Waaroor gaan dit?

Die reeks, wat op 1 Oktober op kykNET & kie begin, speel af op Arendsvlei, ’n fiktiewe plek op die Kaapse Vlakte.

Alles wentel om die Hoërskool Arendsvlei, ’n semiprivaat skool op dié dorp. Ná haar pa se dood gebruik Beatrice (Jolene Martin) haar erfgeld om die skool te stig om die gemeenskap se kinders ’n goeie opvoeding teen ’n bekostigbare prys te bied.

View this post on Instagram

Behind-the-scenes met die span van Hoërskool #Arendsvlei @kyknettv ???????????

A post shared by Roberto Kyle (@thatrobertoguy) on

Dié wat weet, verklap kykers kan sommer hope drama verwag, van skandale, verbode liefde en liefdesdriehoeke tot selfs moord.

“Die reeks fokus hoofsaaklik op familie,” sê die kreatiewe vervaardiger, Roberta Durrant. “Dis die storie van ’n broer en suster wat ’n verskil in die gemeenskap wil maak, maar hul lewe word ná ’n skietvoorval onherroeplik verander.”

Waar is dit verfilm?

Die reeks word onder meer by ’n tegniese skool in Eersterivier verfilm. Theltom Masimila, wat al ’n lid van 7de Laan en Suidooster se skrywerspan was, het die teks op 19 as kortverhaal begin skryf. Nou maak dié 25-jarige se skoolverhaal sy debuut op die kassie.

Wie's wie?

Hier is van die bekende gesigte wat in die reeks te sien is.

Die groot kokkedoor

Jolene Martin, Jade in Getroud met Rugby, speel Beatrice, die adjunkhoof en mede-eienaar van die Hoërskool Arendsvlei.

Deur die skool te stig wil Beatrice graag ’n positiewe bydrae tot die gemeenskap lewer, maar sy worstel terselfdertyd met haar eie probleme.

Jolene Martin. Foto: Verskaf.

Die skoolhoof

Oscar Petersen van Joe Barber speel Beatrice se man, David, die narsistiese skoolhoof. Dié wil net status en mag najaag.

Hul dogter, Samantha (Maria Valente), is die hoofmeisie en gee veral haar ma slapelose nagte.

Oscar Petersen. Foto: Verskaf.

Ma en seun

Die oud-7de Laner Melanie du Bois speel die onnie en aspirant-aktrise/dramaturg Ronel wat met haar seun, Lee-Roy (Knapsekêrels se Roberto Kyle), van Clanwilliam na Arendsvlei verhuis.

Lee-Roy is by sy vorige skool geboelie. By sy nuwe skool ervaar hy ook uitdagings, wat ’n liefdesdriehoek insluit.

Sy ma is bevriend met die adjunkhoof, Beatrice.

Die magsbehepte ma

Crystal-Donna Roberts, wat onlangs in die sitkom Mense Mense en die fliek Krotoa te sien was, is ’n ma wat na aanvaarding en status in die gemeenskap smag.

Sy sal enigiets doen om haar gesin te bevorder. Maar sal haar huwelik bly staan?

Crystal-Donna Roberts. Foto: Verskaf.

Die skoolsekretaris

Die Black Sails-akteur Ernest St. Clair is die sexy skoolsekretaris, Christopher, wat op ’n personeellid verlief raak. Maar dit kan hom sy werk kos.

Ernest St. Clair. Foto: Verskaf.

Die 'biker'

Die bekende akteur Jody Abrahams speel Lionel, ’n biker met ’n voorliefde vir bier, vroue en die langpad.

Hy trek van Clanwilliam om by sy gesin in Arendsvlei te wees, maar het ook ander duister motiewe.

Jody Abrahams. Foto: Verskaf.

Medeskooleienaar

Sherman Pharo, Ismail van Suidooster, speel Beatrice se broer, Thys, wat saam met haar die skool besit.

Hy’s ’n wiskundeonnie en liefdevolle gesinsman en word selde sonder sy kitaar gesien.

Sherman Pharo. Foto: Verskaf.

Die matriarg

Celeste Matthews, wat ons laat skater het as die skoonma Neesha in die sitkom Vinkel en Koljander, vertolk die rol van Antie Gertie, die matriarg van die Cupido-familie.

Sy wil haar familie op die regte pad lei en maak weer haar hart oop vir liefde.

Celeste Matthews. Foto: Verskaf.

Die antagonis

Die bekroonde aktrise Rehane Abrahams van Die Allemans speel die antagonis, Wendy.

Dié is ’n geldskieter en eienares van die plaaslike restaurant, Die WendyHouse.

Sy koester ’n groot geheim oor haar verlede en soek wraak.

Rehane Abrahams. Foto: Verskaf.

Die gewilde een

Kay Smith, wat Errol se liefie Tarryn in 7de Laan gespeel het, speel Wendy se dogter – ’n hardwerkende, gewilde en uitgesproke gr. 11-leerder.

Kay Smith. Foto: Verskaf.

156
Soveel episodes van Arendsvlei sal uitgesaai word. Die reeks eindig in September 2019.
kykNET & Kie | Maandae tot Woensdae om 20:00.