykNET se gesinsdrama vertolk, sê sy het baie gou besef dat haar rol navorsing gaan verg en dat sy moeite sal moet doen om meer begrip oor tienerswangerskappe te kry. 

Sy het self so ver gegaan om ’n meisie op te spoor wat saam met haar in die laerskool was wat op ’n jong ouderdom swanger geraak het. Sy het haar met nog jong meisies in kontak gesit.

“Ek het ook baie met my ma (Lisle) gepraat. Sy was vroeër in haar lewe ’n suster wat babas gevang het, en sy kon my ook help.”

In die reeks is Elani die oudste van Frik en Tessa Malan wat deur die akteurs, Ivan Zimmermann en Nadia Valvekens, vertolk word. Sy het ook ’n jonger boetie, Freek, wat deur Mateo Olivier gespeel word.

Om verder vir haar rol voor te berei het sy ’n dagboek vir Elani gehou en alles daarin neergeskryf soos hoe sy voel en wat elke dag gebeur. “Ek het dinge neergeskryf soos haar gunstelingkleur en die soort klere wat sy dra. Net om haar te leer ken en verstaan.”

Sy sê Elani probeer in hierdie stadium alles doen om haar ouers nie verder teleur te stel nie. “Sy wil nie iets doen wat verkeerd is nie aangesien sy reeds so ’n groot fout begaan het.”

Greteli sê sy het intussen baie empatie gekry vir jong meisies vir wie tienerswangerskap ’n werklikheid is. “’n Mens is vinnig om te oordeel, maar dié soort goed kom dikwels uit ’n moeilike plek en dis nie noodwendig die meisies se bedoeling gewees nie.”

Sy sê sedert die reeks begin het, was daar al baie meisies wat self swanger is of ’n swanger vriendin het wat haar in die sosiale media gekontak het om raad te vra. “Ek is gewoonlik versigtig om net raad te gee omdat ek nie regtig swanger is nie. Maar ek voel enigeen wat in die situasie is, moet mooi dink. Daar is ’n klein lyfie binne jou en aborsie is nie noodwendig ’n maklike of ’n kortpad nie.”

Sy dink wel dit help om met iemand te praat wat vir jou die nodige steun kan gee.

Greteli is tans ’n matriekleerder aan die Hoërskool Stellenbosch. Sy is binnekort te sien in kykNET se nuwe sitkom Lui Maar Op, Belinda. Sy is tans ook besig om ’n plaaslike Netflix-reeks Blood and Water te verfilm.