Hillside se gewilde dokterspaar, Alexa Welman (g
Hillside se gewilde dokterspaar, Alexa Welman (gespeel deur Carina Nel) en Fikani Chauke (Nicholas Nkuna), se langverwagte troue het aangebreek. Foto: Phillip Rabie

’n Sepietroue is altyd ’n spoggerige affêre, maar twee? Dis die kersie op die koek. Kykers van 7de Laan was dus verheug toe hulle hoor die Laan se gewilde dokterspaar, Alexa Welman en Fikani Chauke, gaan eindelik afhaak; en dít tydens twee seremonies oor drie dae heen. Maar dit was so hittete of daar was géén bruilof nie. 

Die afgelope paar weke het die paartjie koppe gestamp omdat Fikani lyf wegsteek en nie met die troureëlings help nie – en enkele dae voor die troue wou Alexa kop uittrek!

Miskien, het sy gesê, moet hulle albei eers tyd neem om dinge te oordink sodat hulle nie te haastig trou nie. Maar die liefde oorwin, en ná die drama het Fikani aan die donkerkopdokter trou beloof. 

Maar net één troue sou nie genoeg wees om “Filexa” – soos die paar onder kykers bekendstaan – se liefde te vier nie. Hulle het eers ’n tradisionele troue gehad om die bruidegom se Tsonga-herkoms te vier, en toe ’n Westerse troue. Albei troues is oor drie dae in die sepie uitgesaai. 

Maar om te trou, al is dit dan nou ’n kammatroue, is harde werk, vertel die akteurs wat die rolle van die bruidspaar vertolk, Carina Nel (33) en Nicholas Nkuna (32). Die troutonele is al in April vanjaar oor die verloop van vier dae by 7de Laan se ateljee, Sasani Studios, in Highlands-Noord in Johannesburg, asook buite die Goudstad verfilm. 

“So opwindend soos ’n troue mag klink, het almal agter die skerms baie hard gewerk om dit moontlik te maak. Dit was lang ure op die stel en baie dansrepetisies, maar al die harde werk was die moeite werd.” 

: Die feesvierings speel oor drie dae af. Eers i
Die feesvierings speel oor drie dae af. Eers is ’n tradisionele troue gehou om Fikani se Tsonga-herkoms te vier, gevolg deur ’n Westerse troue. Foto: Verskaf/7de Laan

Van die tradisionele troue se tonele is in die omgewing van Krugersdorp verfilm, met tradisionele rondawels wat deur die kreatiewe span omgetower is om die Tsonga-kultuur so eg moontlik uit te beeld. 

Al kyk Nicholas selde na homself op televisie, sou hy nooit die drie dae lange bruilof op die kassie kon misloop nie, laat hoor hy.

“Dis my eerste televisietroue, en daar was soveel mooi dinge. Dit is so anders, divers en regtig opwindend.”

Dis opvallend hoe gemaklik dié twee akteurs met mekaar is. Maar hoe dan anders, hulle speel reeds die afgelope drie jaar ’n paartjie op die kassie. Vra jy hulle daaroor, kyk hulle eers vir mekaar en bars dan uit van die lag. “In ons koppe is ons al ’n ou getroude paar!” spot Carina. 

Alexa se ring het Carina perfek gepas.
Alexa se ring het Carina perfek gepas. Foto: Verskaf/7de Laan

Sy sê omdat hulle al so lank saamwerk, verstaan hulle mekaar se binnewerke goed.

“Jy weet wanneer die persoon af is en ’n slegte dag het.” Nicholas knik. “Ek dink ook dis omdat sy so ’n ongelooflike en gemaklike aktrise is wat oop is vir alles,” sê hy.

“Ek dink dit is ’n belangrike vaardigheid waarmee God haar geseën het. Dit is soos sy gesê het, as jy weet jou medester voel die dag nie lekker nie, dan lei jy, en die volgende dag lei sy. Dis die mooi werkverhouding wat ons gevind het en wat vir ons werk.” 

Die twee onthou hoe hul eerste soen op die kassie in Januarie 2019 uiteenlopende reaksies by kykers ontlok het. “Ek weet nie van jou nie, maar ek het geen reaksie verwag nie, want as akteurs is dit ons werk om die regte lewe uit te beeld,” sê Carina aan Nicholas. 

“Ons verstaan dis ’n gesprek wat mense gaan hê; daarom het ons dit met sensitiwiteit hanteer,” sê Nicholas. Intussen het Filexa ’n geliefde televisiepaartjie geword, en omarm kykers uit alle oorde die verhouding.

“Dit is die toorkrag van wat ons doen; daarom is ek mal daaroor,” sê die akteur. “Ek dink ons albei is bly vir ons karakters en dat hul storie ’n mooi einde het,” voeg Carina by. 

a, soos die paartjie in die sosiale media bekend
Filexa, soos die paartjie in die sosiale media bekendstaan, is eindelik getroud. Fikani soen sy bruid. Foto: Verskaf/7de Laan

Dis 7de Laan se tweede troue wat onder streng covid-19-maatreëls verfilm is. Alexa se TV-broer, Rickus Welman (gespeel deur André Lötter), en Esti Fouché (Reandi Grey) is op 1 Oktober verlede jaar in ’n intieme seremonie in die Beleef-restaurant getroud. 

Dié keer was dit ’n groot storie. Die produksiespan beplan al sedert Alexa en Fikani se verlowing in Januarie vanjaar aan die troue. “Dis ’n groot troue met baie akteurs en ekstras wat betrokke was, maar ons het al die protokolle gevolg soos elke dag op die stel,” sê Carina. “Ek dink dit het gehelp dat ons die tradisionele troue buite verfilm het, maar dit was steeds ’n uitdaging.”

Al is Nicholas enkellopend, het Fikani se troue hom laat besef hoe mooi die huwelik kan wees. “Ek respekteer die proses en ek eer dit as akteur. Liefde is mooi, en daar is mense wat enigiets daarvoor sal doen.”

7de Laan se Jaques de Silva, Nobuhle Mimi Mahlas
7de Laan se Jaques de Silva, Nobuhle Mimi Mahlasela en Ingrid Paulus agter die skerms. Foto: Verskaf/7de Laan

Carina vertel sy was nog altyd lief daarvoor om troues by te woon. Die mooiste deel van enige troue vir haar is om te sien hoe ’n bruid kansel toe stap. Sy sê sy het self weer soos ’n bruid gevoel in haar karakter se wit trourok. Dit het die kostuumafdeling ’n week geneem om met ontwerpe vorendag te kom.

“Ons span by 7de Laan het alles gedoen, van die trourok tot die pragtige dekor.” 

“Die ontwerpe was ’n spanpoging, en die kleure wat vir die tradisionele drag gebruik is, is geïnspireer deur tradisionele Tsonga-materiaal,” sê Ashlin Naundorf, die hoof van die kostuumdepartement by die sepie. “Ons het so drie weke daaraan gewerk en net betyds klaargekry.”

Fikani het nie by sy bruid afgesteek nie en was geklee in ’n deftige grys snyerspak en ’n tradisionele Tsonga-trou-uitrusting. “Die kostuumdepartement het gehou by wie hy is en wat hy verteenwoordig.” 

Nazli George en Duncan Johnson
Nazli George en Duncan Johnson. Foto: Verskaf/7de Laan

Huisgenoot was ook daar toe Carina op 21 Oktober 2016 met die liefde van haar lewe, Deon Nagel (32), by The Oakfield Farm op Muldersdrift tussen Johannesburg en Magaliesburg getrou het. Haar TV-gesin het destyds kom deel in hierdie gelukkige toneel. Haar sepiema, Mariaan (Deirdre Wolhuter), suster, Amorey (Kristen Raath), en broer, Rickus (André Lötter), was almal daar. 

Carina het gestraal in haar wit trouskepping en het destyds vertel sy wou nog altyd ’n tradisionele Afrikaanse troue hê, maar in die natuur, waarvoor sy so lief is. Die egpaar het intussen ouers geword en hul kleinding, Carlemi, is een jaar oud. 

Die aktrise sê haar goue reël vir ’n goeie huwelik is om tyd in te ruim vir mekaar en vir kommunikasie.

“Ons raak so vasgevang in werk, die lewe en kinders, maar dis steeds belangrik om gehaltetyd vir mekaar te maak,” sê Carina. Sy het dit veral ná haar eersteling se geboorte besef.

Dis vir haar interessant om Alexa se troue met haar eie groot dag te vergelyk. “Alexa was ’n bietjie gestres op die dag, want dinge het nie volgens plan verloop nie. Ek dink so ongelooflik as wat ’n televisietroue is, is dit soveel harde werk dat ek my eie troue ’n bietjie meer geniet het.”

Alexa se trouring pas haar perfek, wys Carina. Sy dra dit steeds omdat hulle kort voor die onderhoud nog besig was om tonele te verfilm. 

Vir die TV-egpaar lyk hul toekoms opwindend.

“Ek dink dit was interessant om te sien hoe albei kulture verken word en hoe die twee kulture bymekaar kom,” sê Carina. “Ek dink dit is baie spesiaal.”

Dan glimlag sy weer vir haar TV-bruidegom, en hy straal ook in haar rigting – nes ou getroudes. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe